Leesgids ten doel om leesvlotheid binne een geslag te verbeter

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Vrydag ʼn omvattende Leesgids bekendgestel om te help met die enorme agterstand wat Suid-Afrikaanse leerders op hierdie terrein ondervind. Hierdie gids is spesifiek ontwikkel om onderwysers, skole en ander belanghebbendes te ondersteun om leesbegrip te verbeter. Die Leesgids is in samewerking met die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) gepubliseer. Verskeie kenners op die gebied van leesonderrig het as medewerkers opgetree, o.a. prof. Johan Anker, dr. Ria Taylor, dr. Melodie de Jager, Almaret du Toit, Rita van den Berg en Wilna van Rooyen, asook drie taalspesialiste verbonde aan die SOS.

“Ons het hierdie Leesgids aangepak om te kyk of ons die leesvlotheid en leesbegrip in ons land kan verbeter onder ons Afrikaanse kinders en om te kyk of ons dit binne een geslag kan bewerkstellig,” verduidelik Marnelda de Beer, projekleier verbonde aan die SOS.

Die Leesgids bevat riglyne en strategieë om leesbegrip te bevorder en bied praktiese hulpmiddels en wenke vir die ontwikkeling van ‘n stimulerende leesomgewing. Dit fokus ook op die implementering van bewese onderrigmetodes wat lei tot beter leesbegrip by leerders. Die SOS glo dat die gids ‘n waardevolle hulpbron vir die ondersteuning van leerders se leesontwikkeling sal wees.

Volgens die jongste Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS 2021), het Graad 4-leerders in Suid-Afrika die swakste leesvermoë ter wêreld, met 8 uit 10 leerders (oftewel 81%) wat nie in staat is om met begrip te lees nie. Wes-Kaapse leerders het die hoogste tellings in die land behaal – met ʼn gemiddeld van 363. Volgens David Maynier, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, is dit egter steeds kommerwekkend dat daar ʼn daling van 14 punte was teenoor 2016 se PIRLS-uitslae en dat hulle daarom reeds beslissende stappe geneem het om die Covid-19-leerverliese in spesifiek die Grondslagfase om te keer.

“Die Wes-Kaap moes planne maak om lees te verbeter. Ons het besef dat as ñ kind nie kan lees nie, dan gaan hy ook nie kan leer nie. So in 2020 het die WKOD ñ leesstrategie uitgerol na al ons skole toe en al ons intervensies wat ons tans doen is gekoppel aan hierdie leesstrategie. Ek dink ons grootste intervensie waarmee ons tans besig is, is die uitrol van ñ sintetiese klankbenadering na al ons skole toe,” sê Almaret du Toit, Hoof Onderwyskundige: Kurrikulum Ontwikkeling verbonde aan die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD).

Minister Angie Motshekga het tydens ʼn toespraak vandeesweek weereens verwys na die Departement van Onderwys (DBO) se planne om ʼn Nasionale Leesprogram van stapel te stuur. Hierdie belofte is egter al etlike jare oud en ʼn duidelike plan is nog nie ter tafel gelê nie.

Prof. Johan Anker, buitengewone professor aan die Universiteit Stellenbosch, sê dit is alle onderwysers se verantwoordelikheid om taal te onderrig, ongeag hulle vakgebied. Verder benadruk hy die belangrikheid daarvan dat projekte soos dié van die SOS, nasionaal gevestig moet word.

“Dan is daar verslae wat ook vir ons sê as ons kan deel wat ons weet, soos provinsies wat goed doen, soos distrikte waarin opleiding plaasvind, en ñ groot klomp skole waar dit baie goed gaan. As ons dit nasionaal kan deel, as ons kan begin om groeperings te vorm, en met kollegas te skakel en gesprek te voer. Daar is ñ storie wat sê, “reading shouldn’t be silent”. Die gesprek wat moet plaasvind tussen die onderwysers van verskillende provinsies, verskillende distrikte en wat gedurig moet opgevolg word, want op die ou end is die hart van die klas die onderwyser.”

De Beer sluit af: “Ons wil bitter graag hê dat elke skool, elke ouer en elke onderwyser hierdie Leesgids sal gebruik, dit daar buitekant sal gaan haal, terugbring in die klas en hierdie leesonderrig op hierdie manier vir hulle kinders oordra sodat ons die leesvlotheid kan verbeter.”


Tags

lees, SOS


Lees meer...

Storielees tuis

Storielees tuis