deur Dr. Danie Langner, Besturende Direkteur: FAK
My dogter neem geskiedenis as keusevak. Hierdie jaar, gaan hulle soos vorige jare weereens apartheid behandel. Die struggle-geskiedenis, Apartheidswette, die impak van die Groepsgebiedewet, die Freedom Charter, Sharpeville en die Soweto-opstande. Deur die geskiedenis gaan sy Helen Joseph, Lilian Ngoyi, Steve Biko en Tsietsi Mashinini ontmoet. Die probleem is nie dat sy die geskiedenis leer nie, maar dat sy net hierdie geskiedenis gaan leer.
Regerings het ’n meesterverhaal nodig om hulle ideologie te vestig. Skoolgeskiedenis bied ’n handige instrument vir beïnvloeding. Milner het ná die Anglo-Boereoorlog in so ’n mate skoolgeskiedenis misbruik om Britse imperialisme te bevorder dat JD Kestell in 1926 oor die gevolge hiervan skryf, en daarop wys dat Afrikanerkinders die name van die Britse koningshuis op die punte van hul vingers ken, maar nie weet wie is Pieter Retief of Andries Pretorius nie. In 1990 het die FAK in sy tydskrif, Handhaaf, kritiek uitgespreek teen die eensydigheid van die NP-regering se geskiedeniskurrikulum. Vandag is dieselfde kritiek weereens nodig. Die ANC vereenvoudig ’n diverse en komplekse geskiedenis tot ’n eensydige meesterverhaal waarin apartheid die hoofrol speel.
Een van die redes waarom ons samelewing nie vandag tot kulturele volwassenheid kan groei nie, is omdat die ANC die apartheidsgeskiedenis broodnodig het om aan bewind te bly. Om rasgebaseerde wette en diskriminerende beleidsrigtings te regverdig, is dit vir die ANC en hulle napraters nodig om Afrikaners in die beskuldigdebank van die geskiedenis te plaas en Afrikanergeskiedenis te kriminaliseer. Deur te fokus op apartheid word die klimaat geskep om grypsug, korrupsie en misdaad te vergoeilik. Die ANC het apartheid nodig om hulle swak prestasie te verdedig.
In skoolhandboeke word Afrikaners bladsy na bladsy in ’n karikatuur van onderdrukking uitgebeeld. Afrikaners word kollektief aan apartheid skuldig bevind sonder dat die audi alteram partem-beginsel in skoolhandboeke gevolg word. Suid-Afrikaanse geskiedenis bestaan tog nie net uit wit skurke en swart helde nie. Dit is ontstellend om te dink watter rol die meesterverhaal speel in haatmisdade en geweld. Is dit dan onbillik en anti-versoening om te vra dat Afrikaners se geskiedenis in al sy skakerings billik, gebalanseerd en binne konteks behandel word?
Die FAK vra nie dat die apartheidgeskiedenis verswyg word nie, maar maak beswaar teen die eensydige aanbieding daarvan.
As die fokus dan moet val op die weerstand teen apartheid waarom net die rol van ANC-aktiviste belig en die kritiek teen apartheid van Afrikaners soos Bram Fischer, NP van Wyk Louw, Etienne le Roux, Breyten Breytenbach, Bartho Smith, Anton Rupert en Frederik van Zyl Slabbert verswyg?
Vertel vir geskiedenisleerders die struggle-geskiedenis, maar ook waarom dit beoordeel moet word in die konteks van die ANC se noue verbintenis met Sowjet-Rusland en Marxisme, die militarisering en terreurdade van die ANC en PAC, die invloed van die Anglo-Boereoorlog op die ontwikkeling van Afrikanernasionalisme en die republikeinse strewe in die twintigste eeu.
Vertel radikaal eerlik van polisiemartelings en Vlakplaas, maar ook van die martelings, doodstraf en verkragtings in ANC-militêre kampe in buurstate.
Vertel van rasgebaseerde wette, maar ook dat die ANC Uitvoerende Komitee eers in 1983 sy lidmaatskap vir alle rasse oopgestel het om Joe Slovo te akkommodeer.
