Melanie Buys
Hoof van Ontwikkeling: SOS
Bykans 630 skole is tydens die onlangse vloede in KwaZulu-Natal beskadig, 124 skole het omvangryke skade opgedoen. Brûe en paaie het weggespoel en derduisende kinders kan nie by hulle skole uitkom nie. Die staat bereken die koste van herstel van skole op R442 miljoen. Die vraag in almal se gedagtes is natuurlik: As die staat nie eers paaie in goeie tye kan instandhou nie, hoe op aarde gaan hulle onderwys in KwaZulu-Natal betyds herstel dat leerders, na COVID-inperking se onderwysverliese, nie nóg verder agter raak nie.
Tornado aan die Wesrand
In Oktober 2017 het soortgelyke gebeurtenis die krag van gemeenskappe gewys: ʼn Tornado het twee skole aan die Wesrand se dakke afgeruk en ernstige strukturele skade veroorsaak. Die ouers is ingelig dat die skole tot verdere kennisgewing gesluit sou wees, maar die gemeenskap het anders besluit. Om vir Departement van Openbare werke te wag, was buite die kwessie. ʼn Week later is voldoende opruimingswerk by Laerskool Muldersdrif gedoen, dat leerders kon terugkeer skool toe. Die beheerliggaamvoorsitter het gesê hulle was oorweldig deur soveel mense wat bereid was om te help. Die skade aan Laerskool Protearif was selfs groter, en leerders is in ‘n kerk en nabygeleë (onafhanklike) skool geakkommodeer. Skenkings en hulp het van oral ingestroom. In Januarie 2018 was al die herstelwerk voltooi en leerders was weer op hulle plek.
Hierdie verhaal van opbou en saamwerk, staan in skrille kontras met meer as 2000 skole wat sedert begin van die inperkings in 2020 gevandaliseer of vernietig is – veel meer as wat die vloede in KZN beskadig het of persentasie gewys tydens die Tweede Wêreldoorlog in Brittanje vernietig is.
Gemeenskappe het die potensiaal om skole se grootste bondgenote, óf skole se grootste vyande te wees.
Elke skool staan in noue vennootskap met die gemeenskap wat hulle bedien. In Suid-Afrika sien ons dat sommige skole floreer, ten spyte van beperkte hulpbronne en onbevoegde onderwysowerhede. Wanneer ouers, lede van die gemeenskap en instellings soos kerke by skole betrokke raak, baat die hele gemeenskap daarby. Volwasse deelname stuur die boodskap dat skool belangrik is en dat die werk wat leerders daar doen, die aandag en ondersteuning van volwassenes verdien.
Groter verantwoordelikheid vra eienaarskap
Minister Motshekga doen gereeld beroep op skoolbeheerliggame, ouers en gemeenskappe gom hul skole te waardeer en te beskerm. Groter selfstandigheid en inspraak lei inderdaad tot meer aanspreeklikheid en eienaarskap. Die onderwysstelsel moet dit bevestig deur meer magte en verantwoordelikhede na skoolvlak af te wentel.
Ongelukkig ervaar openbare skole jaarliks groter sentralisering en meer voorskriftelikheid deur die staat. As ʼn gemeenskap geen sê het oor hulle skool nie en geen bydrae tot die sukses van die skool maak nie, neem hulle ook nie verantwoordelikheid nie.
Gratis onderwys is dikwels verniet
Goeie openbare skole is byna almal afhanklik van skoolgeld om te oorleef. Ouers wat skoolgeld betaal, hou die skool verantwoordbaar om ʼn opbrengs op hul belegging te lewer in die vorm van goeie onderwys.
In skole waar ouers geen skoolgeld betaal of op ander maniere betrokke is nie, voel hulle dikwels ook magteloos om op goeie onderwys aan te dring. Ouers en leerders ervaar geen aandeel in die sukses van die skool nie en voel dus ook min verantwoordelikheid om fasiliteite en hulpbronne te beskerm en te verbeter.
Ouers se bydrae tot sukses van ʼn skool is nie net finansieel nie; grasplant op sportvelde, hulp met noodsaaklike instandhouding, sportafrigting en fondsinsameling, is net so belangrik. Mense heg meer waarde aan iets waarvoor hulle opoffer en werk.
Om standaarde te behou en skole vir toekomstige geslagte uit te bou, moet skole kan reken op die betrokkenheid, vrygewigheid en beskerming van die gemeenskap. Dit is slegs moontlik wanneer ouers en leerders voel dit is “ons skool”. Die sukses van Afrikaanse skole is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.