fbpx

Gautengse onderwysdepartement ignoreer gemeenskap se besware oor toelating

Die Gautengse departement van onderwys het die insette van duisende belanghebbendes blatant ignoreer deur nuwe regulasies vir die toelating van leerders in Gautengse skole te publiseer.

 

Só meen die Skoleondersteuningsentrum (SOS), nadat goedgekeurde wysigings aan toelatingsregulasies vir skole vandeesweek in die provinsiale staatskoerant gepubliseer is. Die wysigings stem grotendeels ooreen met voorgestelde wysigings wat in Augustus verlede jaar gepubliseer is. Die SOS, Solidariteit en AfriForum het destyds teen dié wysigings beswaar gemaak, omdat die regulasies skoolgemeenskappe magteloos laat en moedertaal onderrig ontken.

 

Volgens die wysigings sal die provinsiale onderwysdepartement totale beheer hê oor die administrasie van toelatings tot Gautengse skole. Die departement het die laaste sê oor watter leerders tot ’n skool toegelaat word en het die reg om leerders wat nié tydens die toelatingsproses geplaas word nie, in ’n skool te plaas, afgesien van die betrokke skool se toelatingsbeleid. Dit bepaal ook dat die departement kan sê wanneer ’n skool vol is en dat skole nie leerders mag weier op grond van hul taal nie.

 

In ’n poging om te keer dat voorgestelde wysigings aan toelatingsregulasies aanvaar word, het die SOS, Solidariteit en AfriForum verlede jaar 14 000 kommentare vanaf belanghebbendes aan die departement oorhandig, wat die wysigings teenstaan. Ten spyte hiervan is die voorgestelde wysigings net so aanvaar.

 

“Hierdie wysigings perk skoolbeheerliggame se magte om skole te bestuur, drasties in. Dit laat dus gemeenskappe totaal magteloos oor die opvoeding van hul kinders en sal nadelig wees vir alle skole,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS. Buys wys daarop dat skole floreer in gevalle waar die gemeenskap betrokke is en ’n aktiewe rol speel in die bestuur van ’n skool. “Uitnemende skole steun swaar op ondersteuning vanaf die gemeenskap, aangesien hulle min hulpbronne vanaf die departement ontvang. Hierdie magsvergryp deur Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, sal tot gevolg hê dat gemeenskappe hul geld, tyd en kundigheid aan skole onttrek.”

 

Carien Bloem, AfriForum se koördineerder van onderwys, sê dit is problematies indien die departement leerders in skole plaas, al is hulle nie die taal van onderrig magtig nie. “Dit sal net verdere druk op hoofde en onderwysers plaas om self die probleem op te los, aangesien die departement nie bykomende hulpbronne en onderwysers aan skole verskaf om in meer as een taal te onderrig nie.”

 

Volgens Buys het die organisasies reeds verlede jaar ’n regsmening ingewin in verband met die beplande wysigings. “Die publikasie van wysigings soos dit tans daarúít sien, laat ons geen ander keuse as om weer met ons regsadviseurs te konsulteer oor ’n verdere aksieplan nie,” sê Buys.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.