Op 21 April vier ons Wêrelddag vir Kreatiwiteit en Innovasie in ʼn samelewing waar baie moed verloor het dat daar ʼn toekoms is vir ons kinders. Met ʼn jeugwerkloosheidsyfer van meer as 65% is dit van kernbelang dat vaardighede soos kritiese denke, probleemoplossing, samewerking en kreatiwiteit in die klaskamer geleer word.
Vir vaardighede om doeltreffend oorgedra te word in Suid-Afrikaanse skole moet daar drie kopskuiwe plaasvind.
Die onderwyser se rol as fasiliteerder van leer
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum glo dat die onderwyser sentraal staan tot die onderrigproses en daarom die belangrikste skakel is in die proses om kreatiwiteit en innovasie in die klaskamer in te bring. Passievolle onderwysers kweek passievolle leerders.
Onderwysers moet meer tyd spandeer aan selfrefleksie. Selfrefleksie in die klaskamer is ‘n manier vir onderwysers om terug te kyk na hul onderrigstrategieë om te ontdek hoe en hoekom hulle op ‘n sekere manier onderrig het en hoe hul leerders gereageer het.
Daar moet ʼn groter fokus op oop vrae wees, eerder as vrae wat op handboeke gebaseer is. Wanneer onderwysers oop vrae vra, raak leerders daarvan bewus dat daar meer as een standpunt oor ʼn saak kan wees wat kan lei tot opwindende gesprekke, nuwe idees, sowel as die ontwikkeling van leierskapsvaardighede.
Leerervarings se rol in die klaskamer
Werkgewers wil opkomende professionele persone sien wat verstaan hoe om moeilike besluite te neem en probleme oplos. Leerders kan nie meer passiewe ontvangers van inligting wees nie, maar moet aktief deelneem in die klaskamer. Nie net moet leerders deelneem nie, maar hulle moet aangemoedig word om risiko’s te neem en kanse te waag.
Wanneer onderwysers werklike projekte verskaf wat studente probleme gee om op te los, bied hulle ‘n platform vir studente om uit mislukking te leer, weer en weer op te tree om uiteindelik sukses te vind.
Kennis en ervaring is twee kante van dieselfde munt. Die verwerwing van kennis en ervaring deur toepassing is voortdurend in wisselwerking met mekaar en vul mekaar voortdurend aan. In ʼn toenemend veranderende wêreld is blote kennis nie meer voldoende is nie.
Die klaskamer moet herdink word
Die ontploffing van tegnologie in die onderwys het gelei tot ’n groot verskeidenheid van beskikbare media en leerondersteuning-platforms wêreldwyd.
Daar is ’n groeiende neiging waar onderwysers inhoud aanlyn vir leerders beskikbaar stel ter voorbereiding vir klasse. Leerbestuurstelsels maak dit vir onderwysers moontlik om maklik leerders se vermoë te evalueer en vordering dop te hou. Dit stel onderwysers in staat om deurlopend gedurende kontaktyd hul leerders se behoeftes aan te spreek. Verder skep dit ook vir die onderwyser die geleentheid om te differensieer tussen leerders se spesifieke behoeftes. So ʼn omgekeerde klaskamer toon groot prestasieverbetering en onderwysers spaar ongeveer 50% van hulle tyd, beweeg gevolglik vinniger deur die kurrikulum en kry tyd om dieper met hulle leerders te werk.
ʼn Omgekeerde klaskamer lyk egter fisies ook anders as die tradisionele klaskamer. Weg is die oorvol, deurmekaar vertrekke wat nie die ruimte het om gemaklik rond te beweeg nie. ʼn Omgekeerde klaskamer se leerruimtes moet vloeibaar wees en buigsaamheid bied om een-tot-een leer, samewerking, onafhanklike denke en groepbesprekings te ondersteun.
Hierdie drie kopskuiwe word in detail bespreek by die SOS se kongres wat vanjaar op 21, 22 en 23 Junie by Accolades Konferensiesentrum, Midrand plaasvind. Die kongres se tema is KOPskuif en beloof om ʼn ware KOPskuif in die onderwyslandskap te weeg te bring.
Vir meer inligting besoek https://skole.co.za/kongres/ vir meer inligting.
0 comments