Hofaksie dreig indien skole nié oop kan maak

2020-06-02

Solidariteit en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) verwelkom die wysigings op die aanvanklike direktief vir heropening van skole wat laat gisteraand in die staatskoerant gepubliseer is. Die direktief bevestig dat skole op 1 Junie kan heropen.


Skole wat gereed is om oop te maak – kàn nou oopmaak.
Ongelukkig skep Minister Angie Motshekga onsekerheid deur laaste minuut media uitsprake wat strydig is met amptelike direktiewe. Sy het Sondagaand aangevoer dat skole op 8 Junie oopmaak, waarna die verbeterde direktiewe nog steeds die datum van 1 Junie aandui.


“Leerders moet in ‘n gesonde omgewing kan leer, en onderwysers in ‘n gesonde omgewing werk. Skole wat al die nodige maatreëls in plek het, moet juis aangemoedig word om oop te maak. Nie soos wat die Minister en haar uitgebreide span van raadgewers doen, redes soek vir alle skole om nog langer toe te bly nie. Net soos jy nie dieselfde punte vir alle leerders in die eksamen kan gee nie, kan skole ook nie presies dieselfde behandel word nie.” sê Dr. Dirk Hermann, Bestuurshoof van Solidariteit.


“ Dit kom voor dat die onsekerheid oor skole neerkom op‘n politieke toutrekkery tussen vakbonde en organisasies betrokke by die gesprekke met die Minister. Uiteindelik ly ons kinders daaronder. Hulle het ‘n grondwetlike reg om by die skool te kom”, het Dr. Hermann bygevoeg.
Paragraaf 4(2) van die gepubliseerde direktief stel dit duidelik dat skole wat die nodige maatreëls in plek het, hul deure kan oopmaak.


“Dit bly in die beste belang van leerders en onderwysers dat skole kan heropen sodra hulle voldoen aan al die maatreëls vir ‘n gesondeskoolomgewing. Die Skoleondersteuningsentrum sal voortgaan om ons te beywer vir die veilige heropening van skole ”, het Buys bygevoeg.
Die SOS se regspan het op 1 Junie 2020 ‘n opvolgskrywe aan die Minister van Basiese onderwys gestuur met betrekking tot die heropening van alle skole.

Lees die volledige brief hier.


“Indien daar verdere pogings is om die onmiddellike hervatting van onderrig by skole wat kan oopmaak te stuit, sal ‘n hofaansoek geloods word om te verseker dat leerders se reg tot onderrig beskerm word” sê Melanie Buys, Hoof van Ontwikkeling by die Skoleondersteuningsentrum.


Gesels met ons