Onlangse data wat deur die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) vrygestel is, werp nuwe lig op die beweerde kapasiteitsprobleme by skole in die provinsie. Volgens die syfers is daar ‘n totale kapasiteit van 200 815 plekke vir Graad 1 en 168 836 vir Graad 8-leerders in Gautengse skole vir 2024. Met aansoeke wat slegs 145 472 vir Graad 1 en 160 509 vir Graad 8 beloop, is daar ‘n duidelike oorskot van beskikbare plekke.*
Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), het hierdie syfers bevraagteken: “Die syfers toon dat daar genoeg plek is vir elke leerder wat aansoek gedoen om ʼn plasing vir die 2024 skooljaar. Tog word goeie skole, en veral Afrikaanse skole, onder geweldige druk geplaas om elke jaar hul kapasiteit te oorskry. Daar is ‘n persepsie dat Afrikaanse skole ‘n hoër gehalte onderwys bied, wat lei tot ‘n oneweredige aanvraag na hierdie skole.”
Die GDO het aan die einde van Augustus aangekondig dat die aanlyn aansoekperiode vir 2024- toelatings ‘n sukses was en ‘n totaal van 757 075 Graad 1 en Graad 8 aansoeke opgelewer het.
“Daar was dus ‘n totaal van 324 756 Graad 1-aansoeke en 432 219 Graad-8 aansoeke. Hierdie sukses kan toegeskryf word aan stelselverbeterings oor die jare, wat noodsaaklik gemaak is deur voortdurende belanghebbende betrokkenheid en tegnologiese vorderings,” het die departement Sondag in ‘n verklaring gesê.
“Hierdie syfers se doel is om ouers en die breë publiek onder ʼn wanindruk te plaas. Hierdie getalle verwys na die totale hoeveelheid aansoeke wat ontvang is. As ʼn ouer dus by 5 skole aansoek gedoen het, word al vyf hier ingesluit en skep dit die indruk dat daar te min plek in skole bestaan,” verduidelik Buys.
Sy het verder beklemtoon dat die finansiële ondersteuning wat skole ontvang om vir die “ekstra” leerders voorsiening te maak heeltemal onvoldoende is. “Met ‘n befondsing van slegs R277 per leerder per jaar vir ‘n kwintiel 5 skool, is dit ‘n uitdaging om kwaliteitsonderwys te handhaaf, veral as daar druk is om meer leerders as hul toegelate kapasiteit te akkommodeer,” het Buys gesê.
Data volgens die GDO se “2024 Admissions placement progress report” van 10 September 2023.
- Totale kapasiteit vir Graad 1 in Gauteng: 200 815
- Totale aansoekers vir Graad 1: 145 472
- Verskil: 55 343 beskikbare plekke
- Totale kapasiteit vir Graad 8 in Gauteng: 168 836
- Totale aansoekers vir Graad 8: 160 509
- Verskil: 8 327 beskikbare plekke
- Gekombineerde totale kapasiteit: 369 651
- Gekombineerde totale aansoekers: 305 981
- Gekombineerde verskil: 63 670 beskikbare plekke