fbpx

Hoe moeilik kan dit wees?

deur Hildegard Brummer, Wolkskooldosent

Webwerf ontwerpe5

1 x 2 = 2; 2 x 2 = 4; 2 x 3 = 6…. Ons almal het al hierdie rympie gehoor en self geleer op skool. Party kon sommer maklik en vinnig die eenvoudige tafels bemeester. Jy het ook al seker gehoor: “as ek jou 12 uur in die nag wakker maak moet jy vir my kan sê wat 6 x 7 is”. As jy dan nie vinnig genoeg by die antwoord kon uitkom nie is daar vir jou gevra: “Hoe moeilik kan dit wees?”. Die kort antwoord op die laaste vraag is: BAIE moeilik.

Die menslike brein is ‘n wonderlike maar komplekse ding. Die blote feit dat ons reeds weet van agt verskillende leerstyle behoort vir ons ‘n goeie indikasie te gee van presies hoe kompleks ons elkeen se brein is. Elkeen van ons bekom en behou informasie op verskillende maniere. Sommige mense wil dinge logies uit redeneer terwyl ander dit visueel wil sien of verbaal wil opsê. Die bekende sielkundiges, Piaget en Vygotsky, stem albei saam dat leerders vinniger en meer effektief leer wanneer hul aktief deel is van die leerproses en toegelaat word om nuwe inligting te ontdek.

Wanneer ‘n leerder aktief deelneem aan sy eie leerproses is dit ook vir hom moontlik om terugvoer te gee aan die onderwyser oor sy vlak van verstaan. Erikson sê dat ‘n kind tussen die ouderdom van 6 en 11 leer om plesier te kry uit die voltooiing van ‘n taak. Indien hul nie die nodige leiding kry om die uitkoms te bereik nie, is hul geneig om minderwaardig te voel en op te gee.

Ek glo sterk dat dit in die vroëe jare van ‘n kind se lewe is wat hul reeds ‘n liefde begin kweek vir ‘n onderwerp of spesifieke vak. Hoe meer die leerder voel hy bemeester iets, hoe meer stel hy daarin belang en hoe meer wil hy weet en leer. Ons as ouers en onderwysers speel dus ‘n kardinale rol in hierdie tyd van ‘n kind se lewe. Wanneer ons aktief betrokke raak by ‘n kind se leerproses vind ons vinnig uit hoe hy dink en hoe hy inligting verwerk. Ons almal kan nie ons tafels ewe maklik memoriseer nie deur ‘n rympie op te sê nie, maar wanneer ons leerder toelaat om te leer deur ontdekking besef hul baie vinnig dat hul dit nie net op een manier hoef te doen nie.

Wiskunde gaan oor probleemoplossing en deur ‘n kind te forseer om sy tafels op een manier te memoriseer is ons besig om sy probleemoplossing vaardighede in ‘n blik te druk. Ek weet dalk nie wat 6 x 7 is nie, maar ek weet wel dat 5 x 7 = 35, nou hoef ek net 7 by 35 te tel en ek sien dat 6 x 7 = 42. Hierdie tipe denke is waar probleemoplossing begin en om vir ‘n kind te sê dat hy dit nie kan gebruik nie breek sy selfvertoue af. Dit is dan dat ‘n kind homself onttrek en sê: “ek kan nie Wiskunde doen nie”.

Dit is dus ons plig as ouers en onderwysers om seker te maak ons neem aktief deel aan ons kinders se leerprosesse. Vind uit watter leerstyl vir jou kind werk en help hom om op daardie manier nuwe konsepte te ontdek. Kom ons werk daaraan om die sin: “Hoe moeilik kan dit wees?” uit ons woordeskat te verwyder, en te vervang met: “kom ek wys jou hoe lekker dit kan wees.”

Terwyl ons die visionêre leiers van die GRA uit 1875 eer, staan GeRAT vandag as ‘n simbool van daardie erfenis, waar ons passie vir Afrikaans en sy kultuur voortduur. Deur op hierdie geskiedenis te bou, aanvaar ons die plig om die hart van Afrikaans vir toekomstige generasies te bewaar en te versterk en, 145 jaar later, bly ons standvastig en toegewyd aan die taal en kultuur wat ons so liefhet.


Tags


Lees meer...