Geen grondige rede om skole later te heropen

Dit is belangrik dat leerders so gou moontlik terugkeer skool toe om verdere akademiese agterstand te voorkom. Skole is veiliger omgewings as ander openbare ruimtes. Hul roetine om die Covid-pandemie te bekamp is omvattend en verlede jaar reeds deeglik ingeoefen.

Te midde van die tweede vlaag van die Covid-19 pandemie, staan leerders en onderwysers aan die begin van ‘n nuwe skooljaar, en ouers is bekommerd oor die gesondheidsrisiko’s wat verband hou met die heropening van skole. Aan die ander kant is ouers ook bekommerd oor hul eie werk en oor hul kinders se vordering op skool. Toesig vir kinders wanneer ouers moet terugkeer werk toe, is ‘n verdere kopseer.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) ondersteun die veilige heropening van skole. Dit is tot voordeel van alle leerders. Resultate van internasionale vergelykende studies wat onlangs bekend gemaak is, het groot agterstande in die algemene standaard van Wiskunde- en Wetenskaponderrig in Suid-Afrika uitgewys. Hierdie agterstande het reeds voor die pandemie by baie skole bestaan. Verdere verlies aan onderrigtyd, kan leerders net benadeel – veral in skole wat steeds nie opsies vir aanlyn leer in plek het nie.

Daar was tot dusver bitter min voorvalle van Covid-verspreiding in skole. Toename in positiewe gevalle het juis ontstaan gedurende die vakansie – terwyl skole gesluit was. Met Covid-siftingstoetse (Rapid Antibody Testing) wat tans binne 15 minute ‘n uitslag kan gee, is daar selfs meer voorsorgmaatreëls wat in plek gestel kan word.

Gedurende 2020 is daar in totaal 1659 onderwysers oorlede, onder andere as gevolg van Covid-19; die meerderheid was laerskoolonderwysers. Elke onderwyser wat sterf, laat ‘n groot leemte in ‘n skool en in die onderwysstelsel. Volgens die School Realities-verslag was daar in 2019 ongeveer 444 000 onderwysers landswyd. Beskikbare getalle van bekwame onderwysers word jaarliks beïnvloed deur onderwysers wat aftree en die beroep vir groener weivelde verlaat. Hugo Vermeulen, hoof van Opleiding by die SOS, sê dat daar reeds druk op onderwysers se getalle is en dat die Covid-19 pandemie hierdie druk verhoog.

“Die tweede vlaag van die virus is vir ons almal ‘n bekommernis, maar skole het tot dusver baie goed gedoen om ‘n veilige omgewing vir beide onderwysers en leerders te bied. Die huidige tekort aan onderwysers kan aangespreek word deur finalejaar onderwysstudente tydelik aan te stel of deur gekwalifiseerde onderwysers wat tans buite die beroep staan, terug te lok. Stadige aanstellingsprosesse kniehalter ongelukkig boonop dié proses.”

Vermeulen benadruk dat dit uiters belangrik is vir leerders, veral in sleutelgrade soos Gr. 1, 4, 8 en 11, om nie verder onderrigtyd te verloor nie en so gou moontlik terug te keer skool toe.

Onderwysers met komorbiditeite (ʼn chroniese gesondheidstoestand of ʼn meewerkende siekte wat saam met die impak van Covid-19, die siekte kan vererger) kan onderrig voortsit deur aanlyn leerplatforms wat gedurende die eerste inperkingsperiode in 2020 deur baie skole in plek gestel is.

Die voorgestelde datums vir die heropening van skole is 25 Januarie 2021 vir onderwysers en 27 Januarie 2021 vir leerders.

Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.