deur Johan Koekemoer, Onderwysspesialis: VAW
Elke onderwyser is spesiaal en kosbaar vir ons samelewing. Onderwysers is die ruggraat wat gemeenskappe regop hou. Daar is immers net een groep onderwysers wat die murg kan wees. Dit is Wiskunde-onderwysers. Wiskunde-onderwysers, veral die Afrikaanssprekendes, is uniek.
Tydens die talle opleidingsgeleenthede wat ek al aangebied het, het die Wiskunde-onderwyser vir my uitgestaan. Neem gou 3-minute en toer saam met my deur ’n paar provinsies van Suid-Afrika. Elke stop verteenwoordig iets wat regtig met my gebeur het. Eerste stop ons net hier in Gauteng waar ek Afrikaanse onderwysers ken wat hul Saterdae opoffer om ander onderwysers te ondersteun – sonder vergoeding of erkenning net omdat hulle Wiskunde-onderrig lief het.
Daarna vat ek die pad na my geboorteprovinsie, die mielieland, Noord-wes. Daar ontmoet ek onderwysers van ’n klein plaasskooltjie wat saam met hulle kinders hul hande stompies werk. Dié plaasskool skop stof in die oë van die land se beste skole en haal die Skoleondersteuningsentrum se top 10-lys. Wys jou wat harde werk kan doen.
Daarna skiet ek reguit deur na die Noord-Kaap toe. Die pad is lank en stil, maar elke 200 km se bene rek in die ongelooflik wye landskap maak die lang pad die moeite werd. In die middel van niks en nêrens in ’n dorp wat klein genoeg is om reg rondom te draf, ontmoet ek drie Wiskunde-onderwysers wat ’n hele gemeenskap ophef deur middel van hul klaskamerpraktyke. Soggens ry die hoof self 100 km om kinders op te tel vanaf die omliggende plase. Die oomblik wanneer hulle die klaskamers instap, betree hulle ’n nuwe wêreld.
In die Wes-Kaap ontmoet ek ’n jong meneer wat pynlik netjies lyk. Hy hou skool vir vyf graad-9 klasse van tussen 55 en 65 leerders. Ek vra hom oor sy werklas en hoe hy dit regkry om te lyk soos hy lyk, vol energie en positief. Sy antwoord is merkwaardig: “Ek is die enigste manlike rolmodel in die meeste van die kinders se lewens, so ek moet dit ordentlik doen”.
Ek het stories van elke provinsie, elke dorp en amper elke skool. Afrikaanse Wiskunde-onderwysers, blyk dit my, het iets wat Wiskunde-onderwysers van regoor die wêreld nie meer het nie. ʼn Roepingsbesef! Dié roepingsbesef loop uit in hulle dag tot dag dag-tot-dag-praktyke. Ek verwys na ons verslag oor die gemoedstoestand van onderwysers wat aandui dat Afrikaanse onderwysers ’n groter werkslas het, maar ook ’n groter roepingsbesef en dus ’n beter gemoedstoestand.
Vandag wil ek elkeen van julle eer. Julle het ’n ondankbare werk wat soms belaai is met onnodige en ongesonde druk. Maar ten spyte daarvan hou julle koers en mik julle hoog. Julle saai, maar julle maai nie. Die vrug van julle handewerk blom vir jare en soms dekades na julle arbeid. Selde ontvang julle erkenning vir die rol wat julle speel in die suksesverhale van baie leerders. Julle beloning lê nie op aardse vlak nie.
Vandag wil ek jou net herinner dat jy nie die beroep gekies het nie, maar dat die beroep jou gekies het. Ek wil jou herinner dat, al voel jy dit soms nie, jy maak werklik ’n verskil. Die werk wat jy doen, het ewige waarde. Woeker aan en hou jou kop omhoog.
Ek salueer jou, want as dit nie vir jou, my Wiskunde-onderwyser, was nie, dan het ek heel moontlik ’n ander pad gestap.
Terwyl ons die visionêre leiers van die GRA uit 1875 eer, staan GeRAT vandag as ‘n simbool van daardie erfenis, waar ons passie vir Afrikaans en sy kultuur voortduur. Deur op hierdie geskiedenis te bou, aanvaar ons die plig om die hart van Afrikaans vir toekomstige generasies te bewaar en te versterk en, 145 jaar later, bly ons standvastig en toegewyd aan die taal en kultuur wat ons so liefhet.