Suid-Afrika het tans die hoogste jeugwerkloosheidsyfer in die wêreld. Volgens Statistiek SA is byna 75% van jongmense tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar werkloos. Een rede hiervoor is ʼn tekort aan vaardighede onder jongmense in ʼn immerveranderende werksomgewing. Die toenemende rol van tegnologie, verstedeliking en die globalisering van waardekettings, het die aard van werk- en vaardigheidsvereistes dramaties verander.
As antwoord op die internasionale krisis waar ongeveer 71 miljoen jongmense werkloos is, het die internasionale bestuurskonsultasiefirma, Mckinsey, ʼn studie onder 18 000 individuele in 15 lande gedoen. Hiervolgens is ‘n omvattende vaardigheidsreeks van 56 eienskappe saamgestel wat nodig is om ʼn werk te kry. Hierdie reeks kan gegroepeer word in:
1. Kognitiewe vaardighede
Kognitiewe vaardighede verwys na die vermoë om ingewikkelde idees te verstaan, effektief by jou samelewing aan te pas, uit ervaring te leer en om dit aan ʼn gehoor te kommunikeer. As deel van kognitiewe vaardighede is fundamentele geletterdheid en gesyferdheid ʼn belangrike vaardighede wat op skoolvlak bemeester behoort te word. Verder speel vaardighede soos kreatiwiteit, kritiese denke en probleemoplossing ʼn belangrike rol in leerders se vermoë om ʼn werk te kry.
2. Interpersoonlike vaardighede
Interpersoonlike vaardighede beskryf die vermoë om sosiale situasies doeltreffend te hanteer. Verder dui dit op die vermoë om in ʼn span te werk en verhoudings te bou. ʼn Leerder moet empatie kan toon, sowel as nederigheid. Skole speel ʼn belangrike rol in die ontwikkeling van interpersoonlike vaardighede omdat onderwysers en leerders onderling vir mekaar rolmodelle kan wees. In ʼn formele skoolomgewing leer leerders hoe om gesonde wyses konflik te hanteer en kan hulle mekaar inspireer. ʼn Belangrike fokus vir skole is om toe te sien dat leerders die belangrikheid van voortgesette leer begryp om sodoende gewillig te wees om voortdurend te leer, aan te pas en te ontwikkel.
3. Selfhandhawingvaardighede
Selfhandhawing beteken dat leerders oor genoegsame selfkennis beskik om hulle emosies te kan verstaan (en beheer) en hulle eie sterkpunte optimaal te benut. Dit lei na selfvertroue en die moed om risiko’s te neem wat lei tot breër horisonne, passie en optimisme in ʼn leerder se lewe. Hierdie vaardighede vereis dat leerders selfgerig werk en skoolwerk voltooi sonder dat daar voortdurend vir hulle gesê word wat om te doen. Nog meer belangrik is dat leerders moet aanhou probeer om moeilike take te voltooi sodat hulle uithouvermoë en probleemoplossingvaardighede verbeter.
4. Digitale vaardighede
Ten slotte verwys digitale vaardighede, na vaardighede wat deurlopend ontwikkel moet word en nodig is vir al drie bogenoemde vaardighede. Digitale vaardighede beskryf die vermoë om toepaslike inligting te bekom, te verstaan, te evalueer, te kommunikeer en self te skep. Dit verwys ook na etiese praktyke aanlyn en om verstandig en veilig op te tree terwyl leerders aanlyn is. In ʼn wêreld wat toenemend meer gedigitaliseer raak, moet leerders basiese programmering en die ontleding van data verstaan om op ʼn meer algoritmiese manier te kan dink.
In Julie vier ons Wêrelddag vir Jeugvaardighede en benadruk die verantwoordelikheid van ouers, onderwysers, skole en ander onderwysrolspelers om ons leerders voor te berei op die werksplek deur die bostaande vaardighede te ontwikkel. Hierdie vaardighede sal help dat leerders in ‘n meer outomatiese, digitale en dinamiese arbeidsmark oor die nodige vaardighede beskik om werk te doen wat van hoër waarde is was werk wat deur intelligente masjiene gedoen is. Leerders sal voortdurend aanpas om by te hou na die groeiende aanvraag vir tegnologiese, sosiale en emosionele en hoër kognitiewe vaardighede.