fbpx

Hoe gemaak om ʼn liefde vir lees by jou kind te kweek?

deur Elisma van der Watt

Lees is die grondslag vir sukses, nie net op skool nie, maar ook vir latere sukses in jou beroep. Daarom is dit belangrik om ʼn liefde vir lees van kleins af by jou kind te kweek en dit is verseker die grootste geskenk wat jy vir jou kind kan bied. Ongelukkig is die realiteit dat baie skole deesdae beperkinge op tyd, personeel en hulpbronne het – en die mediasentrum en leesperiodes is dikwels van die eerste dinge wat in die slag bly. Hier is ʼn paar nuttige wenke om ʼn liefde vir lees by jou kind te kweek.

Die liefde vir lees moet tuis gekweek word. ’n Kind wat groot word in ’n huis met ’n boekrak en ouers wat dikwels vir plesier lees, word van kleins af vertroud met die idee dat boeke ’n aangename, ontspannende aktiwiteit kan wees. Dit is ook belangrik dat ouers tyd belê in storietyd. Maak dit ʼn lekker interaktiewe aktiwiteit.

Begin met eenvoudige boeke wat in jou kind se moedertaal geskryf is, sodat hulle verstaan wat gelees word. Sodra jou kind self kan lees, laat hy vir jou voorlees. Dit sal die bou van die woordeskat en spelling van jou kind ook verbeter. Bied ook die geleentheid aan die kinders om self boeke te kies oor onderwerpe waarin hulle belangstel. Maak ook seker dat jou huis leesvriendelik is met genoeg plek om lekker op te krul met ʼn boek. Die boekrak moet ook so van aard wees dat dit maklik vir jou kind is om boeke in die hande te kry.

Bederf jou kinders van jongs af met uitstappies na die boekwinkel. Dit is goed om kinders aan te moedig, om rustig in die hoekie van ʼn boekwinkel te gaan sit en deur die boek te blaai en lees.

Beloon jou kind gereeld. Sielkundiges bevind dat kinders wat geprys word vir hulle insette en pogings eerder as hoe slim en oulik hulle is, meer gemotiveerd is en presteer dan beter. Dit bly dus belangrik hoe kinders beloon en geprys word. Na elke hoofstuk of selfs elke boek wat klaar gelees is, kan daar en beloning uitgedeel word.

Beperk hulle tyd voor enige tegnologiese toestelle en TV. Laat kinders lees vir die voorreg om TV te mag kyk en om speletjies te mag speel.

Moet nie kieskeurig wees nie, daar is ʼn genre vir elke kind. Hoe meer daar gelees word hoe vinniger gaan die kind se belangstelling geprikkel word. Dit verg wel aanvanklik ʼn bietjie kreatiwiteit, maar later vra die kinders vir boeke.

Die heel laaste wenk is die luister van oudioboeke, aangesien dit die gebruik van tegnologie insluit. Hierdie metode help dalk vir kinders wat wel lief is vir boeke, maar dalk weens disleksie of ander aspekte lees as ’n groot uitdaging ervaar. Die geleentheid word aan hulle gegun om hulle ouditiewe vaardighede in te span en nog steeds die verbeeldingswêreld van die boek te betree.

Neem sommer vanaand ʼn leesboek as die familie regmaak om die TV aan te skakel en lees eerder ʼn storie voor as om na die skerm te staar. Boeke is wel baie duur, sluit dus by ʼn biblioteek aan en geniet die avontuur.


Tags


Lees meer...