fbpx

GDO moet toelatingsregulasies korrek toepas tydens plasingsproses

14 Augutstus 2019

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) is in die proses om ’n regsbrief aan die Gautengse Departement van Onderwys te rig, om die departement te verplig om die toelatingsregulasies korrek toe te pas wanneer hulle gr1 -en gr.8-leerders by skole plaas.

Ouers het tot einde Julie geleentheid gehad om hul kinders deur middel van die departement se aanlynplatform by ’n skool van hul keuse in te skryf. Die Departement het die afgelope week met n baie eensydige proses begin om leerders in skole te plaas, sonder inagneming van skole se insette.

Die (SOS) het van verskeie skole verneem dat die departement leerders wat die naaste aan skole bly, voorkeur gee bo leerders wat ook binne die voedersone bly, al het hierdie leerders se ouers nie eerste aansoek gedoen nie. “Volgens die regulasies moet leerders wat eerste aansoek doen en binne die skool se voedingsgebied woon, eerste geplaas word. Die SOS wil ook verseker dat die departement die leerder en skool se taal van onderrig en leer in aanmerking neem by die plasing van leerders,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS.

Afrikaanse leerders wat binne sekere skole se voedersones woon, wat binne die eerste uur aansoek gedoen het, word nou van die lys verwyder ten gunste van Engelse leerders wat nader aan die skool bly, maar baie later eers aansoek gedoen het vir toelating. In meeste gevalle waar hierdie leerders hul plek verloor in Afrikaanse enkel -of parallelmedium skole, is daar geen ander Afrikaanse skole binne die voedersone nie.

Die departement het ook Maandag ’n boodskap aan verskeie ouers gestuur waarin hulle vereis dat ouers fisies hul woonadresse by die departement se kantoor in Johannesburg moet gaan bevestig. Die SOS is egter bly om te verneem dat die boodskap Dinsdag teruggetrek is, aangesien die regulasies bepaal dat stawende dokumentasie vir aansoeke slegs by die betrokke skool ingedien moet word. “Volgens die departement behoort die aanlynplatform ouers en skole moeite te spaar, maar ons sien toenemend dat dit net meer moeite en chaos veroorsaak,” sê Buys. Sy raai ouers aan om enige soortgelyke boodskappe vanaf die departement te ignoreer.

Deur Elaine Krige, Skakelbeampte: SOS

Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
[gravityform id=36 title=false description=false ajax=true tabindex=49]

Tags


Lees meer...