Gesprek met James Kemp van Pretoria FM oor plasings in Gautengse skole

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Donderdagoggend met James Kemp gesels oor die probleem met plasings in Gautengse skole en hoe dit Afrikaanse skole raak.

Hier is als wat jy moet weet oor die syfers, die politiek en Afrikaanse skole se regte:

Hoeveel leerlinge moet nog geplaas word? 

Die departement het Maandag begin om die 6800 leerlinge wat nog nie plek het in skole nie, te plaas in skole buite hul voedingsgebied. Veral skole in Centurion en Kempton Park het glad nie meer plek nie en leerlinge wat hier woon, moet nou in skole baie vêr van hul huise geplaas word. Tans moet nog net 748 leerlinge geplaas word. Dit sluit egter steeds nie die 21 000 leerlinge in wie se ouers nie betyds dokumentasie ingehandig het nie en ook nie die duisende ouers wat nie tussen Mei en Junie aanlyn aansoek gedoen het om ’n plek in ’n skool vir volgende jaar nie. Baie ouers verhuis ook eers oor Desember na Gauteng en gaan dus eers aansoek doen om plek wanneer die skole volgende jaar oopmaak. Die departement sal dus waarskynlik weer in Januarie stoei om duisende leerlinge in oorvol Gautengse skole te plaas.

Waarom sukkel ons jaarliks om plek vir alle leerlinge in Gautengse skole te kry?

Die departement het te lank gesloer om nuwe skole te bou. Data het reeds voor 2014 aangedui Gauteng gaan ’n tekort aan plek in skole hê, weens die toevloei van leerlinge uit ander provinsies na Gautengse skole. Selfs nadat dit duidelik geword het dat ons ’n ernstige tekort aan skole het, het die departement eerder miljoene aan die bou van spesialis-skole spandeer, wat net aan ’n handjie vol leerlinge se behoeftes voldoen, as om hoofstroom skole te bou waarby die meerderheid van leerlinge kan baat. ’n Voorbeeld hiervan is die peperduur Lugvaartskool wat in Julie in Kempton Park oopgemaak het.

Hoeveel nuwe skole is gebou?

Volgens die Gautengse Departement van Onderwys se 2018 Begrotingstoespraak wat in Junie gelewer is, het die departement 43 skole sedert 2014 gebou. Lesufi het in Augustus tydens ’n openbare vergadering by Sutherland High School gesê sy departement het 47 skole gebou sedert 2014. Verlede week tydens ’n mediakonferensie het die aantal nuwe skole skielik gestyg na 54. Die vraag is dus of Lesufi ons opsetlik probeer mislei en of hy net totaal onbewus is van wat werklik in sy departement aangaan.

Is daar werklik te min skole?

Die departement het nodig om tussen 50 en 80 nuwe skole elke jaar te bou, weens die jaarlikse invloei van leerlinge uit ander provinsies. Die departement bou dus hopeloos te min skole. Die SOS is egter van mening dat die druk op skole aansienlik verlig kan word, deur die gehalte van onderrig in Townshipskole te verbeter. Lesufi erken self dat etlike Engelse skole leegloop, omdat ouers nie vertroue het in die gehalte van onderrig aan dié skole nie. Hierdie skole kry jaarliks net tussen 10 en 30 nuwe aansoeke vanaf ouers wat hul kinders hier wil inskryf, terwyl meeste Afrikaanse skole jaarliks meer as ’n 1000 aansoeke kry. Hoekom word leerlinge nie eerder in leë Engelse skole gedruk nie, eerder as om Afrikaanse skole te dwing om meer leerlinge in te neem?

Hoe word Afrikaanse skole hierdeur beïnvloed?

Die departement wil nou Afrikaanse skole, wat reeds stampvol is, dwing om meer leerlinge in te neem. In baie gevalle is dit Engelse leerlinge, wat uit townships vlug weens swak onderrig. Ons sien nou dat al meer Afrikaanse skole, nes HS Overvaal aan die begin van die jaar, gedwing word om ’n paar Engelse klasse in te neem volgende jaar. Hierdie skole het eenvoudig nie plek vir nog leerlinge nie. Die realiteit is ook dat Afrikaans as onderrig taal hierdeur bedreig word, omdat parallelmedium skole gewoonlik oorskakel na enkelmedium Engelse skole, weens ’n gebrekkige finansiële model om gehalte onderrig aan hierdie skole te verseker. Lesufi sê hy kan nie anders as om Engelse kinders in Afrikaanse skole te plaas nie.

Maar kom ons maak somme met regte syfers sonder politiek: In Gauteng is daar 2090 skole (waarvan 137 Afrikaans is = 6,5% ). As die Gautengse departement van onderwys 6800 leerders moet plaas, in 2090 skole, is dit minder as vier leerlinge per skool.

Wat is Afrikaanse skole se regte?

Die hofuitspraak ten gunste van die Hoërskool Overvaal vroeër vanjaar, het dit duidelik gemaak dat skole nie verplig is om leerlinge in te neem as die skool vol is, of indien dit teenstrydig is met hul taalbeleid nie. Indien Afrikaanse skole deur die departement genader word om Engelse leerlinge in te neem, moet daarop aandring dat die departement ’n skriftelike versoek aan die skool se Beheerliggaam rig. Die Beheerliggaam het dan die reg om hierdie versoek, na oorweging, te verwerp. Skole wat onbehoorlike druk vanaf die regering ervaar, kan die SOS kontak by [email protected]

 

 

 

 

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.