21 Augustus 2019
Navorsing wat die Skoleondersteuningsentrum (SOS) onderneem het, wys dat skole onder geweldige finansiële druk geplaas word weens die koste van water en elektrisiteit, wat jaarliks vinniger as inflasie styg. Hierdie druk het ’n direkte gevolg op die jaarlikse styging in skoolfonds. Weens astronomiese munisipale rekeninge, bestee skole ook minder geld aan noodsaaklike uitgawes soos onderwysers se salarisse en die opknapping van infrastruktuur. Navorsing toon wel dat skole in die Wes-Kaap minder spandeer aan munisipale dienste as in Gauteng.
Die navorsing is onder 156 Afrikaanse skole reg oor die land gedoen. Vraelyste is landswyd gestuur aan skoolhoofde en voorsitters van skole se beheerliggame wat lid is van die SOS se Leierskapvereniging. Die meeste skole wat die vraelys voltooi het, is in Gauteng en die Wes-Kaap geleë. Heelwat skole in Noord-wes en die Vrystaat het ook deelgeneem. Die meerderheid van deelnemende skole is kwintiel 4 en 5 skole, wat beteken dat die skole skoolgeld hef en in woongebiede geleë is waar ouers veronderstel is om skoolgeld te bekostig.
Bevindings van die SOS se navorsing is Woensdag by die Hoërskool Pretoria-Noord bekendgestel. Uit die navorsing blyk die volgende:
- Skole bestee gemiddeld tussen R40 000 en R70 000 per maand aan munisipale uitgawes, maar amper een uit elke 10 skole bestee meer as R100 000 ’n maand.
- Amper 14% van skole bestee meer as 10% van hul Bruto Inkomste om munisipale rekeninge te vereffen.
- Gautengse skole bestee gemiddeld R68 000 per maand aan munisipale uitgawes, terwyl skole in die Wes-Kaapse gemiddeld R53 000 per maand betaal. Die koste van hierdie dienste styg ook vinniger in Gauteng (9,5% per jaar) as in die Wes-Kaap (8,7% per jaar). In beide provinsies styg munisipale kostes vinniger as inflasie.
- Twee uit elke drie skole (69%) het aangedui dat hoë munisipale tariewe die skool se finansies knou en dat hulle fyn moet werk om al hul uitgawes te delg. Een uit elke tien skole het aangedui dat die skool tans agter is met die betaal van hoë munisipale rekeninge.
- Die toename in munisipale uitgawes het ’n direkte invloed op die stygings in skoolfonds, veral in stedelike gebiede. 46% van skole moet jaarliks hul skoolfonds verhoog om hierdie uitgawes te delg. Meer as ’n derde (37%) van die skole bestee minder aan ander uitgawes soos infrastruktuur, leerhulpbronne of ekstra personeel om voorsiening te maak vir hoër munisipale diensfooie.
- Talle skole ervaar ook probleme met foutiewe munisipale rekeninge. In meeste gevalle sloer munisipaliteite maande lank om foute reg te stel.
Volgens Gerda Senekal, raadslid van die Vryheidsfront Plus in Emfuleni, kan hoë munisipale tariewe toegeskryf word aan onreëlmatige of verkeerde meterlesings deur die munisipaliteit en onbillike tariewe vir skole. Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslike regering, sê skole se munisipale rekeninge word beïnvloed deur bloktariewe. Hoe meer water en elektrisiteit verbruik word, hoe hoër is die tariewe wat skole moet betaal. Mostert sê die verskil in tariewe in die Wes-Kaap en Gauteng kan toegeskryf word aan beter politieke bestuur in die Wes-Kaap. “Hier is nog ‘n mate van professionaliteit in munisipale administrasie, wat dit moontlik maak dat tariewe in baie munisipaliteite op die regte manier benader word. Dit is ongelukkig nie oral in die Wes-Kaap die geval nie.”
Die SOS het ’n aantal aanbevelings gemaak aan skole wat sukkel met hoë munisipale kostes. Dit sluit in dat skole hul betrokke raadslede moet nader om hulp met foutiewe munisipale rekeninge. Skole moet onmiddellik ’n dispuut met die munisipaliteit verklaar indien hulle meen die rekening is foutief. Om skole hiermee te help, is ’n konsep dispuutbrief beskikbaar by https://wp.me/aaknbq-1eN.
Dispuutbrief-voorbeeld |
Skole word aangemoedig om met hul onderskeie munisipaliteite te onderhandel om beter krag- en watertariewe te beding. Deur te verseker dat waterpype en veral toilette geen lekkasies het nie, kan skole onnodige waterverbruik beperk.
Die SOS doen ‘n ernstige beroep op die regering om wins op skole se munisipale tariewe te sny, en gehalte onderwys op dié manier te ondersteun.
Deur Elaine Krige, Skakelbeampte: SOS
0 comments