Die Loopbaankompas is die perfekte eerste Loopbaantree!

deur Paul Maritz, Bestuurder: Solidariteit Jeug & Loopbaanontwikkeling

Toe ‘n jong William Shakespeare aan die einde van die 16de-eeu aan die mense van Stratford-upon-Avon bekend gemaak het dat hy op pad na Londen is om ‘n kans te waag en ‘n loopbaan as skrywer na te jaag, sou baie van die dorpenaars dit vreemd gevind het.  Dit was vreemd juis omdat dit amper by uitstek so was dat ‘n seun presies die beroep sal najaag wat sy pa nagejaag het.  Shakespeare se pa was ‘n suksesvolle handskoenmaker, vir wat wil hierdie jong man dan so ‘n geleentheid deur sy vingers laat glip?

Dinge het wel so effens verander, en in die jaar 2020 sal niemand jou meer vreemd aankyk as jy ‘n ander beroep as jou ouers najaag nie.  Dit is ongelukkig egter nog steeds so dat baie jongmense hul loopbaankeuses op grond van slegte of onvolledige inligting neem.  Kinders neem dalk vakke waarin hulle nie belangstel nie, of waarvoor hulle geen aanleg het nie, omdat al hulle vriende daardie vakke neem, of omdat hulle ouers dit voorstel of voorskryf.  Matrikulante skryf dalk in vir ‘n graad omdat hulle van ‘n spesifieke universiteit hou, of omdat hulle dink dat ‘n spesifieke beroep lekker is, sonder om werklik navorsing daaroor te doen.

Juis omdat hierdie verskynsel van swak inligting so dikwels voorkom, het Solidariteit Jeug dit goedgedink om ‘n Loopbaankompas te ontwikkel – ‘n instrument wat, soos die naam sê, vir jongmense rigting gee in die stormwaters van die loopbaanreis. 

Hierdie Loopbaankompas bestaan uit twee dele.  Die eerste is ‘n gratis toetsie van 190 vrae, bekend as die belangstellingsbepaler, wat vir die jongmens wat dit invul ‘n gratis verslag genereer, wat hul belangstelling aantoon, maar ook ‘n reeks kwalifikasies aandui waarvan iemand met so ‘n belangstellingsveld moontlik sal hou.  Hier word daar alreeds goeie inligting gegee, wat ‘n jongmens na die regte vakkeuses, of selfs na die regte loopbaan kan lei.

Die volgende deel van die Loopbaankompas is die netwerk van bedryfsielkundiges waarmee Solidariteit kontak gemaak het, en waarmee ons ‘n spesiale tarief beding het.  Die gebruiker van die Loopbaankompas kan maar net die area van Suid-Afrika kies waar hulle graag getoets wil word, of aandui dat hulle eerder ʼn aanlyn toets wil aflê, en dan word die kundiges in hul area, of die kundiges wat hul praktyke aanlyn bestuur uitgewys.  So kan die gebruiker van die Loopbaankompas goeie en betroubare loopbaaninligting bekom, sonder moeite, sonder om lank te moet soek na bedryfsielkundiges of hul praktyke.

Ons hoop dat hierdie instrument jongmense met kennis kan bemagtig.  Uiteindelik is daar in Suid-Afrika min gekwalifiseerdes, en binne die Afrikaner-kultuurgemeenskap is daar maar ‘n handjievol werkende mense – elkeen van ons moet so produktief as moontlik wees as ons die veranderende wêreld, en die uitdagings en geleenthede van die vierde nywerheidsrewolusie gaan oorleef, of gaan aangryp.

Voltooi die Loopbaankompas vandag nog, klik op die onderstaande skakel, skep ‘n gratis profiel, en spring weg:

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.