Volgehoue en volhoubare hervatting van kontakonderwys
Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het in samewerking met lede van die SOS se Leierskapvereniging, lede van skoolbeheerliggame en die Solidariteit Beweging, ‘n vyf-puntplan ontwikkel ten einde ’n strategiese raamwerk vir die volgehoue en volhoubare hervatting van kontakonderwys daar te stel. Hierdie insette word beoog as bydraend tot en in lyn met die Departement van Basiese Onderwys (DBO) se nasionale strategie om die invloed van Covid-19 op onderwys aan te pak.
Die voorstelle is daarop gemik om die verlies aan onderrigtyd so gou moontlik binne ’n veilige en gesonde skoolomgewing in te haal, sinvolle assessering moontlik te maak en die waarde van aanlyn onderrig as ondersteunend tot leer te optimaliseer. Skoolhoofde het ’n konsepplan aan Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, voorgelê, wat die SOS volledig ondersteun. Dit is ’n praktiese plan met ’n deeglike uiteensetting van stappe en verantwoordelikhede, en behoort vir alle skole te werk.