fbpx

Gautengse departement van onderwys onderneem om toelatingsproses uit te stel.

Die burgerregtewaghond AfriForum en die Solidariteit Beweging se Skole­ondersteuningsentrum (SOS) het Vrydag skriftelik vanaf die Gautengse onderwysdepartement verneem dat die aanlyn aansoeke na 20 Mei 2019 uitgestel is.

Dit kom nadat AfriForum en die SOS op 5 Mei 2019 kragte saamgespan het en ’n dringende prokureursbrief aan die Gautengse departement van onderwys gestuur rakende die gebreke van die aanlynskoleregistrasieplatform. Dié platform sou op 13 Mei 2019 vir 2020 se leerderregistrasies open.

“AfriForum beskou hierdie nuus as ’n reuseoorwinning. Ons verwelkom ook die onderwysdepartement se besluit om die proses uit te stel en probleme met die stelsel reg te maak,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS, sê die organisasies waardeer die ruimte vir konsultasie wat geskep word deur die uitstel van die toelatingsproses. “Ons hoop dat die nodige wysigings aan die stelsel aangebring sal word om ouers en leerders se grondwetlike reg op keuse van skool en taal van onderrig te bevestig,” sê Buys.

“Die een ding wat dit wys is dat die departement wesenlike probleme raaksien met betrekking tot die toelatingsproses,” sê Werner Human, adjunk-bestuurshoof van Solidariteit.

Albei organisasies is bekommerd oor die manier waarop die aanlynskoleregistrasieplatform opgestel is: Volgens die departement en proeflopiestelsel maak dit glad nie voorsiening daarvoor dat ouers self kan besluit watter skool hul eerste keuse vir hul kinders is nie. Die skool wat geografies die naaste aan die ouers se woonadres geleë is, word ongeag die skool se taalmedium van onderrig, vakaanbod of selfs koshuisopsies bloot as primêre keuse aangebied.

In ‘n dringende prokureursbrief het AfriForum en SOS Maandag gevra dat die stelsel aangepas of die proses uitgestel word tot die stelsel hersien kan word sodat ouers wel op grond van hierdie aspekte ’n keuse kan uitoefen.

Verder voel albei organisasies sterk daaroor dat leerders wat vanjaar reeds vir gr. R by ’n laerskool geregistreer is, voorkeur moet geniet vir gr. 1-plasing in dieselfde laerskool in 2020.

Laai die brief vanaf die departement hier af:

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.