Leesgeletterdheid bepalend vir mens- én nasiewees

Marnelda de Beer, Marié Gräbe en Jana Terblanche

Vakspesialiste: SOS

Wanneer jy ’n man opvoed, voed jy ’n individu op.
Wanneer jy ’n vrou opvoed, voed jy ’n gesin op.
Wanneer jy ’n onderwyser opvoed, voed jy ’n nasie op.
Aanpassing van Charles D McIver, 19de-eeuse Amerikaanse opvoedkundige

Volgens die jongste studie oor wêreldwye leesgeletterdheid (PIRLS 2021) is graad 4-leerders in Suid-Afrika die swakste lesers ter wêreld: Agt uit tien van hierdie leerders (81%) kan nie met begrip lees nie. Boonop dui die PIRLS-verslag daarop dat die Departement van Basiese Onderwys se Nasionale Leesplan van 2019 steeds sukkel om aan die gang te kom. Dít is onrusbarend. Lees stel ons immers in staat om te kommunikeer, te leer, te dink en te verstaan, en dra by tot ons algemene ontwikkeling en welstand. Samewerking tussen ouers, onderwysers en die onderwysdepartement is dringend nodig om hierdie uitdaging die hoof te bied.

Lees is die grondslag waarop individue hulle persoonlike en sosiale identiteite ontwikkel. Dít is wat hulle in staat stel om hulle omgewing te verstaan (Leesgids vir ʼn gestruktureerde leesstrategie, SOS/AON, bl 9). Om leesgeletterdheidsdoelwitte te bereik verg dus ’n strategiese, holistiese benadering deur sowel die formele onderwyssektor as ouers. So ’n holistiese benadering behels:

  • die versekering van toegang tot onderwys van gehalte, wat deur voldoende hulpbronne onderstut word;
  • die opleiding van kundige en toegewyde moedertaalonderwysers;
  • die verskaffing van relevante leesmateriaal wat leerders se uiteenlopende omstandighede en leefwêrelde weerspieël;
  • die modellering van ’n ‘leeskultuur’ deur volwassenes; en
  • die gestruktureerde ontwikkeling en vestiging van kritiese denke en goeie skryfvaardighede.

Voorvaardigheids- en Grondslagfase (0 tot 9 jaar)

Lees is ’n noodsaaklike vaardigheid wat doelbewus aangeleer moet word. Die proses begin reeds lank voordat die kind formeel leer lees en skryf. Trouens, die voorafvaardighede van lees vorm ’n stewige en diepgewortelde grondslag vir kinders wanneer hulle na die leer-om-te-lees-fase aanbeweeg.

Eerstens is die sintuiglike en fisiese ontwikkeling van die kind van groot belang. Dít behels die ontwikkeling van vaardighede soos liggaamsbewustheid, balans, lateraliteit, spiertonus, ruimtelike oriëntasie, rigting en volgorde, sowel as ouditiewe en visuele persepsie.

Dit is ook noodsaaklik dat die kind aanvangs-, eind- en middelklanke in woorde kan onderskei. Daarbenewens moet kinders oor ’n ryk woordeskat beskik en in staat wees om klanke ouditief te herken en te ontleed. Taalvaardigheid op vierjarige ouderdom bied ’n aanduiding van hoe lees- en skryfvaardig die kind teen graad 4 sal wees.

In die Grondslagfase beveel die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) die sintetiese klankbenadering vir leesonderrig aan. Hiervolgens word simbole (letters) individueel óf as ’n lettergroep (oe, ou, aa, oo) aangeleer. Die klanke word reeds in die Voorvaar­digheidsfase ouditief deur praat, luister en voorlees gevestig. Dié klankbenadering is doeltreffend vir die aanleer van klank- en letterverhoudings, en help leerders om woorde vinnig en akkuraat te dekodeer.

Woordeskat

’n Ryk woordeskat is uiters belangrik om betekenis aan nuwe woorde te gee, en stel leerders in staat om die woorde wat hulle in ’n teks teëkom te herken en te verstaan. ’n Uitgebreide en kleurryke woordeskat is die grondslag van suksesvolle leesbegrip. Sodoende herroep die leser bestaande kennis en ervarings om ’n teks te ontsluit.

Om ’n ryk woordeskat op te bou, moet ouers, opvoeders en onderwysers doelbewus nuwe woorde onderrig en leerders geleentheid bied om dit te gebruik. Leerders se woordeskat kan ook uitgebrei word deur lees-, gespreks- en ander leerervarings wat hulle aan ’n verskeidenheid woorde en konsepte blootstel.

