Dit het alles begin toe ons dit waag om nié met ‘n Toyota tussen provinsies te ry nie

2021-11-02

Charlotte Fourie

Wolkskooldosent

“Julle het die lekkerste werk! Julle sien die hele land!” sê ‘n oudkollega onlangs vir my. Sy is natuurlik reg. Om wêreldgehalte Afrikaanse skole en opvoeders in Suid-Afrika te help behou en ontwikkel, vereis kilometers se harde werk.

Sedert Junie 2021 besoek die span van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) skole regoor die land met ons “Tegnologie in die Klaskamer” (of “TIK” soos dit onder die span bekend geword het) opleiding. Die TIK-toere is ‘n ander tipe opleidingsgeleentheid, want groepe opvoeders ervaar ‘n gesellige stasierotasie-model van die lekkerste toeps in die klaskamer voordat hulle ‘n bietjie dieper duik in een van ons wegbreeksessies.

Teen die vierde kwartaal van die jaar is die SOS-span (soos  talle opvoeders in Suid-Afrika) al redelik dun gesmeer, maar die opleidingspan het nog genoeg krag en lus gespaar om die laaste 100m van TIK-opleiding volspoed te hardloop.

Die span in Vryburg nog onbewus van wat die dag vir hulle inhou.

Op pad Vryburg toe het Celeste besef dat haar beursie in Centurion agtergebly het en die aand in Vryburg toe Johan die dag se werk wil afwas, was sy badsakkie nêrens te vinde nie. Dinsdagoggend breek aan en dis hiér waar ons storie (figuurlike) spoed begin kry. Johan het hierdie oggend twee verskillende blou sokkies aangetrek en net duskant Kuruman om 09:00, besluit die Duster dat hy sy lus vir hierdie toer se baie kilometers verloor het – daar sit ons vier langs die N14 tussen niks en nêrens.

Johan het bietjie van ‘n ingenieursagtergrond en probeer dadelik die motor se innerlike verstaan; met oom Jan op ‘n WhatsApp-video-oproep begin hulle al die moontlike oorsake en oplossings uitkanselleer. Ek en die ander vrouens het maar veldblommetjies afgeneem en in die padkos ingevaar terwyl die manne die situasie met selfvertroue hanteer het. Dit was nie lank nie of ‘n barmhartige samaritaan met die naam Kevin stop langs ons. Kevin het darem bietjie meer kennis van hierdie tipe dinge (asook die nodige toerusting in sy kar). Nog twee mense stop; hulle is bekommerd oor ons, want hierdie stukkie pad waarop ons staan is nie die veiligste nie. Op daardie stadium was dit nog lekker bewolk en ons gemoedere was hoopvol. Ons was vasbeslote om nog betyds in Upington te wees vir ons TIK-opleiding.

Langs die pad.

Oom Jan, Johan en Kevin se moeite was verniet en uiteindelik besluit ons om maar ‘n insleeptrok vanuit Kuruman te ontbied. Dalk is ons te gewoond aan die insleepbakkies wat dadelik soos vlieë om jou drom as jy in die stad net lank genoeg stil staan, maar Kuruman se insleepdienste is nie só slaggereed om die N14 aan te durf vir gestrande Gautengers nie.

Die ure het verby gekruip – ons was dankbaar vir die pakkie Uno-kaarte wat ek in my tas gevind het. Na twee rondtes Uno het ons dit ook maar laat vaar en die uitsig probeer geniet. Twee skaapwagters op die plaas oorkant die pad, het met elke uur ‘n bietjie nader aan ons gewei; seker ook nuuskierig oor hierdie vier stadsjapies wat blikkies van pale met klippe probeer gooi. Teen hierdie tyd het die sonnetjie uitgekom en enige iemand wat al in die Noord-Kaap was in Oktober, sal verstaan wat ek hiermee probeer sê – (onthou die deel van Johan wat sy badsakkie vergeet het).

Hier het ons vir die eerste keer die geleentheid gehad om die toer heeltemal te kanselleer en huis toe te gaan, maar my drie kollegas was vasbeslote dat ons planne gaan maak om die onderwysers in die Vrystaat nie ook teleur te stel nie.

