Die effektiewe Wiskunde-klaskamer

2021-02-02

deur Johan Koekemoer

Hoof van die VAW: SOS

As onderwyser kry ʼn mens selde die geleentheid om oor jou eie onderrig-praktyke na te dink. Terwyl ons weet dat ons tekortkominge in ons praktyke het, weet ons nie noodwendig waar of hoekom nie. Onderwysers en veral Wiskunde-onderwysers is krities op hulself en is altyd op soek na beter of ander maniere om kennis oor te dra.

Daar is drie baie eenvoudige vrae wat ons as Wiskunde-onderwysers onsself aan die einde van elke skooldag kan vra, sou ons bietjie introspeksie wou doen:

  1. Erken ek dat die leerders voor my werklik diverse entiteite is? Diversiteit in dié konteks verwys nie na diverse etniese of kulturele groepe nie. Diversiteit in denke is in die Wiskunde-klas van belang. Met ander woorde: is daar genoeg ruimte in my les om diverse denke te akkommodeer en aan te moedig. Of het ek al so rigied in my onderrigstyl geraak dat daar slegs ruimte vir my manier van dink, is? Dit sal uiteindelik nie tot onderrig lei nie, maar tot onderdrukking van kreatiewe denke.
  2. Stimuleer ek leer deur my leerders uit te daag om net die beste van hulle te verwag? Dink aan die Mattheus-effek – die rykes word ryker en die armes armer en hoe dÍt in die Wiskundeklas relevant is. Soms weerhou ons komplekse probleme van ons leerders omdat ons weet dat nie almal sodanige Wiskunde-probleme sal kan oplos nie. Ons koop te maklik op die idee in dat Wiskunde oor die skryf van antwoorde handel in plaas daarvan om met probleme te stoei. Indien ons ons leerders slegs aan eenvoudige probleme blootstel, sal dit leerders se vermoë om te dink en te redeneer beperk en uiteindelik versmoor. Vra deurentyd uitdagende vrae en prys leerders se deelname aan die denkproses, in plaas daarvan om die oplossings net dadelik te gee.
  3. Modelleer ek die tipe gedrag wat ek van my leerders verwag? Daar is onderwysers wat nooit professionele ontwikkelingsgeleenthede bywoon nie omdat hulle te geredelik argumenteer dat eie ervaring genoegsaam is. Die tyd wat heelwat onderwysers aan voorbereiding bestee, is dikwels minimaal. Dikwels is daar min sigbare tekens van 21 ste eeuse onderrigvaardighede te bespeur. Met so ’n ingesteldheid sê jy eintlik vir jou leerders dat dit nie “die leerproses” is wat belangrik is nie, maar die uitkomste. Dié ingesteldheid rem leerders om aan te hou stoei en deur te druk met probleemvrae in ʼn soeke na oplossings. Die tipe onderwysers is ook geneig om “sogenaamd vlekloos” voor hul leerders op te tree. Hulle doen elke voorbeeld presies reg en maak nooit foute nie. Nié omdat hul die inhoud 100% ken nie, maar omdat hul dieselfde voorbeeldesomme al 15 jaar lank herhaal. Die idee word hierdeur by leerders geskep dat  ʼn mens net aan Wiskunde kan deelneem indien jy alle probleme dadelik kan oplos.

Uit die aard van die saak is daar ’n string ander vrae wat jy as onderwyser vir jouself moet afvra, maar ek dink dié drie vrae behoort heel bo-aan jou lysie te wees Dit is vrae wat antwoorde gee op die groter vraag: “Het ek vandag my roeping uitgeleef?”

Gesels met ons

>