Is moedertaalonderrig moontlik in Suid-Afrika?

2022-07-06

Die voorgestelde Bela-wysigingswetsontwerp is ʼn verbreking van die 1994-ooreenkoms. Dié ooreenkoms
se oogmerk was om taal en kultuur te beskerm en is ook so vervat in artikel 6 van die Grondwet.


ʼn Stelsel waar onderwys toeganklik vir almal is en waar elke kind in hierdie land gelyke toegang tot
gehalte-onderrig het, is slegs moontlik as elke leerder onderrig in sy of haar eie moedertaal kan ontvang.
UNESCO erken moedertaalonderrig immers as ʼn basiese mensereg.


Die implementering van UNESCO se beginsel is egter ver van die werklikheid af. Met ʼn
onderwysdepartement wat oor jare heen nog geen vordering gemaak het om oplossings vir basiese
probleme soos hoë uitvalkoerse, vervalle infrastruktuur en swak gehalte onderwys te vind nie.


In Gauteng het die getal openbare skole sedert 2014, onder die leiding van mnr. Panyaza Lesufi (LUR van
onderwys in Gauteng), met 170 verminder. In teenstelling daarmee het leerders in Gauteng in dieselfde
tydperk met ongeveer 370 000 toegeneem. Dié afname van skole bied allermins ʼn grondslag vir
moedertaalonderrig vir almal, aangesien daar reeds te min skole bestaan om die toeloop van leerders te
akkommodeer. Hulpbronne soos moedertaalsprekende onderwysers, handboeke in inheemse tale en
finansies ontbreek ook om meertaligheid ʼn werklikheid te maak.


Kragtens die nuwe voorgestelde wetsontwerp word die taal- en toelatingsbeleide van openbare skole in
beginsel steeds deur hul beheerliggame (SBL’e) bepaal, maar in werklikheid plaas die voorgestelde
wysigings die finale besluit in die hande van ʼn polities-aangestelde amptenaar, soos mnr. Lesufi.
Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) verduidelik:
“Skole wat tot dusver gedwing is om te verander van enkelmedium na parallelmedium, verengels baie
vinnig en dien uiteindelik slegs 10% Engels-moedertaalsprekers van Suid-Afrika. Meertaligheid is nie
eens ter sprake nie. Die Grondwet skep ruimte vir Afrikaans en ander inheemse tale in ʼn multikulturele
land, maar die ANC is besig om taaldiversiteit teen te werk deur Engels af te dwing op almal. Die magte
wat aan HOD’s toegeken word deur die voorgestelde wetsontwerp, versnel die proses, omdat alle skole
teoreties sal moet konformeer vir een of twee leerders wat aanspraak maak op een van 11 moedertale
van hul keuse.”


“Indien skole in alle gemeenskappe aantreklik vir ouers is, sal dit nie nodig wees vir aanvalle op
Afrikaanse skole waar daar jaar na jaar uitstekende resultate gelewer word nie. Ouers stem met hul
voete – máák alle skole dan ewe goed. Dan is die naaste skool die beste skool,” sê Buys.
Skole en individue het steeds geleentheid om kommentaar op die voorgestelde BELA-wet te lewer tot 15
Augustus 2022.


“Uit die 17 900 kommentare wat tot dusver ontvang is, is 72% teen bepaalde kernwysigings gekant.
Gemeenskappe kan hulle skole beskerm deur deel te neem en kommentaar te lewer. Daar moet hard
gewerk word om openbare Afrikaanse skole meer selfstandig te maak en onafhanklike
onderwysoplossings, wat bekostigbaar is vir gewone mense, in plek te stel,” sluit Buys af.

Gesels met ons