deur Charlotte Fourie, Wolkskooldosent
Veels geluk, liewe September-baba!
As ek vir iemand vertel dat ek in September verjaar, is die reaksie soms iets rondom hoeveel my ouers Nuwejaar in 1991 geniet het – óf “ek ook!”. As kind is jou verjaarsdag ‘n absolute hoogtepunt, maar ek sukkel deesdae om van September te hou.
September is ‘n maand wat my beursie breek. Nie net verjaar my skoonma, broer, skoonsuster, peetma, niggie en nefie in September nie, maar vyf kollegas het ook hul aankoms in September gemaak – die R50-stokvel en R100-geskenke sit my finansieel heelwat terug (vir almal wat hierdie lees, ek doen dit met liefde ?). Die kersie op die koek is die koue teleurstelling van ‘n jas en stewels op “lentedag”.
In die Afrikanergeskiedenis was September ook nie ‘n besondere vrolike maand nie. Op 16 September 1795 wapper die Britse vlag die eerste keer by die Kasteel, nadat Engeland die Kaap verower het, in September 1901 steel die Anglo-Boereoorlog talle jong mans se toekoms en op 3 September 1939 breek die Tweede Wêreldoorlog uit! (Bron: Google)
Google. In 2017 het ek Rekenaartoepassingstegnologie vir graad 10-leerders gegee. In Fase 1 van die Praktiese Assesseringstaak (PAT) moet die leerders talle bronne raadpleeg en dan ‘n bronnelys saamstel. In meer as helfte van die klas se bronnelys het daar gestaan “Google”. Net dit. Die woord Google. Toe ek vir hulle sê dat Google nie ‘n geldige bron is nie, was die reaksie skok en “maar waar moet ons dan die inligting kry???”. Ek het vir ‘n rukkie stilgebly, want ek kon nie verstaan wat hulle bedoel nie. Toe ek snap, was ek so oorval met die giggels dat ek eers die volgende dag vir hulle kon verduidelik dat Google wel ‘n manier is om die inligting op te soek, maar dat hulle nie net “Google” kan skryf in hulle bronnelys nie.
Google is ‘n soekenjin. ‘n Soekenjin gebruik allerhande slim tegnieke en programme om die WWW te deursoek vir webblaaie wat jou soekfrase bevat en vertoon dan vir jou ‘n lys webblaaie (of “hits”). Jy kan toegang tot ‘n soekenjin, soos Google.com, kry deur middel van ‘n program of toep wat ‘n webblaaier (“webbrowser”) genoem word. Gewilde webblaaiers is Google Chrome of Safari. Ek vra gereeld in my Inligtingstegnologie-assesserings op Die Wolkskool vir leerders om die woord te kies wat nie pas nie: Google, Google Chrome, Safari of Mozilla Firefox (as jy nie die antwoord weet nie, lees hierdie paragraaf weer).
September, alhoewel vir mý ‘n moeilik maand, is ‘n belangrike maand vir ons almal se beste vriend, Google. Google het in September 1998 sy debuut gemaak en in die jaar van sy 22ste verjaarsdag, is hy wêreldbekend. “Google dit” is twee woorde wat ek minstens twee keer ‘n dag hoor of self sê.
Onseker oor hoe die nuwe skottelgoedwasser werk? Google dit.
Op soek na die naaste DisChem? Google dit.
Beste onderwysplatform in Afrikaans? Google dit – of besoek sommer www.wolkskool.co.za.
Veels geluk, liewe September-baba en beste vriend, Google!
Terwyl ons die visionêre leiers van die GRA uit 1875 eer, staan GeRAT vandag as ‘n simbool van daardie erfenis, waar ons passie vir Afrikaans en sy kultuur voortduur. Deur op hierdie geskiedenis te bou, aanvaar ons die plig om die hart van Afrikaans vir toekomstige generasies te bewaar en te versterk en, 145 jaar later, bly ons standvastig en toegewyd aan die taal en kultuur wat ons so liefhet.