Om 12:30 daag die manne van Alpha Auto Electrical se insleeptrokkie en spaarbakkie op, die Duster word opgelaai en ons is uiteindelik op pad Kuruman toe (Celeste en Jana agterin die bakkie). Beste leser, het jy geweet dat die mense in Kuruman tydens middagetes nie werk nie? Ons in die stad kan gerus maar ‘n paar beginsels by die plattelanders leen. Geduldig het ons gewag dat die motorwerktuigkundiges hulle middagete klaar eet en dan aandag aan ons gee. Ons was teen 13:30 nog hoopvol dat die motor sommer vinnig net daar en dan reggemaak gaan kan word sodat ons minstens Bloemfontein toe kon ry vir ons afspraak daar die volgende dag. ‘n Vriendelike man van Alpha Auto het ons by die Spur gaan aflaai terwyl hulle die motor diagnoseer.

Ek en Johan het aangedring om agter in te sit, maar Celeste en Jana was vasbeslote.

Dit was rondom 14:00 in die Spur wat Johan vir die eerste keer gehoor het dat sy motor ‘n turbo het en dat dié nou gegroet het. Johan verwag sy vierde kind en ons moes hom ‘n bietjie rem om nie net daar en dan ‘n nuwe (groter) motor te koop nie.

Die naaste huurmotor (ongelukkig sonder ‘n haak vir die waentjie) en verblyf wat ons kon vind, was in Kathu; ons het daarom maar ons tekkies begin afstof en reggemaak om die pad aan te durf – gelukkig het meeste van ons tasse wieletjies gehad. Op daardie stadium het ons span in Centurion die leisels oorgeneem; nooit weer sal ons Hugo se skoolvriendskapsbande onderskat nie.

Om en by 17:00, toe ek en Johan op ons dertigste rugwerwels in die baie smal Spur-bankies lê, praat ‘n engel vir die eerste keer uit die verte uit: “Hallo, is jy Jana?” Ek was nie Jana nie, maar die engel was Kerneels. Frede, een van Hugo se skoolmaats, het Kerneels en Quintin na ons toe gestuur. Hierdie twee weldoeners het na werk vanuit Kathu gery om ons te kom haal. Ons spanmaats het dit intussen ook reggekry om vir ons die laaste twee oop kamers in Kathu te bespreek, asook ‘n huurmotor vir die volgende dag (ek het nagelaat om te noem dat weens die munisipale verkiesing en ‘n groot gholftoernooi op Kathu, is alle verblyf en huurmotors lankal reeds bespreek).

Daar was hoop.

Daardie aand by Kadudu in Kathu het ons lekker geëet, gewerk en sommer die aand om gesels. Ons was opgewonde om Woensdag ons huurmotor te gaan oplaai en Bloemfontein toe te ry vir die tweede laaste TIK-opleiding van die jaar. Kerneels het selfs sy motor vir ons gelos en aangebied om die waentjie te huisves totdat ons kans kry om hom te kom haal.

Woensdagoggend is ons met ongewone ywer op pad na die lughawe in Kathu. Moenie dat die woord lughawe jou flous nie – dit is nie OR Tambo of selfs Lanseria nie. As Google nie vir ons gesê het dat dit ‘n lughawe was nie, sou ons dalk net verby gery het. Nietemin ons is met selfvertroue na die “ontvangs?” om ons huurmotor op te tel; ons het selfs al ons bagasie vanuit Kerneels se kar begin laai.

As hierdie ‘n Westerse drama was, sou ‘n grasbol nou oor die pad gewaai het.

Daar was niemand by die lughawe nie en die enkele nuuskierige sekuriteitswag wat kom vra het wat ons daar soek, het begin lag toe ons noem dat ons ‘n huurmotor kom haal het.

Die spanlede in Centurion het ‘n Noord-Kaap krisisbestuursentrum in Hugo se kantoor opgestel met Alida en Annelle op die paneel – kyk, as jy ooit ‘n oorlog begin, maak maar vir Alida en Annelle elk ‘n Ringkop.

By die lughawe in Kathu.

Bietjie meer as ‘n uur later moes ons noodgedwonge ons opleiding in Bloemfontein ook kanselleer. Hier het ons vir die tweede keer die geleentheid gehad om die toer heeltemal af te stel en huis toe te gaan, maar weereens was ons vasbeslote om teen Donderdag by Bethlehem uit te kom en minstens ons laaste afspraak na te kom.

‘n Moontlike huurkar is deur die span in Centurion vir ons bespreek en ons klim toe maar weer in Kerneels se motor en ry na die optelpunt vir hierdie motor. Die optelpunt was egter nie ‘n normale optelpunt nie en met geen bevestiging van die moontlike huurmotor nie, dwaal ons toe maar in die buurt rond. Dis toe dat ons die eerste keer aandag gee aan die dringende flitsende brandstofliggie van Kerneels se motor. Dit kon erger wees: ons het ten minste ‘n bietjie brandstof gekry, want petrolpompe werk nie so lekker tydens beurtkrag in Kathu nie.

