Hoe om dissipline toe te pas hierdie vakansie – Deel 1

Dis weer skoolvakansie; die tyd van die jaar wat baie ouers raadop is met ’n ongehoorsame jongspan. Dr. Danie Brink, hoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), gee ’n paar wenke wat ouers kan help om hierdie vakansie die oorhand te behou:

Ouers is soms geneig om, veral in vakansies, hul besluite en aktiwiteite rondom die kleinspan se grille en giere te organiseer. Dit is egter nie gesond vir kinders om te voel hulle is die middelpunt van die gesin en dat besluite rondom hulle geneem word nie.

Daarom is dit nodig vir ouers om te identifiseer wanneer gesinne kindgesentreerd is en dit aktief teen te werk.

Een manier om kindgesentreerdheid te vermy, is om “rusbanktyd” in te stel. Dit is wanneer mamma en pappa tyd in beslag neem om ononderbroke met mekaar te gesels en mekaar hul onverdeelde aandag te gee. Hierdeur kan ons aan kinders demonstreer dat hulle nie die middelpunt van die gesin is nie en dat die verhouding tussen mamma en pappa baie belangrik is. Dit laat ook ’n rustigheid by kinders ontstaan dat dit goed gaan tussen ma en pa.

Dit is ook belangrik dat ouers gedurende vakansies die tregter van voordele in gedagte hou. Dit behels dat klein kinders minder voorregte het as ouer kinders en dat hul voorregte sal toeneem soos hulle ouer word. Net omdat dit vakansie is, beteken nie ouers moet nou hierdie tregter van voordele opsy skuif en kinders enigiets toelaat wat hul harte begeer nie. Ouers moet veral daarteen waak om teveel vir kinders te koop tydens die vakansies, omdat dit by die kind verwagtings skep vir die res van die jaar.

In die volgende blog kyk ons na eerste keer gehoorsaamheid en hoe om te straf, indien kinders nié die eerste keer luister nie.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.