“Die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) probeer deur dreigbriewe plek skep in skole wat nie bestaan nie en oor die afgelope 20 jaar nié deur die regering gebou is nie,” sê Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).
Heelwat Afrikaanse en ander goeie skole in Gauteng het briewe van die departement ontvang waarin hulle gedruk word om tot soveel as 25% meer leerlinge te huisves as waarvoor hulle maksimum kapasiteit het. Volgens Buys bring hierdie oorbevolking leerders se veiligheid in gedrang en benadeel dit veral die gehalte van onderrig wat aangebied word. “Hierdie optrede probeer jarelange wanprestasie van die regerende party toesmeer en is geensins opvoedkundig verantwoordbaar nie. Die risiko vir leerders se veiligheid as gevolg van oorvol kapasiteit is een waaroor skoolbeheerliggame en besture nie verantwoordelikheid sal neem nie. Die GDO sal direk verantwoordelik gehou word vir die minagting van bouregulasies en veiligheidvoorskrifte.”
Die GDO verkeer onder groot druk om leerders vir plasing in graad een en agt in 2024 in dié provinsie te akkommodeer. Dit is ’n jaarlikse dilemma omdat die departement nie voldoende skole voorsien om aan die groeiende vraag in die provinsie te voldoen nie. “Dit is kommerwekkend dat die provinsie miljarde rande wat deur die jare toegeken is om meer skole te bou, nie spandeer het om voldoende kapasiteit in skole te skep nie,” noem sy. “Die SOS eis dat die GDO inligting bekend maak op grond waarvan hulle die kapasiteit van skole soveel hoër bereken as die bestaande syfers.”
Wanfunksionele skole in Gauteng veroorsaak dat ouers nie hulle kinders in skole naaste aan die huis wil plaas nie, maar probeer om plek in funksionele skole te kry. “Wanfunksionele skole word nie aanspreeklik gehou of reggeruk nie, maar druk word op goeie skole geplaas om meer en meer leerders in te neem,” voeg Buys by.
Die GDO poog nou om enkelmedium Afrikaanse skole wat reeds vol is met Afrikaanse leerders te dwing om vir Engelse leerders plek te maak. Dit sal beteken dat Afrikaanse leerders plek moet afstaan aan Engelse leerders, wat bloot die probleem vergroot. Omskakeling van enkelmedium Afrikaanse skole na parallelmediumonderrig lei telkens tot die verengelsing van hierdie skole. Dit is fataal vir Afrikaanse moedertaalonderrig.
Dit is belangrik dat skole wat geteiken word se beheerliggaam dadelik, op skrif, weer die kapasiteit regstel, volgens die skool se professionele kapasiteitbepaling. Die SOS ondersteun AfriForum se veldtog om hierdie optrede te beveg en moedig Afrikaanse skole se beheerliggame aan om ʼn mandaat aan AfriForum te gee om namens hulle op te tree.
Enige navrae in die verband kan gestuur word aan [email protected].