Dis van vandag af weer tyd vir die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se jaarlikse Internasionale Afrikaans-Ekspo wat vir die negende jaar aangebied word. Vanjaar se tema is skepe.
Skepe word van die vroegste tye af gebruik om goedere en mense van een punt na ’n ander te vervoer.
In 1652 het Jan van Riebeeck met vyf skepe in die Kaap aangekom. Vandag, presies 370 jaar later, wil ons hê julle moet jul kreatiwiteit inspan om vrye teuels aan dié tema te gee. Die tema sluit alles verwant aan skepe, van die vaartuig self, tot die seile, kraaines en anker, in.
Buiten vir dié vaartuig self, is die moontlikhede eindeloos om “lewe” aan hierdie tema te gee. Daar is tien kategorieë waarin jy dit kan doen ook. Jy kan jou verfkwaste of potlode inspan om op ’n doek jou idee vas te vang of skuif agter jou kamera in en neem jou beste kiekie of pen of tik ’n storie oor skepe.
Dink maar net aan Jo Black se liedjie, “Skepe”, om uiting aan jou gedagtes te gee om skepe as tema uit te beeld.
“’n Skip word in ’n hawe gebou.
’n Skip lyk in ’n hawe baie mooi vir my en jou,
Maar dis nie waarvoor skepe gemaak word nie
Die storms en die winde sal waai
Hys jou seile hoog, want een of ander tyd moet die tyding draai.
Laat die kompas van jou siel weer jou hart bepaal.
Kry jou maste reg, haal die anker uit,
In die rigting van die suiderkruis.”
Dan is daar is ook Afrikaanse uitdrukkings soos: “Moenie jou skepe agter jou verbrand nie” (Moenie ’n onherroeplike stap doen nie. In die verhaal het die vroue van Troje hul skepe verbrand toe hulle op Sicilië geland het) en“daar kom altyd beter skepe in, as wat daar uitgaan” (Vorentoe wag dalk meer kanse as in die verlede) wat as verdere inspirasie kan dien.
Verwante woorde soos skeepvaart, handelsvloot, skeepvaartbedryf, seehandel, seevervoer en bote kan ook wind in jou kreatiewe seile blaas.
Buiten vir die splinternuwe tema, is daar in 2022 ook twee nuwe windmakerige kategorieë, naamlik lirieke en grafiese ontwerp, waarin jy dié tema kan uitleef.
Die ander kategorieë is: dagboekinskrywings, resensies, opstelle, kortverhale, poësie, voordrag, fotografie en kuns, wat skilder- en tekenkuns insluit.
Enige persoon ter wêreld van graad R tot en met die ouderdom van 25 wat Afrikaans praat of ’n liefde vir dié taal koester, kan deelneem. Dit sluit alle moedertaal en nie-moedertaalsprekers in.
Gr. R tot 3 kan vir voordrag en kuns inskryf. Gr. 4 tot 5 kan aan fotografie, poësie, voordrag, lirieke en kuns deelneem. Vanaf gr. 6 tot die ope afdeling (tot 25 jaar oud) kan in al tien kategorieë deelneem wat in die handleiding gevind kan word. Jy kan ook vir 2-3 inskrywings by een kategorie inskryf of vir almal.
Wat vanjaar ook anders maak, is dat die publiek uiteindelik vir die algehele wenners sal kan stem.
Maak dus seker dat jy die tema perfek versinnebeeld of op ’n skilderdoek vasvang.
Alle inskrywings, behalwe die kunswerke, moet aanlyn ingeskryf word by projekte.co.za. Alle kunswerke moet per hand by die FAK-kantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria ingedien word.
Die aanlyn inskrywings se sluitingsdatum is 29 Julie 2022.
Die skool met die meeste inskrywings staan die kans om R10 000 te wen. Algehele wenners van gr. R tot 3, asook van gr. 4 tot 7 wen R1 000. Diegene van gr. 8 tot 9 en 10 tot 12 sal R1 500 wen as hulle die tema die beste beskryf, geteken, geskilder, die beste foto geneem of die beste voordrag gelewer het. In die ope afdeling kan deelnemers R2000 wen.
Esté Cilliers, projekbeamtpe van skoolprojekte by die FAK, sê: “Ons is opgewonde oor dié jaar se Internasionale Afrikaans-Ekspo! Met die tema van skepe lê die wêreld voor jou oop! Laat jou kreatiwiteit op vaart gaan. Dis gratis en jy kan wen! So, hoekom nie deelneem nie?”
Lees meer hier.
0 comments