Marnelda de Beer
SOS-spesialis: Grondslagfase
Vandag se sakeleiers beweer dat daar ʼn tekort aan jongmense is met die nodige opleiding en vaardighede om sekere beroepe te vul. Teen 2030 gaan daar wêreldwyd na raming 1,8 miljard jongmense wees wat nie die vaardighede of kwalifikasies gaan hê wat nodig is om aan die arbeidsmag deel te neem nie. Namate die werkplek verander, as gevolg van die Vierde Industriële Revolusie, en veral met die opkoms van outomatisering en kunsmatige intelligensie, sal daar ‘n verskuiwing moet plaasvind in hoe jongmense toegerus word met die toepaslike vaardighede en kennis.
“Preparing tomorrow’s workforce for the Fourth Industrial Revolution” is ‘n nuwe verslag van Deloitte Global en die Global Business Coalition for Education wat uitgereik is. In die verslag is ‘n raamwerk uiteengesit waarvolgens ondernemings ondersteun word om die toekoms van jeugvaardigheidsontwikkeling binne die wêreld van werk te ondersteun. Die verslag voer aan dat die gebrek aan voldoende opleiding van die volgende generasie werkers vir die digitaal-gedrewe ekonomie tot groter inkomste-ongelykheid, verhoogde werkloosheid, verhoogde staatsuitgawes en meer massamigrasies sal lei. Die doemprofete skep wel ʼn neerdrukkende blik op die toekoms, maar dit verskaf ook geleenthede vir ontwikkeling en entrepreneurskap.
Tydens hierdie Vierde Industriële Revolusie benodig jongmense vier kernvaardighede om suksesvol in die werkplek te funksioneer. Een van die vier kategorieë is die ontwikkeling van sagte vaardighede, onder andere Entrepreneurskap. Sagte vaardighede bied aan jongmense die vermoë om op ʼn hoë vlak in die werkplek te presteer. Sagte vaardighede kan reeds met sukses vanaf ʼn jong ouderdom ontwikkel word.
Die vraag is egter: “Hoe gaan ek my kind voorberei vir die toekoms in die Vierde Industriële Revolusie (4IR)?”
Kodering word ook soms rekenaarprogrammering genoem. Dit behels die kommunikasie tussen die mens en die rekenaar. Die Kode vertel vir die rekenaar watter aksies om uit te voer. Kodering is dus ‘n stel instruksies wat geskryf word in ‘n spesiale taal. Hierdie instruksie word ‘n algoritme genoem. Mense gebruik hierdie programmering om webwerwe en toepassings (Apps) te onwikkel asook om data te prosesseer en robotte te laat beweeg. Algoritmes word in enige elektroniese toestel gebruik, van jou slimfoon tot die rekenaarspeletjies wat jou kind speel. Kodering is een van die belangrike vaardigheid wat enige jong leerder, vanaf graad een, sal help om sagte vaardighede sowel as ander kognitiewe vaardighede te ontwikkel.
Kodering ontwikkel sagte vaardighede soos:
- Probleemoplossing – Die vermoë om ‘n probleem op te los, is gewoonlik ‘n kenmerk wat in die lewe gebruik word. U sal beslis wil hê dat u kind ‘n nederige en slim probleemoplosser moet word. Deur te leer om te kodeer, sal beslis help met die kognitiewe ontwikkeling van u kind.
- Deursettingsvermoë – As kinders leer kodeer, ontwikkel hulle die vermoë om hul man te staan na moontlike mislukkings. Hulle leer gaandeweg dat mislukkings immers nie ‘n slegte ding is nie. Eintlik is dit net een verdere stap na sukses. Dit is een van die belangrikste redes waarom kinders moet leer hoe om te kodeer, aangesien hulle die hele konsep van kodering vinniger as ‘n volwassene begryp. Hulle word hierdeur gelei om leer op ‘n meer doeltreffende manier te benut sodra hulle volwasse is en in die arbeidsmag staan.
- Kreatiwiteit – Steve Jobs het by geleentheid gesê: “ʼn Rekenaar is ‘n fiets vir jou gedagtes.”
Deur te leer om te kodeer, leer hulle dat daar meer as een oplossing vir probleme is. Rekenaarprogrammering gaan nie net daaroor om hulle te leer hoe om ‘n reël kodes te skryf nie, maar om hulle in ‘n situasie te kan plaas waar hulle hul kognitiewe denke moet uitdaag om ‘n logiese oplossing vir ‘n probleem te vind. Hulle sal leer hoe om ‘n groot probleem op ‘n effektiewe manier op te los. Kinders wat leer om te kodeer, gebruik die kreatiewe kant van hulle brein om idees in iets nuttigs en effektief te omskep.
- Kommunikasie – Leerders moet enige probleem wat hulle moet oplos, aan ander leerders en die onderwyser verduidelik. Goeie kommunikasie vermoë en woordeskat is nodig om die boodskap korrek oor te dra.
- Samewerking – Dit leer leerders om met ander leerders saam te werk asook gesamentlik aan ʼn projek te werk.
- Kognitiewe denke – Leerders leer dat geleerdheid ‘n proses en nie ‘n produk is nie.
Hetsy jou kind oor 12 jaar die volgende programmeerder vir Apple of Samsung gaan wees of enige ander beroep gaan beoefen, sal hy of sy sagte vaardighede nodig hê om dit suksesvol te kan doen. Gee jou kind daardie voorsprong om baie belangrike vaardighede deur middel van spel en genot te ontwikkel.
Kyk na die webblad vir verskeie gratis koderingsprogramme om hom of haar ʼn voorsprong te gee:
https://www.coderkids.com/blog/top-10-free-coding-programs-for-kids