fbpx

Ouers kan nie aanlyn registrasieplatform toets nie

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) is bekommerd dat ouers nie die aanlynstelsel vir toelatings aan Gautengse skole kan toets voor die platform Maandag lewendig is nie.

Verskeie ouers het die afgelope dae by die SOS gekla dat hulle nie toegang kry tot die stelsel om dit te toets nie. Die SOS kon self nog nie toegang kry tot die stelsel nie. Edward Mosuwe, hoof van die Gautengse Departement van Onderwys, het Vrydag aan die SOS bevestig dat die platform nie getoets kan word voor aanlyn-registrasies Maandag afskop nie.

“Die feit dat die stelsel nie beskikbaar is sodat ons presies kan sien hoe dit werk nie, is kommerwekkend,” sê Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling aan die SOS. “Ons is nou gedwing om ons te verlaat op gerusstellings deur die departement dat die stelsel wel sal werk.”

Die GDO het die afgelope week in ’n regsbrief aan die SOS bevestig dat ouers ’n keuse van skool sal kan uitoefen en dat taal van onderrig en leer in ag geneem sal word tydens die plasing van leerders.

“Die SOS en AfriForum wil lede bedank dat hulle die organisasies sterk gemaak het en druk help plaas het op die departement. Hierdie druk het meegebring dat veranderinge aangebring is,” sê Buys. “Die publiek word aangemoedig om nie die druk te laat vaar nie en ons te laat weet indien hulle probleme met die stelsel ervaar.” Ouers en skole kan ’n epos stuur na toelatings@skole.co.za indien hulle Maandag probleme met die stelsel ondervind.

Buys sê indien die departement van sy onderneming afwyk, is daar steeds ruimte vir regsaksie.

Buys beklemtoon dat die onus steeds op ouers rus om Maandag so vroeg moontlik hul kinders aanlyn te registreer en dan onmiddellik die nodige dokumentasie by die skool van hul keuse in te handig.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.