fbpx

Die geraas in ons kop

deur Sarina Prinsloo, Skakelbeampte: SOS

woman 1733891 1280

Onderwys is ‘n lonende maar veeleisende loopbaan. Met lang ure en ‘n hewige werklading, word opvoeders maklik die slagoffers van hulle eie perfeksionisme en laat daarom nie genoeg tyd vir rus en herstel nie. Sonder behoorlike ondersteuning, loop hulle die gevaar dat hulle te veel werk en nie aan hul geestelike en fisieke gesondheidsbehoeftes aandag gee nie.

Dit gebeur al hoe meer dat ‘n mens hoor hoe iemand kla dat hulle oorweldig voel, emosioneel gedreineer is en nie meer kans sien vir die konstante eise van elke dag nie. Dit gaan baiekeer gepaard met irritasie, slapeloosheid en ʼn gevoel van moedeloosheid.

Die webwerf Psychology Today beskryf uitbranding as ‘n toestand van chroniese spanning. Dit lei tot liggaamlike en emosionele uitputting, sinisme, gevoelens van ondoeltreffendheid en gebrek aan prestasie.

Ware uitbranding behels meer as om net moeg of oorweldig te voel en dit kan ook tot ernstige depressie lei. Dit is daarom uiters belangrik om waaksaam te wees oor waarskuwingstekens. Die goeie nuus is dat dit wel omkeerbaar en boonop voorkombaar is.

Rooi ligte

1200px Achtung.svg

Die aangehoue gejaag van elke dag laat ‘n mens selde toe om voorkomend op te tree. Rooi ligte begin gewoonlik eers flikker wanneer die hoeveelste sinlose geveg met ʼn kollega of gade die trane laat vloei of wanneer ʼn goeie vriend of vriendin uitwys dat jy ongewoon huilerig, irrasionaal of teruggetrokke is. Mense wat uitbranding ervaar, ervaar hul ook hul werksomstandighede as al hoe meer stresvol en frustrerend. Hulle distansieer hulleself dikwels ook emosioneel van ander en ervaar daarmee saam ʼn afname in produktiwiteit.

Ander simptome sluit in:

  • Chroniese moegheid en afname in konsentrasievermoë
  • Verlies van lewensgenot
  • Pessimisme
  • Skuldgevoelens
  • Woede (kan met aanvanklike irritasie begin en lei tot uitbarstings)
  • Angs (vererger met tyd tot so ʼn mate dat dit jou werk en persoonlike lewe beïnvloed)
  • Vatbaarheid vir siektes (verkoues, griep en ander immuunverwante siektes) is groter omdat jou liggaam uitgeput is en jou immuunstelsel daarom ook verswak
  • Fisieke simptome (hoofpyne, duiseligheid, hartkloppings)
  • Vergeetagtigheid

Uitbranding kan langtermyn gevolge inhou vir jou algemene gesondheid sou dit nie aangespreek word nie en kan van drie weke tot ‘n jaar nodig hê om te herstel.

Hoe om uitbranding te voorkom

candle 2909300 640

As onderwyser “gee en gee” jy gedurig. Jy gee geleenthede, idees, kennis en leiding aan leerders. Dit kan jy nie doen as jy fisies en emosioneel gedreineer is nie. Sorg vir jou eie behoeftes, balanseer jou lewe vir optimale gesondheid en kyk gereeld na jou geestelike welstand. Dit is nie ʼn erkenning van swakheid om by ‘n geneesheer, berader of ander kenner om hulp aan te klop nie. Daar is verskeie hulpmiddels wat jy sélf ook kan gebruik om uitbranding teë te werk.

“Mindfulness”, oftewel bewustheid, is een so ʼn hulpmiddel. Bewustheid is nie net ‘n nuwerwetse gonswoord nie. Dit is veel meer, en as jy dit Google, sal jy duisende webblaaie daaroor vind. Dit help al eeue lank om mense se besige denke en lewens rustiger te maak. Bewustheid is ‘n manier om in elke oomblik te lééf. Om só in die oomblik te leef, is ‘n erkende en bewyse-gebaseerde leefstyl en word aanbeveel vir diegene wat sukkel met angs en spanning in hul daaglikse lewe.

Jon Kabat Zinn

Jon Kabat-Zinn, die stigter van die Centre for Mindfulness aan die University of Massachusetts Medical School, sê die beste manier om oomblikke vas te lê, is om aandag te gee. “Dit is hoe ons bewustheid kweek.”

Ons sukkel egter almal om so te leef. Ons lê wakker soos wat ons ons oor die toekoms bekommer óf ons wens ons kan iets in die verlede herleef of verander. Om in die hede te leef, maak ons onseker en dit veroorsaak angs. Om so te leef, beteken heel waarskynlik ook dat ons ʼn hele paar slegte gewoontes sal moet afleer. As ons so vasgevang is deur ons oortuigings en bekommernisse van die verlede, vergeet ons om werklik te lééf. Ons reageer in werklikheid net op gebeure.

Wanneer ons kies om bewustelik te leef, ignoreer of ontken ons nie gedagtes oor die verlede of toekoms nie, ons kies bloot om ons nie konstant daaroor te bekommer nie. Dit is goed om ons gedagtes oor die verlede en oor die toekoms te erken, dit te kategoriseer en bewus te wees van die belangrikheid daarvan. Die goue middeweg is om nie toe te laat om deur die verlede of toekoms weggevoer te word nie.

Begin vandag nog om meer bewus oor jou omstandighede te wees deur aan te sluit by ’n ontspanningsaktiwiteit of ʼn joernaal daaroor te begin byhou. Gaan stap iewers in die natuur of lees ʼn boek oor dié interessante onderwerp van bewustheid. Kom ons maak die geraas in ons koppe so ʼn bietjie stiller en gee die nodige aandag aan die belangrikste persoon in jou lewe … jy!

girl 3551152 1280

Let wel: Hierdie blog is slegs vir inligting en opvoedkundige doeleindes en moet nie as terapie of enige vorm van behandeling beskou word nie. As jy dink dat jy onmiddellike hulp nodig het, kontak asseblief u plaaslike dokter/ sielkundige/psigiater of die SADAG Geestesgesondheidhulplyn op 011 234 4837. Indien nodig, kontak asseblief die Selfmoordkrisislyn by 0800 567 567 of sms 31393.

Bronne:

Definisie Van Bewustheid (Mindfulness): 8 Dinge Wat Bewustheid Nie Is Nie.

How to Live in the Present Moment: 35 Exercises and Tools (+ Quotes)

What Is Mindfulness? Definition + Benefits

Preview


Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
[gravityform id=36 title=false description=false ajax=true tabindex=49]

Tags

balans, behoeftes, bewustheid, emosioneel, gedreineer, gesondheid, mindfulness, onderwys, Skoleondersteuningsentrum, SOS, uitbranding


Lees meer...