Intermediêre fase (10 tot 12 jaar)

Baie kinders in hierdie fase ondervind leesprobleme, waaronder:

  • probleme met dekodering, waar die leser sukkel met klank- en lettergreepherkenning en byvoorbeeld nie woorde kan uitklank nie;
  • swak leesvloei, waar die leser die woorde en reëls met die vinger of selfs die kop volg; en
  • vertraagde taalontwikkeling en ’n beperkte woordeskat.

Leesprobleme kan ook aan fisiologiese faktore te wyte wees, waaronder Irlen-sindroom (’n visuele verwerkingsprobleem), gereelde oorontsteking, of fonologiese disleksie. Dit kan ook gewoon die gevolg wees van ’n gebrek aan belangstelling.

Boonop kan ouers en onderwysers tot swak leesvaardighede bydra deur ʼn gebrek aan voldoende voorlesing en gestruktureerde leesonderrig.

Gebrekkige leesvaardighede en begripslees kan hanteer word deur ’n leeskultuur en positiewe leesomgewing te skep: Leerders moet veilig voel, selfs al is hulle leesvaardighede swak. Die vroeë identifisering van leesprobleme stel opvoeders ook in staat om die regte intervensies in werking te stel.

Sintuiglike leerpret

Dit is noodsaaklik om sig, klank en aanraking by die leesproses in te sluit. Hoe meer sintuie betrek word, hoe makliker leer kinders lees. Gebruik voorlesings en kleurryke prenteboeke, of laat lesers aan items vat of ruik. Sodoende word hulle aktief by die leesproses betrek en prikkel dit hulle nuuskierigheid om méér te wil leer.

Die keuse van toepaslike leesmateriaal is ewe belangrik om lesers se belangstelling aan te wakker. Gebruik verskillende tipes tekste, waaronder storieboeke, interessante tydskrifartikels en grafiese romans, om verveling te voorkom.

Ontwikkel ook leerders se woordeskat. Hoewel dit belangrik is om omvattende lees te bevorder, moet woordeskat doelbewus onderrig word om woordkennis uit te brei.

Boonop moet verskillende leesbegripstrategieë onderrig word, waaronder voorspelling, vraagstelling en opsomming.

Die belang van tegnologie

Tegnologiese hulpmiddele soos elektroniese leesprogramme kan van groot nut wees vir kinders met leesprobleme. Nietemin is dit ook noodsaaklik dat ouers aan leesonderrig deelneem en hulle kinders aanmoedig om te lees eerder as om byvoorbeeld rekenaarspeletjies te speel. Gee die nodige erkenning wanneer kinders se leesvaardighede verbeter, en inspireer hulle deur self ’n entoesiastiese leser te wees.

Die internet bied kinders deesdae kitstoegang tot ’n enorme verskeidenheid leesmateriaal en inligting. Hierdie ontwikkeling het ’n groot impak op kinders se leesgewoontes en blootstelling aan verskillende tekste. Boonop bied die digitale era interaktiewe leeservarings soos aanlyn speletjies, leestoepassings, digitale tydskrifte, en animasie. Hierdie tipes leesmateriaal kan kinders se aandag boei en hulle aanmoedig om langer te lees.

Hou egter in gedagte dat die gehalte van die leesmateriaal op die internet wissel. Nie alle inligting is akkuraat, betroubaar of geskik vir jong kinders nie.

Vir kinders wat met die fisiese leesproses sukkel, is oudioboeke dalk ’n nuttige alternatief. Sodoende kan hulle na die boek luister terwyl hulle saamlees, wat met dekodering en begrip kan help. Soos met enige hulpmiddel, is dit egter belangrik dat die tegnologie op ’n gebalanseerde en doelgerigte manier aangewend word.

Ter afsluiting

’n Hoë geletterdheidsvlak (skriftelik, visueel én digitaal) bemagtig ons om toegang tot kennis te verkry, tot die land se ekonomiese vooruitgang by te dra, en voluit aan die kulturele en sosiale lewe deel te neem. Dit help ons die nodige vaardighede aanleer om doeltreffende werkers te wees. Boonop is ʼn behoorlike leeskultuur ’n belangrike manier om die land se taal- en kulturele diversiteit te handhaaf en te bewaar.

“Boeke is die stilste en standvastigste vriende,

die toeganklikste en verstandigste raadgewers, en

die geduldigste onderwysers.”

Charles W Eliot


Tags

lees, Leesgids, Leesstrategie, SOS


Lees meer...

Storielees tuis

Storielees tuis