Die moeilike besluit is uiteindelik in die lang gewag by die petrolstasie geneem: die laaste TIK-toer is in sy geheel afgestel en ons vier gaan op ‘n bus klim en huis toe gaan.

Van hier af is ons na die naaste (en enigste) winkelsentrum om maar weer in die Spur af te pak. Dit was vroegoggend en uit ervaring uit weet ons dat Spur-bankies nie so gerieflik is vir ‘n lang dag se wag nie. Johan het nie ‘n warm-ding ingepak vir hierdie toer nie en met die vooruitsig van ‘n aand op ‘n bus, moes ons inderhaas vir hom ‘n baadjie gaan soek.

Kerneels sou ons by die Spur ontmoet om sy motor terug te kry, maar toe hy hoor van ons teëspoed, het hy sonder huiwering sy motor en sy huis vir ons aangebied. Hierdie tipe opoffering en hulp van ‘n wildvreemdeling het ek nog nooit in my lewe teëgekom nie.

Ons is van daar af na Kerneels se huis toe: ons kon onsself daar tuis maak en die WiFi benut om ‘n bietjie werk tussendeur gedoen te kry (totdat beurtkrag natuurlik weer begin het).

Daardie aand is ons vier en Kerneels na Katexas vir ‘n lekker aandete voordat hy ons om 20:00 by die busstop gaan aflaai het. Kerneels het natuurlik geweier om ons net daar af te laai en het saam met ons gewag totdat die bus opgedaag het. Ons is nie drukkie-mense nie, maar vir Kerneels het ons daardie aand totsiens gedruk.

Op die bus kry ons gelukkig die laaste beskikbare dubbelsitplekke: Jana en Celeste redelik voor, en ek en Johan agter langs die badkamer. “Badkamer” is dalk die verkeerde woord; dis meer soos ‘n klein kas met ‘n gat waarop jy kan sit. As jou boude net normale grootte is, moet jy die deur oopmaak voordat jy daarbinne kan omdraai.

Om 21:00 vertrek die propvolle Intercape-bus met die gestrande Gautengers na Pretoria. Ek kan nie namens Jana en Celeste praat nie, maar ek en Johan het heeltemal te veel aan mekaar geraak om gemaklik te probeer slaap daardie aand.

Amper op die bus huis toe!

Donderdag, 28 Oktober, breek uiteindelik aan en net na 06:00 klim ons bietjie styf en baie moeg by Pretoria Stasie uit. ‘n Paar minute later daag Hugo soos ‘n vars briesie op en ons is uiteindelik op pad Centurion toe.

Dit is vandag Vrydag en die parkeerterrein by die SOS-kantore het een minder Duster wat ‘n plekkie neem. Jana en Hildegard (wat ook Dusters ry) het intussen probeer uitvind of hulle motors ook ‘n turbo het en of hulle sommer binnekort daarna kan laat loer; net vir ingeval. Die Venterwaentjie met al ons televisies en TIK-toer versierings staan nog veilig in Quintin se motorhuis in Kathu.

Daar is baie lesse wat ons hieruit kan leer. Ons kan weer beklemtoon dat die lewe baie kort is en dat jy uitdagings met grasie en ‘n glimlag moet aanpak. Ons kan weer vir mekaar sê dat Toyota werklik die enigste kar is wat jy moet oorweeg. Ons kan hieruit leer dat jy elke geleentheid moet hanteer asof dit die laaste is: wie sou kon raai dat ons opleiding by Laerskool Hartenbos die laaste TIK-toer gaan wees? Ons kan leer dat jy altyd moet kontak hou met jou skoolmaats.

Die grootste les wat ek egter hieruit leer is dat jy nooit mag opgee nie. Wat ‘n voorreg is dit nie om saam met kollegas te werk wat net vasbeslote is om deur te druk, ongeag die uitdagings en struikelblokke wat op die pad kom. Ons laaste TIK-toer is gekanselleer, nie omdat ons opgegee het nie, maar omdat ons werklik nie ‘n ander uitweg gehad het nie.

Upington, Bloemfontein en Bethlehem wees gewaarsku: ons SAL by julle uitkom, maak nie saak wat nie. Ons is meer vasbeslote as ooit om die SOS by julle uit te kry en die volgende keer wat ons kom, kom ons met drie keer meer ywer, opgewondenheid en motors as nou.

Gesels met ons

>