fbpx

Diskalkulie – die onsigbare Wiskunde-leergeremdheid

deur Maryke Bellingan – Onderwysspesialis: Wiskunde

Baie leerders sukkel met Wiskunde en onderwysers en ouers wonder dikwels wanneer “sukkel” ʼn meer ernstige probleem verskuil. ‘n Leergeremdheid word beskou as onsigbaar tot ‘n leerder met skool begin en self dan is die geremdheid subtiel en moeilik om te herken.

Diskalkulie is ‘n leergeremdheid in Wiskunde waar leerders met eenvoudige sleutelkonsepte van Wiskunde sukkel. Leerders het verswakte rekenvaardighede en ondervind probleme om getalle en Wiskundige feite te verstaan. Sommige leerders vind dit selfs moeilik om ‘n sakrekenaar te gebruik.

Die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) het saam met dr. Annalize Green ‘n webinaar oor Diskalkulie aangebied. Volgens dr. Green beleef onderwysers verskeie klaskameruitdagings met ‘n leerder wat met Diskalkulie gediagnoseer is. Leerders met Diskalkulie het nie die vermoë om getalle te herken, patrone raak te sien en om te skat nie. ‘n Leerder met Diskalkulie se totale begrip van Wiskunde ontbreek en sodoende sukkel die leerder om ouderdoms gepaste strategieë te bepaal of beplan. Nie eers gepraat van afleidings maak deur te veralgemening.

Onthou net dat jy as onderwyser nie ‘n diagnose kan maak nie, maar wel gevaartekens kan raaksien. Deel jou bekommernisse met die leerder se ouers. Hou egter in gedagte dat kommunikasie begrond moet wees op feite en jou waarneming in die klas. Die kommunikasie moet deurlopend en effektief wees.

Ongelukkig is daar nie ‘n resep om hierdie leergeremdheid aan te spreek nie. Daar is verskillende tipes Diskalkulie en die intervensieprosesse verskil van leerder tot leerder. Dit is uiters belangrik om opgeleide spesialiste te nader om die intervensie te lei. Die beste plek om te begin is om die leerder by ‘n Opvoedkundige Sielkundige uit te kry wat die nodige diagnose kan maak.


Tags


Lees meer...