Deur Danéll Malan, student en tydelike skaduwerker by die SOS
Onderwys is nie ‘n beroep nie, dit is ‘n roeping, en my skaduwerk by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) ‘n rukkie gelede, het enige twyfel oor of ék ook vir onderwys geroep is, vernietig.
My reddingsboei
Die SOS is ‘n bewys dat onderwysers buite die klaskamer net so ‘n groot verskil kan maak as binne. Johan Koekemoer (vir my is hy nog “meneer Koekemoer, Wiskunde-onderwyser van formaat”), nou Hoof van Onderrig- en Leer by die SOS, het onwetend ‘n rukkie gelede vir my ‘n reddingsboei in die vorm van ‘n WhatsApp-boodskap gegooi. Te midde van ‘n semester waarin ek andersins moontlik sou verdrink.
Ek studeer tans B.Sc (Fisika en Wiskunde) aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus, met die oogmerk om ook my Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) eendag aan te pak. Ek weet nog altyd dat hierdie roete tot by die onderwys die een is wat ek moet volg, maar as die golwe van studentwees jou net nie ‘n gaping wil gee om asem te skep nie, is dit maklik om te wil opgee en die makliker roete te vat. Daarom was ‘n boodskap van ‘n oud-onderwyser wat wys dat hy in my glo, net die ding om nuwe lewe aan my skoppende bene te gee sodat ek verder kan voortswem.
My grootste droom
My grootste droom is om ‘n verskil te maak in ons land se onderwysstelsel. Baie mense lag as hulle dit hoor, maar ek het geweet daar is ‘n rede vir dié droom in my hart. Nou is ek ‘n geleentheid gebied om by ‘n plek wat presies dít doen, te leer. As ek die planne hoor wat hulle het, en reeds uitvoer, maak dit my ongelooflik opgewonde. Dis duidelik dat dit wat hulle hier by die SOS doen, totaal en al tot eer van die Here doen en niks anders wil bereik as om die onderwysstelsel te verbeter nie. Dus weet ek dat hulle sal slaag in hulle taak.
Ek het al klaar so baie geleer in die kort tydjie wat ek hier was en my kop wemel van al die planne; die een net so goed soos die volgende een.
Indien jy kommer in jou hart het oor die toekoms van Afrikaanse skole in Suid-Afrika, wil ek jou gerusstel: die vervaldatum van onderrig in ons mooie moedertaal is nog lank nie in sig nie.