Die impak van COVID op matriekuitslae is minder as verwag, maar is dit geloofwaardig?

2022-01-20

Die departement van basiese onderwys (DBO) het vandag die slaagsyfer van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) bekend gemaak. Ten spyte van twee jaar se uitdagings as gevolg van die pandemie, is die DBO se slaagsyfer vanjaar 76,4%. Dit is laer as die 81,3% in 2019 maar effens beter as die nasionale slaagsyfer van 76,2% in 2020.

Verskeie leerders onderskeidings behaal en sommige provinsies se slaagsyfers het drasties verbeter. Volgens die Raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding (Umalusi) was daar ʼn merkbare verbetering in die gehalte van vraestelle. Nietemin is byna helfte van die vakke (28) se punte opwaarts aangepas. Dit werp ongelukkig ʼn skadu oor die beter as verwagte slaagsyfer.

Die 2021-matriekuitslae van die onafhanklike eksamenraad (IEB) en presterende skole, moet opgeweeg word teen die Departement van Basiese Onderwys (DBO) se uitslae wat pas aangekondig is. Die IEB handhaaf die afgelope jare ʼn slaagsyfer van 98%.Deurlopende gehalte-onderwys, ondersteun deur goeie bestuur bly die IEB-skole se resep vir geloofwaardige uitslae – ten spyte van die uitdagings van 2020 en 2021. Hoewel die IEB sowel as die Departement van Basiese Onderwys (DBO) se eksamen deur dieselfde proses gemodereer word, word die geloofwaardigheid van die IEB-assessering hoër geskat. Die IEB maak van gevorderde tegnologie gebruik om die integriteit van eksamens te verseker en word aan baie hoë standaarde gehou.

Suid-Afrika se openbare onderwys huisves duidelik twee uiteenlopende stelsels in een. Ongeveer 10% van skole presteer uitnemend en handhaaf slaagsyfers digby 100%. In 72% van skole gaan leerders egter steeds net nou-en-dan skool en is maande se onderrigtyd verlore. Die gaping tussen suksesvolle en sukkelende openbare skole is beklemtoom deur die pandemie en hoë uitvalsyfers in sommige skole.

Aanpassing van punte en slaagvereistes wat baie laag gestel word, laat die slaagsyfer waarskynlik beter vertoon as wat dit in werklikheid is. Suid-Afrika se swak prestasie in internasionale vergelykende studies wys hierdie ontoereikende standaarde uit. Heelwat leerders slaag matriek, en kry selfs universiteit vrystelling, sonder die nodige kennis en akademiese onderbou om tersiêre studies suksesvol aan te pak.

“Die langtermynskade van verlore onderrigtyd en leerders wat opgee of druip, het ʼn verwoestende invloed op die ekonomie,” sê Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

 “Die DBO se gebrek aan strategie, ongekoördineerde ingrype en min gevolge vir onderpresterende onderwysers in diens van die staat, vererger die probleem. Daar moet dringend ʼn einde aan die ramptoestand kom, sodat alle skole na normaal terugkeer en doelgerig kan werk om verlore onderrig in te haal. Daarom ondersteun ons ook die Solidariteit vakbond wat die minister van samewerkende regering genader het om die ramptoestand op te hef.”

“Die nasionale COVID-19-maatreëls by skole het ʼn wesenlike impak op 2021 se matrieks gehad. Twee jaar van onderbroke onderrig, roterende roosters, gekanselleerde eksamens, aanpassings aan die kurrikulum en beurtkrag op die koop toe, het ongekende uitdagings aan onderwysers en leerders gestel. Hoe daar op hierdie uitdagings reageer is, maak egter die wêreld se verskil in uitslae.

“By sekere skole het COVID egter ook geleenthede geskep. Tegnologie het moontlikhede ontsluit wat voorheen ondenkbaar was. Funksionele skole het aanlyn strategieë in plek gestel en planne gemaak om leerders aan die gang te hou en agterstande reg te stel. Goeie bestuur, toegewyde onderwysers en betrokke ouers het volgehoue prestasie verseker – ten spyte van uitdagings.”

Afrikaanse skole het ʼn tradisie van betrokkenheid en kultuur van uitnemendheid wat weereens duidelik in hul matriekuitslae wys.

Gesels met ons