Die belangrikheid van speel in  Vroeëkinderontwikkeling en die Grondslagfase

deur Marietjie Havenga

Onderwysspesialis: SOS

Die hedendaagse samelewing is geneig om akademiese prestasie en formele leer  met mekaar te verbind, maar navorsing en praktyk wys keer op keer dat speel ‘n kragtige en noodsaaklike leermetode is, veral in Vroeëkinderontwikkeling en die Grondslagfase. Spelgebaseerde leer hou die kinders aktief besig en betrokke in die leerproses. Spelgebaseerde leer is interaktief en daarom het dit ‘n direkte impak op die ontwikkeling van die kinders se taalvaardighede, sosiale en emosionele intelligensies.

Stasierotasies maak leer deur speel moontlik in die Grondslagfase

In die Grondslagfase vind leer steeds deur speel plaas. Spelgebaseerde leer is moontlik ten spyte van ‘n vol kurrikulum, omdat dit gedurende stasierotasies kan plaasvind. Stasierotasies is wanneer 2-6 kinders saam ‘n opvoedkundige speletjie speel of werk doen en tussen die stasies roteer om sodoende al die uitkomste van die les te behaal. Speel is ‘n natuurlike wyse waarop kinders spontaan kan eksperimenteer en ontdek. Deur konstruksiespel kan hulle byvoorbeeld leer oor balans, gravitasie en ruimtelike oriëntasie. Hierdie eksperimentele leer help kinders om konsepte te internaliseer en hulle begrip daarvoor op ‘n spelenderwyse te ontwikkel.

Fantasiespel ontwikkel kinders se kreatiwiteit en probleemoplossingsvaardighede. Rolspel help kinders om sosiale rolle en norme te verstaan en hulle leer om oplossings vir alledaagse probleme te vind deurdat die karakter wat hulle vertolk, oplossings vir hulle probleme vind en uitleef. Dit leer hulle hoe om in verskillende situasies op te tree en empatie vir ander te ontwikkel. Speletjies soos legkaarte of bordspeletjies bevorder kognitiewe vaardighede wat die geheue, aandagspan, en logiese denke insluit. As ons dit na formele vakke op skool sou omskakel, sien ons dat kinders byvoorbeeld tydens blokspel leer oor geometrie en fisika, wat Wiskunde- en Wetenskapkonsepte is. Verskeie vakgebiede word geïntegreer gedurende speletjies en dit maak die leerervaring sinvol vir die kinders.

Skole soos Solomon Senekal in Viljoenskroon, Hebron in Belville, en HaMakom in Brits gebruik reeds die Skoleondersteuningsentrum se stasierotasie-leermodel suksesvol in die Grondslagfase, om hierdie spelgebaseerde leerbenadering te implementeer, wat positiewe resultate in die kinders se akademiese en persoonlike groei toon.

Speletjies en leer: Hoe speel kinders help om te leer

Speel is pret en kinders hoef nie gedwing te word om by spel betrokke te raak nie. Hierdie intrinsieke motivering maak dat hulle langer aan aktiwiteite deelneem, wat lei tot beter leer en retensie van inligting. Hulle sal makliker ‘n uitdaging of nuwe dinge probeer wanneer hulle speel, omdat foute meer aanvaarbaar is tydens speletjies en hulle daaruit kan leer. Die ontspannende stasierotasie-leermodel help om kinders se stresvlakke te verlaag. Dit ondersteun die holistiese ontwikkeling van kinders deur gelyktydig motoriese, affektiewe en kognitiewe vaardighede te integreer in die leerproses. Formele onderrig fokus dikwels slegs op kognitiewe ontwikkeling, terwyl speel verskeie areas gelyktydig aanspreek.

Die stasierotasie- en, spelgebaseerde leermodel laat kinders toe om teen hul eie pas te leer en ontwikkel. Die kinders word gegroepeer in heterogene groepe, wat beteken dat daar differensiasie is en leer kan by elke kind plaasvind. Die informele leerspeletjies ontwikkel kinders se selfvertroue en deelname. Kinders kan onafhanklik van die onderwyser speel, wat hulle selfstandigheid bevorder. Hulle ontwikkel ‘n liefde vir leer, omdat hulle outonomie het oor die differensiasie van elke speletjie.

Die tasbaarheid en/of multisensoriese leerervarings nooi kinders om aktief betrokke te wees by die leerproses, eerder as om passief inligting te ontvang.

Speletjies is onvoorspelbaar en verander voortdurend. Dit skep ruimte vir verskillende intelligensies en voorkeure om op gedifferensieerde vlakke te kan leer. Die speletjies kan maklik aangepas word om aan die behoeftes van elke kind te voldoen. Formele strukture is rigied en minder aanpasbaar, wat differensiasie, intervensie en verryking meer uitdagend maak.

Speel bevorder belangrike sosiale vaardighede wat ook deel vorm van denkvaardighede, soos kommunikasie, samewerking, en probleemoplossing (en/of konflikhantering). Kinders leer om mededeelsaam te wees, om beurte te maak en in groepsverband te werk. Hierdie vaardighede is noodsaaklik vir sukses in beide skool en die volwasse lewe.

Ter samevatting – leer deur speel is ‘n kragtige en natuurlike metode van leer vir jong kinders. Hulle natuurlike nuuskierigheid en energie kan optimaal benut word tot voordeel van leer. Ouers en opvoeders moet die krag van speel erken en spelgebaseerde leer in ons onderwysstelsels integreer en benut tot voordeel van ons kinders.

Speel

Tags

Skoleondersteuningsentrum, SOS


Lees meer...