Is jou kind gereed vir graad een?

Deur Marietjie Havenga

Hoof: Skuilkrosies en SOS-kleutervereniging

Elke jaar wonder ouers van graad R-kinders of hulle kinders werklik skoolgereed is.  Dit is ʼn baie moeilike situasie omdat jy moet besluit oor iets wat moontlik ʼn groot impak kan hê op die toekoms van jou kind vir wie jy wil net die heel beste wil hê.  Ek wil graag in die artikel  ʼn paar riglyne deel wat ouers en onderwysers kan bystaan met hierdie belangrike besluit.

Watter faktore moet jy in oorweging bring?

Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) vereis dat ʼn leerder formeel skoolpligtig is in die jaar wat hy/sy sewe jaar oud word.  Om skoolgereedheid aan ouderdom te meet, is problematies omdat elke kind teen sy/haar eie tempo ontwikkel.  Daar is verskeie faktore wat die tempo van ʼn leerder se ontwikkeling kan beïnvloed, byvoorbeeld ‘n premature geboorte, blootstelling aan die nodige skoolgereedheidsvaardighede, die maand van geboorte (begin of einde van die jaar), ensovoorts.  In Suid-Afrika mag ʼn leerder reeds op die ouderdom van vyf en ʼn halwe jaar graad een toe gaan.  Dit is dus moontlik dat ʼn graad 1-klas kan bestaan uit leerders tussen die ouderdomme van vyf-en-ʼn-half tot agt-en-ʼn-half jaar (d.i. leerders wat graad R herhaal het óf graad een gedruip het).  Ouderdom is dus nie ʼn goeie maatstaf om skoolgereedheid te meet nie. Dit is selde indien ooit een ontwikkelingsarea wat skoolgereedheid bepaal.  Ontwikkelingsareas wat die sosio-emosionele, fisiese en kognitiewe ontwikkeling van die leerder insluit, is noodsaaklik vir die evaluering van skoolgereedheid.

Sosio-emosionele ontwikkeling

Die skoolomgewing verander vanaf ʼn informele na ʼn formele omgewing waar leerders vir langer tye moet stilsit en aandagtig moet kan luister. Die graad 1-leerder moet aanpasbaar wees.  In graad 1 moet ‘n leerder sy/haar emosies kan reguleer en selfbeheersing toepas.  Positiewe interaksie met ander leerders en onderwysers vorm deel van ‘n gesonde omgewing waar optimale leer kan plaasvind.  ʼn Graad 1-leerder moet sy/haar beurt kan afwag en aan groepspeletjies kan deelneem.  Wanneer ʼn leerder hierdie sosio-emosionele vaardighede ontwikkel het, kan hy/sy met meer selfversekering in die onbekende “groot skool” instap.  Dit is belangrik dat die leerder selfgeldend kan kommunikeer sodat sy/haar selfvertroue nie ‘n knou in die eerste skooljaar kry nie.

Fisiese ontwikkeling

Babas kruip voordat hulle kan loop.  Op dieselfde wyse ontwikkel grootmotoriese vaardighede voor fynmotoriese vaardighede.  ʼn Graad 1-leerder kan nie stil sit op ʼn stoel en in ʼn lyntjiesboek skryf indien hy/sy nie genoeg spiere, deur beweging, ontwikkel het nie.  Leerders wat nie fisiek gesond en sterk ontwikkeld is nie, word gouer moeg in die klas en sukkel met hul werkstempo.

Kognitiewe ontwikkeling

Dit is algemeen bekend dat nuwe kennis op bestaande kennis gebou word.  In graad R word die leerder spelenderwys blootgestel aan verskeie konsepte.  Dieselfde konsepte word in graad 1 herhaal, maar hierdie keer op ʼn formele wyse.  Indien ʼn graad 1-leerder nie genoegsame sensoriese en fisiese blootstelling aan basiese konsepte gekry het nie, is die formele benadering die verkeerde wegspringblok vir leersukses.  ʼn Beperkte begrip en woordeskat maak die leerproses geweldig uitdagend.

Wat is die voordele van graad R-herhaling?

