Deur proefkonyn Celeste Labuschagne – Dosent: Wolkskool
Inleiding
Ná die uitbreking van Covid-19 en die instelling van die nasionale inperking het soveel mense gesê dat dit voel asof hulle in ‘n wetenskapsfiksie-rolprent is.
As oud-Fisiese Wetenskaponderwyser en ma van ‘n graad 9-leerder, het dit gevoel asof ek, my kind en alle ander rolspelers in ‘n surrealistiese eksperiment beland het…
Die besef het tot my deurgedring dat leerders met die hulp van aanlyn hulpmiddels soos Die Wolkskool, en met die nodige ondersteuning nie onderrigtyd hoef te verloor nie.
Ek gee vervolgens ‘n oorsig van my belewenis van die gebeure op onderriggebied tydens inperking, in die vorm van ‘n wetenskaplike verslag – ons is mos nou deel van die eksperiment! Sit agteroor en beleef dit saam met my, die slotsom mag u dalk net verras!
Agtergrond en Probleemstelling
Die uitbraak van Covid-19 veroorsaak dat skole vroeg sluit vir die eerste kwartaal. Tien skooldae gaan aanvanklike verlore. Op 9 April kondig President Cyril Ramaphosa egter ‘n verlenging aan van die nasionale inperking aan en in ‘n oogwink verander alle onderriginstellings in Suid-Afrika se planne.
Skole moet herbesin oor onderrigtyd en kontaktyd met leerders. Onderwysers moet skielik uit hul gemaksones beweeg en planne beraam om gereed te wees om onderrigmateriaal en ondersteuning aan leerders te verskaf wanneer 14 April aanbreek.
Skielik bevind Suid-Afrikaanse onderwysers, leerders en ouers hulle kniediep in die Vierde Industriële Revolusie.
Was ons gereed? Hierdie eksperiment moet die antwoord gee.
Ons moet in hierdie eksperiment eerstens duidelikheid hê oor die veranderlikes
Konstante veranderlike: KABV-sillabus (Ons moet hierdeur worstel al is kenners van mening dat die sillabus oorvol is.)
Onafhanklike veranderlike: Metode van oordrag van leermateriaal aan leerders. (Metode van keuse in dié geval is aanlyn onderrig en ondersteuning.)
Afhanklike veranderlike: Leer wat plaasvind by leerders.
Hipotese: Die hipotese sal wees dat die KABV-sillabus (die hele sillabus) suksesvol afgehandel kan word deur gebruik te maak van die aanlyn metodes van oordrag van leermateriaal tot ons beskikking, en dat leer suksesvol sal plaasvind by leerders.
Apparaat
(Onthou, ons is in die Vierde Industriële revolusie gedompel!)
- Slimfoon, tablet, skootrekenaar of rekenaar.
- Data: in die vorm van selfoondata, Wi-Fi of vesellyn.
- Leerders – wat almal mos tegnologies aangelê is.
- Onderwyser en/of oudonderwyser en/of ekstraklas-onderwyser. (Vervolgens slegs onderwyser genoem)
- Zoom vir aangesig tot aangesig gesprekke.
- WhatsApp (Vir vinnige kommunikasie met leerders en opdragte)
- Google Forms vir die opstel van assesserings om terugvoer te kry oor of leer plaasgevind het by leerders of nie.
- (Die Wolkskool gaan binnekort hierdie funksie verrig, maar ten tyde van hierdie eksperiment was die funksionaliteit nog nie beskikbaar nie.)
Toegang vir leerders tot Die Wolkskool wat die volgende insluit:
- Video’s oor die vakinhoud (volgens KABV).
- Werkboek wat afgelaai kan word en saam met video’s op Die Wolkskool gebruik kan word.
- Werkkaarte (In die werkboek)
- Antwoordboek wat afgelaai kan word en die antwoorde vir werkkaarte bevat.
- Assesserings oor vakinhoud wat in video’s behandel word.
Metode
- Neem een onderwyser toegerus met Zoom.
- Die onderwyser kommunikeer met leerders via WhatsApp en gee inligting deur aangaande watter video’s op Die Wolkskool leerders moet gaan kyk. Inligting aangaande watter werkkaarte gedoen moet word, word ook via WhatsApp gekommunikeer.
- Die onderwyser skeduleer op Zoom ‘n sessie vir ‘n bepaalde tyd die volgende dag. Teen daardie tyd moet leerders deur die video’s gekyk het en ook die vrae beantwoord het wat in die werkkaarte gevra is.
- Tydens die Zoomsessie word die inhoud van video’s bespreek en probleme wat ondervind is tydens die uitwerk van werkkaarte word bespreek en opgelos.
