Die Gautengse departement van onderwys versuim sy plig teenoor skole wat skoolgeld hef

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) doen ‘n beroep op die Gautengse departement van onderwys om openbare skole behoorlik te vergoed vir miljoene rande se skoolfonds wat jaarliks kwytgeskeld word.

Die SOS verwelkom die Wes-Kaapse departement van onderwys se aangekondig gister dat hulle R55 miljoen begroot het om openbare skole te vergoed vir skoolgeld wat die afgelope jaar kwytgeskeld is. Dié bedrag is R5 miljoen meer as verlede jaar en genoeg om 97% van die 575 Wes-Kaapse skole wat skoolgeld vra, te vergoed vir die geld wat hulle kwytgeskeld het.

In teenstelling hiermee, het die Gautengse departement van onderwys verlede jaar ‘n skamele 2% (R13 miljoen) van meer as R600 miljoen se skoolgeld wat 530 openbare skole in dié provinsie kwytgeskeld het, terugbetaal. Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het geen melding gemaak van enige vergoeding aan skoolgeld-heffende skole in sy 2018/19 begrotingsrede nie.

Die Skolewet maak voorsiening vir leerlinge in openbare skole wat nie skoolfonds kan bekostig nie. Volgens wet mag skole nie hierdie kinders weier nie. Skole is veronderstel om die bedrag wat hulle kwytskeld, te kan terugeis vanaf die provinsiale departement. Slegs 13% van skole in Suid-Afrika hef skoolgeld.

Melanie Buys, onderwysspesialis verbonde aan die SOS, sê Gautengse skole wat wel skoolgeld hef, trek ongelooflik swaar weens die regering se versuim om hulle behoorlik te vergoed vir die kwytskelding van skoolgeld.

“Dit is grotendeels danksy dié skole dat Gauteng die afgelope jare ‘n 85% matriekslaagsyfer behaal het. Ouers betaal vir bykomende onderwysers en hulpbronne om gehalte onderwys te verseker, maar die departement bring nie hulle kant om hierdie skole behoorlik te ondersteun nie.”

Buys sê omdat skole jaarliks derduisende rande verloor weens kwytskelding van skoolgeld, neem skoolfonds jaarliks met meer as inflasie toe.

“Van die skole in Pretoria en Johannesburg se skoolfonds styg volgende jaar met 10%. Ouers wat wel kan bekostig om skoolfonds te betaal, moet nou ook ander ouers se kostes dra. Dit is onbillik, aangesien hierdie ouers ook reeds belasting betaal ten einde basiese onderwys in Suid-Afrika te befonds,” sê Buys.

Lesufi beklemtoon in sy begrotingstoespraak vroeër vanjaar, dat 426 townshipskole tot dusver met slimborde en tablette toegerus is, ten einde skole in staat te stel om inligtingstegnologie deel te maak van leerlinge se leerervaring. “Die SOS stem saam dat dit belangrik is om tegnologie te integreer met onderwys en het self verskeie inisiatiewe in plek om tegnologie in die klaskamer te implimenteer. Lesufi verwag egter van skole wat skoolgeld hef, om self hierdie toerusting te finansier, wat verdere druk op begrotings plaas,” sê Buys.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.