Die leerder betree graad 1 met die nodige blootstelling, volwassenheid en vaardighede om ʼn sukses van sy/haar skoolloopbaan te maak.  Dit lei tot ʼn goeie selfbeeld wat leer bevorder.  ʼn Huis wat op ʼn stewige fondasie gebou word, sal ʼn stewige huisstruktuur verseker.  Dieselfde beginsel geld vir die leerproses. 

Die informele atmosfeer wat in graad R heers, gee vir leerders die geleentheid om teen hul eie tempo te ontwikkel, sonder die druk van kurrikulumvereistes en verwagtinge wat oor die algemeen in ‘n formele graad 1-omgewing voorkom.

Graad R maak gebruik van ʼn rotasiestasie as leermodel waar daar ʼn gemiddeld van drie tot vyf leerders by ‘n stasie werk.  Dit gee vir die onderwyseres die geleentheid om aan drie/vyf leerders op ʼn slag hoogs verpersoonlikte onderrig en leiding te gee.  In ʼn graad 1-omgewing vind onderrig gewoonlik klassikaal plaas, en baie keer kom dit neer op ʼn onderwyser-leerderverhouding van 1:40. Leer vind stadiger en minder effektief plaas in hierdie tradisionele model.

Die kanse is baie goed dat ‘n leerder wat graad R herhaal het, graad 1 sal slaag.  Die leerder het nie graad R gedruip nie en die besluit word gewoonlik deeglik deur ʼn span (ouers, opvoeder en terapeute) geneem.  Indien ‘n leerder nie skoolgereed was nie en graad 1 druip, kan dit blywend deur die res van sodanige leerder se skoolloopbaan ʼn gevoel van mislukking en akademiese onvermoë kweek.  Dit is die teenoorgestelde gevoel wat ‘n graad R leerder wat herhaal, ervaar.

Wat is die nadele van graad R herhaling?

Die sosiale stigma dat die leerder moontlik gedruip het, kan van tyd tot tyd opduik.  Dit is noodsaaklik dat die ouers en onderwysers doeltreffend met jou kind moet kommunikeer en self positief moet wees oor die herhaling.  Indien ʼn ouer negatief is en ʼn persoonlike stigma koester oor herhaling, sal dit onvermydelik die leerder benadeel.

Die ander nadeel van herhaling is dat leerders in sport vir die res van hulle skoolloopbaan teen hul eie ouderdomsgroep kompeteer en nie met hulle graadgroep (wat jonger is) nie.  Die ouers se deurlopende kommunikasie en ingesteldheid hieroor speel weereens ‘n groot rol in hoe die leerder dit sal ervaar. Dit is natuurlik ‘n geleentheid vir die leerder om ‘n wyer sosiale sirkel te vorm en om sy/haar sosiale en emosionele intelligensie te versterk.

Die vrees dat die leerder nie meer maats gaan hê nie omdat sy/haar maats graad 1 toe gaan, moet vervang word met ʼn groei-ingesteldheid waar leierskapsvaardighede in die nuwe graad R groep kan ontwikkel, asook dat verhoogde aanpasbaarheid en sosio-emosionele ontwikkeling.

Finansieel is dit natuurlik nadeliger as jou kind ʼn graad herhaal omdat dit uiteindelik ʼn jaar se ekstra skoolgeld beteken. 

Samevattend

Ouers en die skool se ingesteldheid teenoor herhaling gaan bepaal of dit ʼn positiewe ervaring vir die leerder sal wees.  Dit is nie regverdig om van ʼn leerder te verwag om vaardighede te bemeester waarvoor hy/sy nie in die bepaalde ontwikkelingsfase gereed is nie.  Ontwikkeling wat op ʼn natuurlike wyse plaasvind, met die nodige ondersteuning en stimulerende omgewing, sal verseker dat ʼn leerder ʼn liefde vir leer ontwikkel en ʼn sukses van sy/haar skoolloopbaan sal kan maak.  Die grootste bepalende oorweging om ‘n graad R-leerder te laat herhaal of na graad 1 te bevorder, moet altyd in die beste belang van die leerder se algehele ontwikkeling wees.


Tags


Lees meer...