- Na ‘n afdeling afgehandel is, gee die onderwyser ‘n uiteensetting van werk wat afgehandel is en wat via ‘n aanlyn toets wat met Google Forms opgestel is, getoets gaan word.
- Die onderwyser skeduleer ‘n datum vir die toets en die skakel na die toets word op die gegewe datum aan leerders via e-pos of WhatsApp versprei.
- Google Forms vorder die uitslae van die summatiewe toets in en die onderwyser kan sien waar leerders nog sukkel en waar nie.
- Hierdie sewe (7) stappe word herhaal, leerders hou by met skoolwerk en die tyd wat verlore sou gaan word verhaal.
Resultate (Dit sou nie ‘n eksperiment wees sonder resultate nie.)
Aangesien hierdie ‘n surrealistiese eksperiment is, gaan die resultate nie alledaags wees nie.
Die resultate sien as volg daar uit:
- Aangesien leerders nie gewoond is aan die nuwe manier van onderrig nie, tel ek ‘n onsekerheid onder leerders op.
- Onder sommige ouers van die leerders wat by die groep betrokke is, bespeur ek wantroue in die proses. Dit is te verstane want ons is nog gewoond dat ons kinders op die ou manier onderrig word. Hulle het ekstra klasse in elke vak sodat inligting nog verder met ‘n teelepel ingegee kan word want…dit is mos op die ou einde slegs die toetspunte wat werklik tel!
- Tydens aanlyn Zoomsessies, wat nie in die vorm van ‘n tradisionele lesing deur die onderwyser plaasvind nie, kom mens agter dat sommige leerders nie eers die moeite gedoen het om die video te kyk wat hulle die vorige dag moes kyk nie. Hulle gaan mos nou in elke geval alles weer hoor. (Toe nou nie.)
- Werkkaarte wat ingegee moet word via e-pos op WhatsApp maak dit nie tot by my vir nasien nie. Sommige leerders doen dit en handig in, ander doen die werkkaart maar vergeet om dit in te handig en ander los dit sommer net. Dit tel mos nie punte nie!
- Leerders vra nie vrae nie. Ten spyte van vele vertoë wat gerig word, is daar dalk een of twee leerders wat vrae vra. Die ander swyg soos die graf (netnou klink hulle dom).
- Leerders se data raak op. Aangesien data in SA geweldig duur is, kan hulle nie noodwendig dadelik weer data aankoop nie en mis hulle vir ‘n tyd sekere opdragte – gelukkig kan hulle dit later weer opvang danksy tegnologie.
- Diensverskaffing van Wi-Fi in SA veroorsaak dat sekere leerders sommige dae nie die Zoomsessies kan bywoon nie of halfpad verlore gaan aangesien die sein net verdwyn!
- Sekere leerders volhard en ander verdwyn!
- Toetspunte lyk nie vir alle leerders waffers nie, maar is dit regtig die belangrikste? Tradisioneel is dit al wat tel ja, maar onthou, ons is in die Vierde Industriële Revolusie!
- Ouers maak opmerkings op Facebook dat ‘n rekenaar nooit ‘n onderwyser kan vervang nie (en hulle is nie verkeerd nie).
Gevolgtrekking
Soos in ‘n goeie wetenskaplike verslag gaan ek my “gevolgtrekking” uit die resultate hierbo maak. Dit klink as volg:
Uit die resultate van die eksperiment blyk dit dat die hipotese verkeerd was. Dit is duidelik uit die feit dat data en Wi-Fi struikelblokke is en dat aanlyn onderrig daarom nie suksesvol kon plaasvind nie.
Die toetsuitslae van leerders wys duidelik dat leer nie suksesvol plaasgevind het nie, want leerders kon nie die feite klakkeloos weergee nie.
Die KABV-sillabus gaan dus nie suksesvol met leerders afgehandel kan word indien skole nou weer oopmaak nie.
Is dit regtig die geval? Is die situasie werklik so negatief?
Die antwoord is ‘n onomwonde, nee.
Skole, onderwysers, leerders en ouers was dalk onverhoeds betrap deur die situasie waarin Covid-19 ons gedompel het, maar die situasie is nie hopeloos nie!
Oral het skole, onderwysers, leerders en ouers skielik nuwe vaardighede aangeleer! Koppe het geswaai in die rigting van tegnologie en dinge nuut doen. Klavierlesse, balletklasse en skoolvakke word skielik aanlyn aangebied. Dalk nie sonder groeipyne nie, maar dit is ‘n begin.
Sommige onderwysers het aan leerders net ‘n spul PDF-lesse en antwoorde gelaai op ‘n leerbestuurstelsel en die leerders aan hul lot oorgelaat. Dit is nie die regte metode nie, maar die onderwyser kan hierop voortbou deur hom- of haarself te skool in platforms soos Playposit, Google Classroom of Explain Everything. Daar is gratis kursusse wat tans aangebied word op vele portale wat onderwysers verder kan toerus. Onderwysers moet net die geleenthede aangryp.
