Die wenner van die gemoedstoestand ondersoek – Soné Homann

Verlede week het ons die 601 onderwysers wat deelgeneem het aan ons aanlyn-opname oor onderwysers se gemoedstoestand, se name in ’n elektroniese hoed gegooi. Die webtuiste het toe onpartydig en lukraak die naam gekies van die persoon wat die R500.00 Exclusive Books geskenkbewys gewen het.
Die naam wat in vetgedrukte letters na ons uitgespring het, was: “Soné Homann”, ’n Afrikaanse onderwyseres by Afrikaanse Hoër Meisieskool (AHMP) in Pretoria. Sy het ingestem om met ons te gesels en ons het ’n potgooi van die gesprek opgeneem.

Op die dag van die onderhoud, het Soné ons by die hoofhek van AHMP ingewag. In die reënweer het sy ons vergesel na haar klaskamer; ’n splinternuwe moderne struktuur so tussen die stok-ou geboue. Haar klaskamer getuig van haar gemoed; dit is silwerskoon en versier met klomp poenankies (fraai versierings – ’n woord wat ons by haar geleer het).

Soné het tydens die invul van die vraelys haar gemoed as ’n 10/10 gemerk en skryf dit toe aan die feit dat sy in haar moedertaal skool gee. Sy sê ook dat AHMP se personeel en leerders, tesame met die algehele skoolkultuur, ook ’n groot bydrae lewer tot haar gemoed. Haar gemoedsrus is egter nie net afhanklik van eksterne stimulante nie. Sy self het ’n gesonde leefstyl wat ook ’n positiewe invloed het op haar gemoed. Hier is ons gesprek. Verskoon tog die onweer buite die klaskamer en wees gerus dat dit binne besonder koel en kalm was.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.