Leerverliese by ons leerders. Net die gevolg van Covid-19?

2022-04-04

deur Annelie van Jaarsveldt

Die COVID 19-pandemie het ons op soveel vlakke geraak, maar een van die mees kommerwekkende gevolge is die impak wat dit op die onderwys gehad het. Toegegee, daar is talle skole wat die uitdagings met groot sukses aangepak het en baie leerders, veral die ouer leerders, het daarin geslaag om aan te pas en suksesvol aanlyn te leer. Maar wat van daardie leerders wat nie die mas kon opkom nie? Diegene wat weens ekonomiese redes nie toegang gehad het tot data en rekenaars tuis nie. Daardie leerders, veral in die laerskool, wat nie floreer onder die omstandighede nie.  Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het in 2020 statistiek gedeel en bekend gemaak dat “50 tot 75% van leertyd in skole verlore gegaan het weens die pandemie”. Afrikaans.com kyk kortliks hierna en die uitwerking wat dit op die vordering van leerders op die langtermyn kan hê.

Ons het nog altyd volgehou dat die verlies van onderrigtyd van aangesig tot aangesig ons jongste leerders die meeste benadeel.”

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys.

In Die Burger van 28 Februarie skryf Ané van Zyl dat die rotasiemodel die jonger leerders die ergste geraak het en tot aansienlike leerverliese gelei het, veral in die grondslagfase. Die bevindinge is gemaak nadat Wes-Kaapse leerders wat in 2021 in graad 3, 6 en 9 was deelgeneem het aan sistemiese toetse wat deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gedoen is om vaardighede in wiskunde en taal te toets. Syfers deur die departement vrygestel, het getoon dat slegs 36,9% van graad 3-leerders die wiskundetoetse kon slaag (’n afname van 1,1 persentasiepunt) en slegs 50,1% kon die taaltoetse slaag (’n afname van 3,5 persentasiepunte). (Hou in gedagte dat die 2021-resultate vergelyk is met 2019, omdat toetsing nie in 2020 kon plaasvind nie.)

Volgens die LUR vir onderwys, Debbie Schäfer, is daar egter “reeds programme ingestel om geletterdheid en syfervaardigheid te verbeter” en oorweeg hulle om dit verder uit te brei. Sy noem ook dat die grootste leerverliese by die jonger leerders opgemerk word omdat hulle nog nie die volwassenheid en selfdissipline het om die roterende roosters te hanteer nie. Ouer leerders is beter toegerus om van die huis af te leer. Daarom, sê Schäfer kyk hulle nou na maniere om bykomende tyd vir lees, skryf en wiskunde by die gronslagfasekurrikulum in te sluit.

In dieselfde artikel, sê Chris Klopper, hoof van die Suid-Afrikaanse onderwysersunie (SAOU), dat hulle eie  navorsing onder hulle lede getoon het dat 30% van skole agter is, maar dat meer as 60% aangedui het hulle is nie agter nie. Volgens Klopper is die agterstande wat by die 1 900 skole in die Wes-Kaap, wat lid van die SAOU is, aangedui is, “nie wesentlik nie en beheerbaar”.

Dit bly egter onrusbarend dat die gebiede waar die grootste agterstande opgemerk is, wiskundige begrippe en lees- en skryfvaardighede is. ’n Mens moet vra of dit net aan die pandemie toegeskryf kan word en of ander faktore nie ook ’n rol speel nie. Klopper reken dat die swak slaagsyfers in veral laerskole egter toegeskryf kan word aan ’n tekort aan vakspesialiste en dat terugvoer wat ontvang is daarop dui dat onderwysers se vakkennis onvoldoende is. “Ons wil nie veralgemeen nie, maar daar is ’n neiging.” Aldus Klopper.

Ongelykheid in onderwys

Aanlyn onderrig het die voortbestaan van ongelykheid in die onderwys weer na vore gebring. Daardie gaping tussen ryk en arm. Slegs 15% van alle huishoudings beskik oor voldoende rekenaartoestelle en die nodige internetverbinding. Die leerders van middelklasskole is dus redelik suksesvol via aanlyn platforms onderrig, maar werkersklasskole het nie so goed gevaar nie.  “Afgesien daarvan dat leerhulpbronne soos werkblaaie en leestekste as aanlyn inhoud beskikbaar gestel is, en via WhatsApp gedeel is – tegnologie waartoe die meeste ouers toegang het – is daar bevind dat die ouers eenvoudig nie die nodige data gehad het om die hulpbronne af te laai nie. Leermateriaal moes dus uitgedruk word en ouers moes dit dan by die skool afhaal.” Onderwysers is dit egter eens dat “kontak in die klaskamer steeds die hoeksteen van leer moet bly en dat die sosiale leer wat in die klaskamer plaasvind nie deur digitale konneksies vervang kan word nie”.

Lees en skryf: Die grondslag vir suksesvolle leer

Dit is al oor en oor bewys: ’n Kind wat nie kan lees nie, kan ook nie leer nie, want leesbegrip ontbreek. Dit geld vir alle vakke. En tog moes grondslagfaseleerders in 2020 amper vyf maande lank by die huis bly. “Sleutelbegrippe is dus nie voldoende vasgelê nie en baie van die sleutelvaardighede in die graad 1-kurrikulum moes oorstaan na die volgende graad.”  Volgens Lerato Makena, graad 1-graadhoof by Laerskool AF Louw in Stellenbosch, is dit “kommerwekkend omdat hierdie basiese vaardighede vir die res van hul skooljare ’n invloed op leerders se leervermoë sal hê”. Makena het ook genoem dat sy reeds die agterstand kon sien omdat baie “graad 1-leerders stadig gevorder het en aan die einde van die jaar (2020) nie onafhanklik kon werk nie”.

Agterstand kan langtermynprobleem word

Die Departement van Basiese Onderwys sê in ’n 2020-persverklaring dat die gevolge van die leeragterstande weens ’n onvoldoende akademiese grondslag veral in die grondslagfase ’n langdurige negatiewe uitwerking kan hê. Byvoorbeeld: Leerders sal vroeg skool verlaat, maar sal steeds die arbeidsmark betree, afgesien van ’n laer vlak van opvoeding. Op sy beurt maak dit egter baie deure toe vir hierdie groep leerders en kan dit verder bydra tot die werkloosheidsyfer en die ekonomie.

Die pandemie het dus net weer eens die leemtes en uitdagings in die onderwys uitgelig. Leerverliese is slegs een daarvan. Ons kan nie langer tevrede wees met leë beloftes nie. Ons kinders, die toekomstige leiers, se toekoms is op die spel. Gee hulle wat hulle toekom – gehalte onderrig.

Bronne:

Netwerk24: Die Burger, 28 Februarie, Ané van Zyl – “Rotasie tref die jongste leerlinge die ergste”

Lees ook: Hoe lyk die toekoms van onderwys na Covid-19

Die artikel het oorspronklik op Afrikaans.com verskyn. Gaan lees dit gerus hier: https://afrikaans.com/2022/03/03/leerverliese-by-ons-leerders-net-die-gevolg-van-covid-19/

Leerverliese by ons leerders. Net die gevolg van Covid-19?

Gesels met ons