fbpx

Dis Rapporttyd. Hoe moet ouers dit benader?

Die eerste kwartaal is verby en binnekort is dit weer oordeelsdag. Die dag waarop skoolrapporte uitgedeel word, kan aansienlike angstigheid vir ouer én kind veroorsaak. Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) gee raad oor hoe om dit te benader.

Ouers wonder of die ekstra wiskundeklasse gehelp het om hul dogter se wiskunde-punt te verbeter en of hul matriekseun sal kan aansoek doen vir tersiêre studies met sy uitslae. Die kinders wonder met ‘n knop in die keel hoe pa gaan reageer op hul uitslae en sommige oorweeg dit om hul rapport op pad huis toe te “verloor”. Ongelukkig word baie waarde binne die huidige onderwysstelsel geheg aan kwantitatiewe asseserings en uitsette, waardeur getalle en syfers gebruik word om vordering te probeer meet en vergelyk. ’n Leerder kan ook nie aansoek doen om tersiêre studies met ’n goue ster vir vriendelikheid of ’n spog-kol vir empatie nie.

Dit is egter belangrik dat ouer en kind perspektief behou en onthou ’n rapport is nie ’n aanduiding van wié en wat jou kind is nie. Dit vertel nie die storie van jou kind se stryd met angstigheid of depressie nie en neem nie in ag dat hy of sy met ADHD of ander leerprobleme gediagnoseer is nie.

Ouers moet ook onthou dat kinders nie almal ewe akademies begaafd is nie. Almal kan nie eerste in die klas wees nie. Rachel Tillier*, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg, sê daar is n verskil tussen swak akademiese prestasie en ‘n onderpresteerder. “Kinders onderpresteer wanneer hulle ‘n swakker akademiese punt behaal as waartoe hulle in staat is. Kinders wat nie akademies sterk is nie, kan hul bes doen en steeds swak presteer.” Dit is dus belangrik dat ouers hul kinders se akademiese vermoëns in ag neem wanneer die rapporte huistoe kom.

Tillier noem ook dat kinders hul eie persoonlikheid en swak -en sterk punte het, daarom moet ouers daarteen waak om kinders met mekaar te vergelyk.

Vir gesinne waar kinders sukkel met leerprobleme of gedrag, of waar daar drastiese verandering of trauma was, kan rapporte baie insiggewend wees in hoe kinders aanpas en of ingryping begin vrug dra of nie. Rapporte kan nie as plaasvervanger dien vir kommunikasie met jou kind en sy onderwyser nie. ’n Goeie punt is ook nie altyd ‘n betroudbare weerspieëling van ’n kind se akademiese vordering nie – dis maklik om werk soos ’n pappegaai te leer en op te sê. Dis egter moeiliker om te leer vir self-ontwikkeling en werklike begrip van die onderwerp.

Amanda Morin, ’n ervare onderwyser en skrywer van die boek Everything Parent’s Guide to Special Education, sê ouers moet probeer fokus op die goeie punte en enige vordering wat kinders gemaak het. Eerder as om jou kind te straf oor swak punte, sê Morin, moet ouers saam met hul kinders realistiese doelwitte stel vir die volgende rapport. “Indien jou kind se punte skielik drasties verswak het, kan dit n aanduiding wees van ’n groter emosionele probleem en moet jy uitkyk vir ander veranderings in jou kind se gedrag.”

*Met erkenning aan Lynn Grobbelaar van Sun Valley Blogs

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.