Is die naaste skool die beste skool?

2022-07-07

deur Charlotte Fourie

Projekbestuurder, Solidariteit Skoleondersteuningsentrum

Ons woon in Centurion en enigeen wat soggens tussen 07:00 en 08:00 op die paaie is, sal weet dat ons hier nie ʼn tekort aan skole het nie. In Pretoria hoor jy gereeld: “Die naaste Afrikaanse publieke skool is die beste skool.”

Op die oog af kan ʼn mens seker nie met daardie stelling stry nie: Die skole hier kan oor die algemeen deur ʼn ring getrek word en presteer uitstekend op die gebied van akademie, sport en die kunste. Ek het op die platteland grootgeword en daar is hierdie stelling nie altyd waar nie. Daar is die naaste publieke skool beslis nie altyd die beste skool nie; dalk wel die enigste skool.

Toe ons eie kleuters onlangs kleuterskool toe moes gaan, was die keuse van ʼn skool nie ʼn eenvoudige besluit nie. Finansies was ons grootste oorweging: Watter kleuterskool gee darem vir ons afslag vir die tweede en derde kind? Watter skool sluit etes by die skoolfonds in? Die skooltye was ook hoog op die prioriteitslys, want vir twee ouers wat voltyds werk, moet ʼn skool ons soms wisselvallige werksure kan akkommodeer.

ʼn Kollega by my werk het toe ʼn kleuterskool voorgestel – redelik bekostigbaar, met skoolure so in ons kraal! Sonder om twee keer te dink, was die kinders ingeskryf. Graad R wink nou vir die tweeling en skielik staan ons weer voor dieselfde besluit: Watter skool is die beste skool vir ons kinders?

Ek beloof om my kind te onderrig en te laat onderrig

ʼn Deel van die doopbelofte wat ons al twee keer afgelê het, maal deesdae gereeld deur my kop:

“Beloof u om hierdie kind, van wie u vader en moeder is, in dié leer na dié beste van u vermoë te onderrig en te laat onderrig?”

Die doopbelofte verwys nie hier na akademiese vakkennis nie, maar wel na die leer van die Christelike geloof.

In my werk kom ek gereeld by ʼn groot verskeidenheid skole − goeie, suksesvolle, Afrikaanse skole. Wanneer ons met onderwysers begin werk, is ons eerste vraag altyd: “Is hierdie ʼn Christelike skool?” Nog nooit het ons ʼn negatiewe antwoord op hierdie vraag gekry nie. Ons Afrikaanse skole is meestal onbeskaamd Christelik. Die waardes wat op die saal se mure geplak is, stem ooreen met ons Christelike waardes en daar word minstens elke Maandagoggend met Skriflesing en gebed geopen. Dit wat egter in die klaskamer, op die sportveld, in die aanbieding van lesse en die toepassing van dissipline gebeur, laat ʼn paar rooi ligte flikker wanneer dit aan die hand van die doopbelofte gemeet word.

Is daar nog ʼn plek vir Christelike onderrig in jou kind se skool?

Jou eerste antwoord op die vraag is waarskynlik: “Ja, en my kind se skool open daagliks met Skriflesing en gebed.” As die skool dáár ʼn regmerkie kry, dan ontvang my kind mos Christelike onderrig en kom ek my belofte na.

In ʼn onlangse gesprek met ʼn predikant oor die Christelike begronding van onderrig en leer in skole, het hy grappenderwys ʼn stelling gemaak wat my tot stilstand geruk het. Hy het gesê: “Ons sit ons kinders vir twaalf jaar in ʼn sekulêre omgewing waarin hulle daagliks onderrig ontvang met ʼn Bybelversie so nou en dan êrens opgeplak en dan hoop ons dat hulle as Christene by die skool sal uitstap.”

Alhoewel die onderrig en opvoeding primêr die ouers in die huis se verantwoordelikheid is, is die verbondsgemeenskap (ook die skool en sy onderwysers) nie daarvan uitgesluit nie. Weet jy of jou kinders daagliks in ʼn verbondsgemeenskap onderrig ontvang wanneer hulle nie by jou is nie?

Die teologiese besinning oor die opvoeding van kinders vanuit die Bybel is van groot belang, nie net vir die kerk nie, maar ook vir gelowige ouers. Die opdrag om die kinders van Israel te onderrig (lees weer Deuteronomium 6), staan binne die groter raamwerk van die verbondsverhouding van God en sy volk, Israel.

Mamma, wat is dit?

ʼn Belangrike deel van die opvoeding en onderrig van die kind, geskied wanneer hy na die betekenis van bepaalde handelinge en gebruike vra. Soos ons kinders ouer word, rig hulle nie meer al hulle “hoe-”, “wat-” en “hoekom-” vrae net aan gelowige ouers nie, maar ook veral aan hulle onderwysers. Die onderriggewer se antwoord aan die kind moet poog om nie bloot ʼn wetenskaplike of kulturele instelling of monument te verduidelik nie, maar veral die Here se optrede (handelinge), sodat die kind God sal leer ken en vrees. Kan ʼn persoon wat self nie ʼn gelowige is nie, die kind deur middel van onderrig aan die Here bekendstel?

Wat moet die aard en uitkoms wees van die onderrig en kennis wat ons kinders ontvang?

  • Dit moenie net gefokus wees op die akademiese feite wat hulle nodig het om eendag te kan werk nie, maar moet só aangebied word dat dit die kind in verwondering laat oor die ware, die goeie en die skone.
  • Dit moet daarop gerig wees om ontsag vir die Here by hulle vas te lê.
  • Dit moet hulle weerbaar maak teen die twyfel wat lyding en teenspoed dikwels veroorsaak.
  • Dit moet kinders in staat stel om hulle liefde vir God in elke aspek van hul lewens uit te leef.

Hoe kies ons nou ons kind se skool?

Die staan en val van Christelike onderrig in skole rus op die skouers van elke personeellid in die skool en elke ouer wat daarop aandring. Weet jy of jou kind in die klas deelneem aan leerervarings wat Christelik begrond is? Of ontvang jou kind net soggens ʼn “Bybelversiepleister” voordat hy verder in die kliniese sekulêre akademiese omgewing moet inbeweeg?

Hierdie is die vrae wat die hoogste prioriteit moet geniet wanneer jy ʼn skool vir jou kinders kies.

* * *

Hierdie artikel het eerste in die April 2022-uitgawe van “Die Boodskapper” verskyn. Lees dit hier.

Gesels met ons