fbpx

Die Robotika-vereniging word nou “Japie” genoem

Deur André Badenhorst, Navorser: Wolkskool
28 Oktober 2019

Die Skoleondersteuningsentrum het sy Robotika-vereniging op 19 Oktober 2019 amptelik na dr. Japie van Zyl vernoem. Dr. Japie het bekend geword as die man wat aan die hoof gestaan het van die eerste suksesvolle Marslanding.

Waarom Japie?

Met hierdie naamsverandering word dr. Japie van Zyl deur die Skoleondersteuningsentrum vereer vir sy uitsonderlike bydrae tot die tegnologiese vooruitgang van die mensdom, sy besondere band met die land en sy mense, sy liefde vir Afrikaans, sy nederigheid en sy sagte plek vir onderwysers en kinders.

Boodskap aan ons onderwysers

In ‘n boodskap by die SOS-Kongres van 2018 sê dr. Japie hy glo die onderwysers van vandag het ʼn groot verantwoordelikheid, maar kan beslis ook tegnologie inspan om hul werk makliker te maak.

“Dink net, met die nuwe ontwikkeling in realiteitstegnologie kan ons studente direk na die Grand Canyon neem of vir hulle koraalriwwe onder die see gaan wys. Ons kan dit in ʼn chemieklas gebruik waar hulle sal sien hoe atome lyk, bymekaar kom en mekaar aantrek. Hulle sal ook kan sien hoe so ʼn chemiese reaksie voor hulle kan gebeur.”

Waar kom dr. Japie vandaan?

As gebore Namibiër is hy afkomstig van ’n trotse familie wat letterlik en figuurlik diep spore getrap het in die dorre aarde. Die beroemde 4 x 4 Van Zyl’s pas is na sy vader Ben van Zyl, destydse kommissaris van Kaokoveld, vernoem.

Saam met sy pa het hy gereeld gekyk na die hemelse Namibiese naghemel. Hy onthou hoe hy ‘n ster sien beweeg het en hoe sy pa toe vir hom van satelliete vertel het.

Dan was daar sy wonderlike ma wat hom op 20 Julie 1969 in die middel van die nag by hul huis op die dorpie Opuwo, ver in die noorde van die destydse Suidwes, wakker gemaak het sodat hy die enigmatiese woorde van Neil Armstrong “that’s one small step for man, one giant leap for mankind” oor die krakerige radio kon hoor.

‘n Groot inspirasie: ‘n Onderwyser

Hy vertel van ‘n wonderlike laerskoolonderwyser, mnr. Giel du Toit. Die kinders het hom “Twaksak” genoem omdat hy altyd met ’n pyp rondgeloop het. Mnr. Du Toit het Outjo vir Johannesburg verruil en nooit kontak met Japie gehou terwyl hy op hoërskool was nie.

Hier in matriek kry Japie toe ’n oproep uit die bloute. Mnr. Du Toit neem hom onder sy vlerk, sorg dat hy vir die regte beurse aansoek doen,  gaan haal hom by die Johannesburgse lughawe en besorg hom veilig by sy beursonderhoude.

Kwalifikasies en loopbaan

Met die ondersteuning van ‘n klompie mense is hy na Stellenbosch waar hy ’n honeursgraad in Elektroniese Ingenieurswese behaal. Vir sy Meestersgraad is hy in 1982 na die California Institute of Technology (Caltech) en hy het dan ook sy Ph.D. in 1986 daar verwerf.

Daarna raak hy as navorser by die Jet Propulsion Laboratory (JPL) betrokke by hoogs suksesvolle en uitdagende projekte. Na ‘n paar jaar vorder hy tot Mededirekteur van Projekformulering en Strategie en uiteindelik word hy Direkteur van Sonnestelsel-eksplorasie by die JPL, ‘n instansie met sowat 5000 werknemers. Deesdae is hy Medestigter en Uitvoerende Hoof van Hydrosat.

Oor kwalifikasies sê dr. Japie dat dit belangrik is, maar om eienskappe soos nuuskierigheid en deursettingsvermoë vir kinders te leer, is eintlik veel belangriker.

Die ongelooflike Marsprojek

Curiosity

Sekerlik die bekendste missie onder die leierskap van dr. Japie was die hoogs suksesvolle Curiosity Marssending in 2012. Met die skryf van hierdie artikel in Oktober 2019 neem Curiosity al sewe jaar lank beeldmateriaal, grondmonsters, weertoestande op Mars en nog vele ander verskynsels waar.

Toekennings

Dr. Japie ontvang verskeie gesogte internasionale en plaaslike toekennings:

In 1997 is hy die “Jong ingenieur van die jaar” van die Internasionale Instituut vir Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese.

Dieselfde instansie vereer hom ook in 2010 met die Onderskeidende Prestasietoekenning vir sy bydraes in die veld van radarnavorsing.

Sy alma mater, die Universiteit van Stellenbosch, vereer hom in 2015 met ’n eredoktorsgraad in Ingenieurswese.

NASA Toekenning

In Augustus 2019 word dr. Japie deur NASA vereer met ’n medalje vir Uitsonderlike Openbare Diens vir 33 jaar se toewyding en 20 suksesvolle ruimtesendings.

Dr. Japie sê dis lekker om vereer te word, maar wat hy die graagste sal wil doen, is om eendag medaljes om kinders se nekke te hang.

Boodskap aan ons kinders

“Dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie. Ek het van ‘n klein skooltjie af gekom – 20 kinders in die klas. Ons het nie die toegang tot die Internet of daai soort van goed gehad nie. Ek het ‘n droom gehad om eendag Amerika toe te gaan. Moenie dat enigiemand vir jou vertel jou droom is onmoontlik nie. Dit mag vir jou lyk of dit ver is en so aan, maar as jy bereid is om hard  te werk, kan enigiets moontlik wees.”


Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
[gravityform id=36 title=false description=false ajax=true tabindex=49]

Tags


Lees meer...