Hoe gemaak met kreatiewe angs?

2021-06-11

Mariesa Candiotes

Wolkskooldosent

Studies toon dat ons kreatief gebore word. Dis ʼn ingebore talent as’t ware, maar soos die jare aanstap en as gevolg van verskeie eksterne faktore gaan hierdie talent mettertyd verlore.

Navorsing deur George Land het bevind dat kreatiwiteit oor tyd verleer word.

Die studie het onder andere vyfjariges bestudeer deur hul ʼn kreatiewe toetsbattery te laat aflê. Die gemiddelde kleuter het 98% behaal – dit val in die “kreatiewe genie”- kategorie. Mozart, Picasso en Da Vinci ressorteer onder dié rare groep.

Daarteenoor het volwassenes – wat dieselfde toetsbattery afgelê het – slegs 12% in dié kategorie geval.

Kreatiwiteit is in beginsel dubbelsinnig van aard – aan die een kant word dit geadmireer en vereer, maar aan die ander kant word dit bestempel as gevaarlik en buite die norm. Die samelewing bevorder ongelukkig eenvormigheid as die norm, selfs ons kurrikulum stel jaarliks algemene assesseringstandaarde bekend, asook jaarlikse onderrigplanne waaraan onderwysers moet voldoen, wat juis hierdie een-grootte-pas-almal siening versterk.

Wat veroorsaak kreatiewe angs?

Ons denke is van nature negatief van aard en ons is geneig om die glas as half leeg te aanvaar. Uiteraard word ons kinders ook aan hierdie tipe denkwyse blootgestel.

Hierdie negatiewe denkwyse is ʼn ingeboude oorlewingsvaardigheid, wat ons voorberei op ʼn veg-, vlug- of vries-reaksie, maar indien kinders herhaaldelik hieraan blootgestel word, neig hul tot katastrofiese denke en oordink ʼn probleem (wroeg) maklik.

Om ʼn mindere mate van angs te beleef is nie noodwendig sleg nie, aangesien dit kinders inherent leer om vooruit te beplan, voorsiening te maak en strategieë in plek te hê vir moontlike uitdagings.

Daar moet egter teen die kreatiewe angs wat ʼn leerder kan kniehalter, gewaak word. Kinders kan so angstig raak dat daar ʼn ‘blok’ ontstaan teen ʼn sekere vakgebied of onderwerp. Hulle ervaar inderwaarheid ʼn gevoel van mislukking nog voor hulle probeer het. Kreatiwiteit en angs loop hand-aan-hand – en daarin lê die uitdaging.

In die klaskamer kan dit ʼn leerder kniehalter, want vrees vir mislukking bestaan, maar dit kan ook van groot hulp wees. Angstigheid moet op die regte manier gekanaliseer word om sodoende waardevolle vaardighede soos beplanning en innoverende denke te ontwikkel.

Gesels met ons