‘n Rekenaar kan nooit ‘n onderwyser vervang nie. ‘n Onderwyser gaan altyd nodig wees vir ondersteuning en hulp, maar die rol van die onderwyser het danksy Covid-19 permanent verander en ons moet dit besef.
Ons is almal uit ons gemaksones geruk en ‘n geleentheid gegee om nou ‘n kopskuif te maak. Weg van tradisionele klasse en toetse.
Ons het nou die geleentheid om leerders selfwerksaamheid te leer en om krities te kan dink. Daar is nou die geleentheid om leerders te leer om onafhanklik van die onderwyser ondersoek in te stel en saamwerksaamheid met ander leerders te beoefen.
Ouers moet nou die geleentheid gebruik om hulleself te vergewis van wat van ‘n leerder en ouer in die nuwe bedeling verwag word, want ook daardie rolle het nou vir altyd verander.
Al die antwoorde gaan ons nie nou in pag hê nie, maar daar is ‘n paar dinge wat ouers, kinders en onderwysers kan doen – selfs al maak die skole nou weer oop.
Eerstens moet ons besef dat dinge nooit weer “normaal” gaan wees nie, maar dat ons ‘n nuwe era betree het. Ons moet dus dienooreenkomstig aanpas. Elkeen het ook ’n nuwe verantwoordelikheid.
Tweedens moet onderwysers, wanneer almal weer kan terugkeer skool toe, nie terugval op ou weë nie. Moenie net weer terugval op die tradisionele patroon van klas gee, huiswerk gee en toetse skryf nie.
Maak nou van die kans gebruik om nuut te dink en doen navorsing oor platforms wat jy as onderwyser kan gebruik om meer en meer na ‘n vervlegte leermodel te beweeg. Gebruik aanlyn platforms soos Die Wolkskool en laat leerders die video’s oor ‘n sekere tema gaan kyk by die huis. Die volgende dag kan jy ‘n werkkaart in die klas gee oor daardie onderwerp vir klaswerk en terwyl die sterker leerders vinnig deur die werkkaart werk, maak dit vir jou tyd beskikbaar om met leerders wat bietjie meer sukkel remediërend te werk. Gee aan die sterker leerder die geleentheid om dalk die volgende video oor die onderwerp in die klas op ‘n selfoon te kyk met oorfone sodat niemand gepla word nie en dalk solank ‘n aanlyn assessering te voltooi. Op die manier ondervang jy die sterker en die swakker leerder. Die sterker leerders raak nie verveeld nie en die swakker leerders raak nie moedeloos nie.
Gaan speel op ‘n platform soos Google Classroom, Explain Everything, Flipgrid of Eduposit. Kyk watter een werk vir jou die beste en begin om jou huiswerk en opdragte aan leerders via hierdie platforms te versprei.
Doen navorsing oor platforms soos Zoom, Microsoft Teams en Google Hangouts. Kry een wat vir jou en jou leerders die beste werk en gebruik dit een of twee keer per week. Op dié manier pas jy nie net aan by die nuwe manier van klas gee nie, maar jy kry leerders gereed om hierdie uitdagings treetjie vir treetjie te bowe te kom.
Derdens moet skole en onderwysers ook ouers ondersteun en inlig aangaande nuwe metodes van onderrig. Ouers moet van hulle kant af skole en onderwysers vertrou en weet dat hulle die beste vir leerders sal en wil gee in hierdie nuwe situasie waarin almal hulle bevind.
Die gebeure van die afgelope maande kan vir altyd gesien word as ‘n ramp of ons kan kies om dit te sien as ‘n geleentheid wat ons gegun was om nuwe metodes en idees te beproef.
Voor Covid-19 en inperking was niemand gereed vir die Vierde Industriële Revolusie nie. In twee maande het ouers, onderwysers en kinders met rasse skrede gevorder. Nou moet ons net aanhou en uithou. ‘n Nuwe opwindende deel van die geskiedenis van onderrig het begin en ons is bevoorreg om deel daarvan te wees!
Terwyl ons die visionêre leiers van die GRA uit 1875 eer, staan GeRAT vandag as ‘n simbool van daardie erfenis, waar ons passie vir Afrikaans en sy kultuur voortduur. Deur op hierdie geskiedenis te bou, aanvaar ons die plig om die hart van Afrikaans vir toekomstige generasies te bewaar en te versterk en, 145 jaar later, bly ons standvastig en toegewyd aan die taal en kultuur wat ons so liefhet.