Vertel van Sharpeville en die Soweto-onluste, maar ook van halssnoermoorde, die Kerkstraatbom en die gevolge van liberation before education wat infrastruktuur vernietig het en ’n kultuur van geweld en nie-betaling in swart gemeenskappe gevestig het.
Laat daar, in die woorde van NP van Wyk Louw, “tussen die engtes ’n dieper, meer ingewikkelde dink oor Suid-Afrika ontstaan as waarmee ons tot dusver tevrede was.”
Skoolgeskiedenis wat leerders die geleentheid ontneem om aan verskillende historiese invalshoeke blootgestel te word, om eie standpunte te formuleer en ’n genuanseerde kritiek daaroor te ontwikkel dra niks by tot politieke en kulturele volwasse debatvoering nie.
Dit is beslis ook nie nodig dat daar eenstemmigheid oor die verlede of oor standpunte moet wees om te versoen nie. Daar is vandag, 120-jaar na die verskroeideaarde-beleid geloods is, nie eers eenstemmigheid tussen Afrikaners en Britte oor die konsentrasiekampe nie. Daar is steeds nie eenstemmigheid oor die Duitse Nazi- geskiedenis nie. Nie na 1945 nie en ook nie vandag nie. Die Duitse nobelpryswenner Günter Grass het die vraagstuk oor Duitsers se sogenaamde kollektiewe skuld oor die gebeure tydens die Tweede Wêreldoorlog gekonfronteer deur te onderskei tussen veroorsaak en verduur. Daardeur het hy die grense van Duitse geskiedskrywing in die verband verskuif. Na aanleiding van die eensydige klem op swart konsentrasiekampe en die stilswye oor die sterwe van meer as 26 000 Afrikanervroue en kinders in geskiedeniswerksopdragte dink mens onwillekeurig aan JM Coetzee se vraag oor die naoorloogse Europa in Inner Workings: “Is the reason why we are not allowed to lament, together and in public, the deaths of those thousands of innocent children simply that they are German children?”
Die burgerlike samelewing moet bly praat ten gunste van ’n gebalanseerde kurrikulum, maar dit is onrealisties om te verwag dat die ANC ’n regstelling van hulle meesterverhaal in skoolhandboeke sal toelaat. Die toekoms van Afrikanergeskiedenis lê nie in ’n staatsgesentreerde kurrikulum nie, maar ’n gemeenskapsgesentreerde benadering waar Afrikaners self verantwoordelikheid neem om hulle eie geskiedenis weer in ere te herstel. Izak de Villiers skryf in 2004: “Ons geskiedenis lê aan skerwe. Konfronteer jou duiwels, maar soek ook jou engele. Jy vertrap nie jou helde nie, jy bou hulle.”
Die sleutel om kinders aan ’n gebalanseerde geskiedenis bloot te stel, lê gelukkig nie net by die skoolkurrikulum nie, maar veral in die hande van die klasonderwyser. NP van Wyk Louw se pleidooi aan onderwysers in die apartheidsjare is vandag steeds relevant: “… laat hulle (onderwysers en dosente) nie deur ’n soort skrik tot propagandiste gemaak word vir tydelike en verbygaande sake nie; ons leerlinge groei op, nie vir vandag alleen nie, maar vir ’n tyd van twintig of vyftig jaar later; en vir die toekoms voed ons hulle die beste op deur hulle vry en objektief te leer dink.”
Versoening sal slegs ’n werklikheid word in die mate waarin Suid-Afrikaners hulle anderkant apartheid kan definieer. ’n Polities en kultureel-volwasse demokrasie skep die ruimte vir ’n veelheid van historiese verhale uit verskillende gemeenskappe en beskou as ’n bate wanneer kultuurorganisasies eienaarskap van hulle geskiedenis neem.
Die FAK sal voortgaan om ’n gemeenskapstrategie rondom Afrikaners se historiese bewussyn te ontwikkel.