Lesufi verantwoordelik vir chaos met plasings van leerders

2020-01-16

Die plasing van leerders in Gauteng se skole het vanjaar weens die sentralisering daarvan, in totale chaos ontaard.


Terwyl mnr. Panyaza Lesufi, Gauteng se LUR vir onderwys, vol selfvertroue verwys na die 99,2% leerlinge wat in die provinsie geregistreer is, is daar steeds die 0,8% graad eens en graad agts wat nie kon uitsien na ‘n nuwe skooljaar of enige voorbereidings tref nie. Hulle weet op die eerste skooldag steeds nie waar die aanlynstelsel hulle geplaas het nie, al het hul ouers maande gelede aansoek gedoen! Vir hulle is dit ‘n reuseprobleem: al sou die appèlproses vandag afgehandel word, bestaan die einste rede waaroor ouers appèl aangeteken het, steeds. Leerders word geplaas by skole meer as 40km van hul huis af, Afrikaanse leerders word in Engelse skole geplaas (óf vice versa), óf leerders kry nie plek in die skool waar hulle ouer sibbe reeds skoolgaan nie.


Volgens mnr. Lesufi is skole vol en beskuldig hy voorts ouers daarvan dat hulle te kieskeurig oor skole vir hulle kinders is. Melanie Buys, Hoof van Ontwikkeling by die Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê: “Ouers stem met hul voete. Geen ouer wil sy kind inskryf in ‘n skool met ‘n bewese rekord van swak onderrig, ellendige dissipline en afwesige personeel nie. Dit is faktore onder mnr. Lesufi se beheer wat hy eers moet regruk voordat hy nuwe skole bou.”


Lesufi self sê: daar hoef nie meer skole gebou te word nie, maar ouers wil nie na dié wat volgens hom beskikbaar is, gaan nie.
‘n Skool is net so sterk soos die onderwysers wat hulle tyd en kennis daar inploeg.


Die Bokgoni Tegniese Skool in Atteridgeville is ‘n sprekende voorbeeld daarvan dat sterk leierskap ‘n skool se akademiese prestasie kan omkeer. Die skool was een van dié met die laagste slaagsyfers in 2017 en is vanjaar aangewys as die beste “township”-skool na hulle verlede jaar ‘n 100% slaagsyfer behaal het. Dit is te danke aan ‘n nuwe, dinamiese skoolhoof wat die leisels daar oorgeneem het.


Terwyl nuwe, duur skole met moderne fasiliteite en toegang tot die nuutste tegnologie, die ideaal is, staan daar heelwat skole leeg terwyl ander afgebrand word. Die departement se plan om leerders te akkommodeer deur hulle tydelik in die Curro-groep se skole te plaas, is verregaande. Belastingbetalers gaan weereens hiervoor moet pa-staan en ouers gaan ten duurste skooluniforms aankoop al word hulle kinders later na ‘n ander skool oorgeplaas.


Mnr. Lesufi se magspel ontneem leerders aan die reg tot gehalteonderrig en neem boonop nie die sielkundige impak daarvan in ag nie. Die skool wat naaste aan ‘n leerder se huis is, moet telkens die beste skool wees om by te woon. Daarom moet daar baie dringend aandag gegee word aan opleiding van onderwysers en die instandhouding van bestaande infrastruktuur om sodoende aan elke leerder in Gauteng ‘n opvoeding van topgehalte te bied.


Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Gesels met ons