Dr. Japie van Zyl (1957 – 2020)

2020-08-27

Hugo Vermeulen

Hoof van Opleiding: SOS

Dr. Japie van Zyl
(1957 – 2020)
Foto: NMMU

Toe ek in Desember 2002 as nuwe skoolhoof van Privaatskool Moria, in Outjo Namibië arriveer, het ek binne 48 uur duidelik geweet – dít is die gemeenskap/dorp wat dr. Japie van Zyl van NASA opgelewer het. Boonop het sy familie reg oorkant ons gewoon.

Alhoewel ek nie alles van hom geweet het nie, het ek gereeld in die skoolsaal aan leerders na hom as voorbeeld verwys as iemand wat groot gedroom het en hoë hoogtes bereik het – al kom jy vanaf ‘n klein plattelandse dorpie.

Jare later by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum het ek my Namibiese kontakte gebruik om hom te probeer bereik per e-pos. My gedagte was om hom in sy hoedanigheid as hoof van NASA se Jet Propulsion Laboratory te gebruik as spreker by ons jaarlikse SOS-onderwyskongres. Aanvanklik was daar geen reaksie op my Afrikaanse e-pos na die VSA nie. Later rig ek ‘n Engelse e-pos, maar steeds geen sukses.

Foto: NASA

Toe probeer ek ‘n ander roete. Ek verkry Japie se Namibiese vrou, Kalfie, se selnommer en stuur ‘n WhatsApp boodskap op 19 September 2017. Steeds verkry ek geen reaksie nie en probeer deur familiekonneksies vir haar laat weet dat ek hul soek. Op 28 November 2017 sien ek daar was ‘n “missed call” vanaf Kalfie.  Ek kon nie glo wat pas gebeur het nie. Daarna het gereëlde gesprekke gevolg tussen my, Japie en Kalfie. Ons was later soos familie.

In Junie 2018 word die SOS se droom ‘n realiteit en kry ons dit reg dat Japie regstreeks ‘n aanbieding doen en hoofspreker is by die eerste dag van ons SOS-onderwyskongres. Meer as 450 onderwysers hang aan sy lippe en kyk ons na verstommende beeldmateriaal van Mars-sendings en planne met virtuele realiteit. Ons hoor van Japie se groot planne met toekomstige Mars-sendings en die droom om mense eendag daar te laat woon en die voortdurende soeke na ander planete wat lewe kon of sal kan onderhou.

Die gehoor kry geleentheid tot vrae en daar word vir hom gevra – hoe het dit gekom dat hy so groot hoogtes kon bereik, komende van ‘n klein plattelandse dorpie in die Noordweste van Namibië? Sy antwoord sal ons jare nog bybly: “Ek het as jong hoërskoolkind een aand saam met my moeder na die mooi sterrehemel gekyk en my moeder gevra of sy dink daar is lewe op ander planete”? Haar antwoord was, “aangesien jy so nuuskierig is, hoekom studeer jy nie in daardie rigting en vind dit vir jouself uit nie”! Die res is geskiedenis. Ek kon nie help om te dink hoeveel ouers daarbuite vergruis hul kinders se drome van jonks af deur neerhalende en afbrekende antwoorde op hul kinders se nuuskierige vrae. Dalk lê baie van ons onderwysers en ouers se probleem juis daar.

Gedurende 2018 het die SOS ook die VSA saam met skoolhoofde besoek en kon ons almal die waarde van Robotika as toekomsvak ervaar en het dit baie belangstelling en verwondering uitgelok. Weereens was NASA op groot skaal betrokke om jong wetenskaplikes en ruimtevaarders te prikkel met Robotika.

Dit was dus ‘n “no-brainer” dat SOS in 2019 geweldige fokus wou laat val op Robotika en Kodering as ‘n belangrike toekomsvak, en wou ons graag hier die leiding neem in onderwysopleiding. Ons besluit toe om ‘n unieke nuwe vakvereniging vir onderwysers te skep. Die verdere gedagte ontstaan – wat as ons dit die dr. Japie van Zyl-robotikavereniging noem? Maar sal Japie daartoe instem. Japie stem in en ons kon boonop met trots Japie deel van die regstreekse mediabekendstelling van die vereniging in 2019 maak.

Telefoongesprekke het steeds plaasgevind en ek was verbaas om vroeg in 2020 by Japie te hoor –  hy tree af by NASA se JPL. Dankbaar verneem ek dat sy helikopter-sendingprojek vir Mars steeds voortgaan saam met NASA se volgende vlug. Dit sal steeds in Junie 2020 gelanseer word en rondvlieg oor Mars. Japie noem dat hy met sy aftrede by NASA besluit het, hy het nou genoeg vir ander planete gedoen en hy het nou nuwe droom – om iets groot vir planeet Aarde te doen. Hy vertel met opgewondenheid van die nuwe maatskappy Hydrosat. Hy werk saam met Skandinawiese lande en gaan spesiale satelliete saam met Elon Musk se SPACE-X opstuur. Die sateliette monitor dan plante se temperature en so hul waterbehoeftes. Boerdery sal massief kan baat by hierdie projek deur presies te weet hoeveel en wanneer landbougewasse water moet kry. Ek is onmiddelik opgewonde en reël dat Japie met ‘n privaat landbougroep in SA gesels. Ek hoop steeds hier kan iets groot van kom.

