fbpx

Die toekoms van Afrikaanse skole in Suid-Afrika: Selfstandigheid en volhoubaarheid

Leon Fourie

Uitvoerende hoof: SOS

Afrikaanse skole in Suid-Afrika het sedert hulle ontstaan op ʼn kontinuum tussen gemeenskapsbeheerde en staatsbeheerde instellings beweeg. Gedurende die 19de eeu is verskeie kerkskole en huisskole deur die gemeenskap gestig en deur plaaslike kommissies beheer. Later het skole na belastingondersteunde instellings beweeg wat deur die algemene kommissie of die staat beheer is. Na die Anglo-Boereoorlog het die Christelik-Nasionale Onderwysbeweging (CNO) ontstaan in reaksie op die verengelsing van skole, wat deur Lord Milner ingestel is. In die daaropvolgende jare het die CNO-skole geleidelik weer onder staatsbeheer gekom.

Die Suid-Afrikaanse skolewet van 1996 het staatskole omgeskakel na staatsondersteunde openbare skole. Hierdie skole word deur die verkose lede van die skoolgemeenskap, die skool se beheerliggaam, beheer en bestuur. Die voorgestelde wysigingswetsontwerp oor onderwyswette (BELA) het egter die potensiaal om meer beheer oor skole te sentraliseer. As hierdie wet in sy huidige vorm aanvaar word, kan dit beteken dat skole weer na ʼn staatsbeheerde model beweeg. Dit is ʼn kritieke moment in die geskiedenis van Afrikaanse skole.

As ‘n minderheidsgemeenskap kan ons nie op die staat vertrou vir ʼn volhoubare voortbestaan nie. Dit is noodsaaklik dat die gemeenskap eienaarskap en verantwoordelikheid neem op verskeie terreine, insluitend veiligheid, plaaslike ekonomie, maatskaplike dienste, opleiding, ensovoorts. Binne die huidige konteks is daar waarskynlik slegs twee maniere waarop volhoubare Christelike Afrikaanse onderwys op ʼn groot skaal kan voortbestaan. Die eerste is deur die bestaande Afrikaanse openbare skole meer selfstandigheid te gee en hulle in staat te stel om self besluite oor toelatings, personeelaanstellings, finansies, taalbeleide, dissiplinêre kodes, administrasie, en so aan, te neem. Die tweede is om ‘n netwerk van hoëgehalte, koste-effektiewe onafhanklike skole te vestig.

Om openbare skole in ‘n posisie van groter selfstandigheid te plaas, moet daar aan ʼn paar voorwaardes voldoen word:

  • Daar moet gebruik gemaak word van die beweegruimte binne die huidige skolewet.
  • Die beheerliggaam moet ruimte gegee word om hul bestaande magte uit te oefen.
  • Die regte van minderheidsgroepe rakende godsdiens, taal en kultuur moet binne die grondwet beskerm word.
  • Addisionele fondse wat deur ouers aan die skool bewillig word, moet selfstandig bestuur word.
  • Daar moet krities gekyk word na die historiese onteiening van skoolgrond.
  • Operasioneel moet daar meer doeltreffend gewerk word.

Hoewel daar ‘n konstante spanning tussen hoëgehalteonderwys en die koste daarvan in onafhanklike skole is, kan dit deur die korrekte toepassing van tegnologie, netwerke van kundiges en verbeterde onderrigmodelle, lewensvatbaar wees. Hierdie faktore maak hoëgehalte, koste-effektiewe onderwys buite die staatsbestel moontlik.

Om as ‘n minderheidsgemeenskap te floreer en volhoubare Afrikaanse gemeenskappe te verseker, is uitnemende selfstandige/onafhanklike skole ononderhandelbaar.



Tags

Afrikaanse skole, Leon Fourie, selfstandigheid, SOS


Lees meer...