Charlotte Fourie
Projekbestuurder: SOS
Ek was onlangs by ‘n inligtingsaand vir ouers – my eerstelinge begin volgende jaar hul skoolloopbaan in ‘n enkelmedium Afrikaanse openbare laerskool (een van die ongeveer 880 in Suid-Afrika wat nog bestaan). “Hierdie skool is Afrikaans en sal Afrikaans bly”, verseker die jong skoolhoof ‘n saal vol opgewonde ouers. “Vir hoe lank, meneer?” het ek stilletjies agter in die saal gewonder terwyl ek 1996-koerantuitknipsels in Google se argiewe fynkam.
“Afrikaans-medium schools have nothing to fear in the new South Africa, says Education Minister Sibusiso Bengu.” Só lui die inleiding van ‘n uitknipsel van 4 Maart 1996 wat my oog eerste gevang het. Ek lees toe gretig verder: Bengu sê dat ten spyte van die stygende gety van ontnugtering en angs onder Afrikaanssprekende gemeenskappe in 1996 dat “the new government wanted to reassure the Afrikaans-speaking community that it had nothing to fear from the new, non-racial education system. He said the language policy in any particular public school ought to be determined in consultation between the governing body of the school and the provincial authorities concerned.”
In 1996 was ek maar net ‘n kind van een van daardie angstige ouers, maar in 2023 is dit ons generasie se beurt om opnuut angstig te wees, want BELA[1] se tragiese bepalings wil nou juis die taalbeleid van openbare skole uit die hande van beheerliggame ruk. Selfs al is die staat onsuksesvol om BELA deur te voer, lyk die prentjie vir Afrikaans in openbare skole, alles behalwe rooskleurig. Vandag kan ons maar net angstig giggel oor Bengu se destydse uitlatings terwyl ons probeer opgewonde bly oor die begin van ons kinders se onsekere skoolloopbane. “Hoe lank nog Afrikaans, meneer?”
In 2021, 25 jaar na Bengu se poging om Afrikaanssprekendes gerus te stel, was slegs 1 303 van die ongeveer 25 000 skole in die land nog Afrikaanse enkelmediumskole – 15% minder as in 2012 toe daar 1 531 was[2]. Die Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika vorm ʼn beskeie deel van die totale bevolking. As gevolg hiervan, maar ook as gevolg van politieke druk om toegang tot goeie onderwys vir kinders van alle bevolkingsgroepe te verseker en ‘n groot tekort aan funksionele skole, ervaar Afrikaanse openbare skole geweldig baie druk om te verengels. Dít is glad nie gerusstellend vir ‘n ouer wie se kinders oor 12 jaar van nou af steeds besig gaan wees met skool nie.
Daar is lig aan die einde van ‘n ánder tonnel
Is daar nog ‘n toekoms vir Afrikaanse openbare skole? Ja, daar is ‘n toekoms vir sommige Afrikaanse openbare skole in sommige gemeenskappe wat met slim planne die druk van die staat kan weerstaan, maar in die meeste gemeenskappe loop die uurglas van Afrikaanse openbare skole teen ‘n snelle spoed leeg. Daar is egter lig aan die einde van ‘n ánder tonnel, want tussen 2012 en 2021 het die getal Afrikaanse onafhanklike skole met 22% vermeerder. Onafhanklike, selfstandige skole in elke gemeenskap wat Christelike onderrig van gehalte in Afrikaans bied en deur die gemeenskap besit en bestuur word, kan sekerlik met meer sekerheid verklaar dat hierdie skole Afrikaans is en Afrikaans sal bly.
Suid-Afrikaanse skole se befondsing, eienaarskap en bestuursgeskiedenis is ‘n komplekse tapisserie van unieke uitdagings en oplossings wat deur elke era geweef is. Met die aanvang van die Groot Trek in die 1800’s het Lord Charles Somerset staatsonderwys misbruik om verengelsing na te streef, maar die Hollands-Afrikaners het as eenvoudige antwoord hierop, privaat skole gestig waarin kinders in hul taal en geloof kon leer. Gaan die geskiedenisboeke vertel van die 2020’s as die nuwe era waarin ons kinders weereens in hul taal en geloof kon leer?
[2] Afrikaanse Skole-verslag – Skoleondersteuningsentrum