Covid-19 tref die wêreld in Maart 2020 en die getalle klim geweldig in die VSA. Laataand lui my foon – dit is Japie en Kalfie wat van Kalifornië af bel. Hul wil net sê – ek moet asseblief aan Suid-Afrikaners vertel hoe gevaarlik die siekte is en dat ons almal moet waarsku om veilig te wees en eerder in “lockdown” te gaan. Toe was daar nog geen Covid-gevalle in SA. Hul vrese was dat as die virus SA eers gaan tref, gaan SA nie kan voorbly met maatreëls en hospitale nie. Ekself was maar aanvanklik skepties – maar hul was reg.

Die SOS begin toe op groot skaal Zoom-webinare aanbied en weer kom die plan op – wat van Japie as gasspreker by ‘n SOS-wetenskap/robotika webinaar saam met SOS-spanlede?  Weereens was dit nie te veel gevra nie en staan Japie spesiaal een oggend in Mei al 06:00 VSA-tyd op om 15:00 (SA-tyd) die gasspreker by ons webinaar te wees. Japie is te gewillig om te vertel van vordering met die NASA-helikopter, sy planne by Hydrosat, maar ook dat hy met die navorsers van Caltec besig was om nuwe Covid-toetsapparaat te ontwikkel sodat meer pasiente vinniger getoets kan word. Onwillekeurig kom die gedagte by my op – hy leef sy droom – hy wil werklik meer doen vir planeet Aarde.

Verlede week laat weet Kalfie my, Japie moet isoleer, hy was in kontak met mense wat positief getoets het en sy kan nie naby hom kom – sy wonder wat dink die bure – want sy en Japie moet deur toe deure en mure met mekaar praat – en dit klink vir die bure seker soos ‘n woordewisseling. Ons het lekker hieroor gelag. ‘n Week later is Japie se tyding en die verdoemende nuus – hul kry geen breinfunksie. Dit is steeds onwerklik.

Die wêreld, Afrika, suidelike Afrika en Namibië het een van sy grootste wetenskaplikes verloor. Hy wou nog so baie doen. Dit sal my en ons plig as liefhebbers van die wetenskap wees om te help toesien dat sy “legacy” bly voortleef. Ons moet toesien dat jong wetenskaplikes voortdurend deur die dr. Japie van Zyl-Robotikavereniging geinspireer word om te bly groot droom en om, soos sy moeder, die saadjie by jong leerders te plant om self planne te maak om hul nuuskierigheid te bevredig. Daar sit nog talle Japie van Zyl’s in ons midde, en dit is ons plig om hul aan te moedig.

Dankie Japie – lank lewe jou nagedagtenis.

Huldeblyke van SOS-spanlede:

“Al het dr. Japie van Zyl in Amerika gewoon en ek hom nog nooit persoonlik ontmoet nie, het dit gevoel of ek hom self geken het. Ek dink sy nederige hartlikheid en passie vir sy werk en die lewe was aansteeklik en daarom voel dit onwerklik dat hy so skielik weg is. Ons is saam met sy geliefdes baie hartseer, maar weet ook dat hy menige jongmens geïnspireer het om te waag droom soos wat hy as kaalvoet Namibiese skoolseun gedoen het. Rus in vrede.” – Jana Terblanche

“Dr Japie, my hart huil vandag. Dit was ‘n groot voorreg en eer om April saam met dr ‘n webinaar te kon aanbied. Jou geduld, rustige geaardheid, pragtige Namibiese aksent en ontsaglike kennis was binne minute opmerklik. Jou NASA helikopertjie, Curiosity, land eersdaags op Mars en is net weer ń bewys dat om groot te droom nie onmoontlik is nie. Die wêreld is vandag ‘n besonderse mens arm, maar die hemel juig. Rus sag dr. Japie.” – Marnelda de Beer

“Dit is vir my bitter slegte nuus. Alhoewel ek hom nooit persoonlik ontmoet het nie het sy nederigheid as mens my altyd opgeval! Sy oop glimlag en Namibiese aksent het mens laat voel asof hy familie is. ‘n Briljante wetenskaplike wat ek as ‘n rolmodel gesien het! My hart gaan uit na sy vrou Kalfie en al die vriende en familie. ‘n Groot boom in die Suid-Afrikaanse en Namibiese geskiedenis het geval. Rus sag en vlieg hoog!” – Celeste Labuschagne

Gesels met ons