fbpx

GDO maak toegewings oor aanlyn-toelatingsproses

Die Gautengse Departement van Onderwys het in ’n brief aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS) bevestig dat hulle die aanlynstelsel aangepas het om voorsiening te maak vir leerders se voorkeur taal van onderrig. Die departement het ook die stelsel aangepas om ouers ’n opsie van verskeie skole binne hul voedingsarea te bied.

Die SOS, in samewerking met AfriForum, het verlede week ’n brief aan die GDO gestuur, waarin hulle eis dat leerders se taal van onderrig in aanmerking geneem word tydens die aansoekproses. Hulle het ook beswaar gemaak daarteen dat ouers slegs die skool naaste aan applikante se woonadres as eerste keuse kan aandui, maak nie saak wat die skool se taal van onderrig is nie. Die aanlyn-aansoekproses is gevolglik met ’n week uitgestel na 20 Mei, om die departement kans te gee om op hierdie versoeke te reageer.

Wat sê die brief

Luidens die brief wat Dinsdag van die departement ontvang is, het die departement reeds veranderinge aan die stelsel gebring, sodat ouers ’n keuse het van al die skole binne die voedersone waarin die applikant se woonadres geleë is. Die departement beloof ook om die leerder se taal van onderrig en leer in ag te neem wanneer leerders aan ’n bepaalde skool geplaas word. “Die departement het die kennisgewing op die platform verwyder wat aandui dat taal van onderrig slegs vir statistiese doeleindes aangedui word. Ons gee die versekering dat taal van onderrig oorweeg sal word wanneer leerders by ’n skool geplaas word,” lees die brief vanaf die departement.

Die SOS se reaksie hierop

“Ons waardeer die departement se regstellings aan die stelsel en voel gemaklik dat die onmiddellike bedreiging nou uit die weggeruim is, deurdat ouers nie meer beperk word tot ’n enkele skool die naaste aan hul woonadres nie,” sê Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling aan die SOS. “Ouers kan nou kies uit verskeie skole binne hul voedersone en dit is beslis ’n stap in die regte rigting.”

Met betrekking tot die departement se belofte om leerders se taal van onderrig in ag te neem sê Buys, “Ons sal fyn dophou hoe hierdie onderneming toegepas word. Intussen moedig ons skole aan om hul taalbeleid toe te pas wanneer hulle leerders se aansoeke aanvaar, aangesien taalbeleid ’n gevestigde reg is en deur die nasionale norme en standaarde vir taalbeleid onderskryf word.”

Die SOS en AfriForum aanvaar ook die departement se uitnodiging om die stelsel te toets voor die aansoekproses Maandag afskop.

“Dit is egter steeds van uiterste belang dat ouers hul kinders Maandag inskryf sodra die platform om 08:00 aktief word,” sê Buys.  

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.