deur Marnelda de Beer
Hoof van die AGV: SOS
“My fellow South Africans” laat my keel toe trek. Dit is nie as gevolg van die virus nie, maar as gevolg van die aankondiging: “Schools will start on 15 February.” ʼn Luide gejuig klink uit my tiener se kamer op. Die vreugde duur net oomblikke, want die besef dat hy sy maats nog later gaan sien, dring skielik tot hom deur.
Vir ʼn onderwyser is die aankondiging slegte nuus en vir ʼn grondslagfase-ouer (spesifiek ons ma’s) is dit ʼn ramp. Jou graadeentjie wag al sedert Desember om die nuwe uitdraaikryte oop te maak. Die Pritt-buisie brand ʼn gat in die penneblik en die klei moet bevoel word. “Ek kyk net of dit nog sag is”, is die verweer.
Die groot opgewondenheid en die slapies wat afgetel word hang soos ʼn dag-oue partytjieballon aan die deur. Alles word weer weggepak en Ma se angsvlakke styg.
As ervare grondslagfase-juffrou, wil ek sê: Grondslagfase-ouers kan ontspan. Dit is normaal om vrese te hê, omdat die skool eers drie weke later open, maar wees gerus, jou kind is in die beste hande van die onderwysprofessie. Grondslagfase-juffrouens is uiters bekwaam en die meeste van hulle beskik oor jarelange ondervinding.
Hierdie juffrouens was reeds op 15 Desember gereed vir hulle nuwe haasbekkies. Alles in hulle klasse is gereed. Jou kind se naam is reeds op ʼn tafel, teen die verjaarsdagmuur, op ʼn skrif of op ʼn roomysbak aangebring. Sy het die weke wat verlore is, gaan herbeplan, sodat die kurrikulum volledig aangebied gaan word. Sy is ʼn spesialis op haar gebied en weet presies wat haar nou te doen staan.
Jou Graad 1-kind beleef nie angs omdat hy nie skool toe kan gaan nie. Hy ervaar teleurstelling omdat hy nie sy nuwe skooluniform kan aantrek óf sy nuwe tas kan sleep óf sy nuwe Pritt-buisie kan gebruik nie. Indien hy angstig is, kan dit van jou as ouer afkomstig wees, omdat jy dit onwetend op jou kinders oordra. Haal drie keer asem … as jy nog bekommerd is dat jou kind sal agterraak, kan jy die volgende dinge doen totdat die skole open:
- Sluit by die Wolkskool aan en laat jou Graad 2-kind die Graad 1-inhoud se laaste 3 weke se Slimboeke doen. Doen ook die assesseringstaak en herroep so sy kennis van die vorige jaar. Sy nuwe juffrou sal dit baie waardeer. Doen ook dieselfde indien jy ʼn Graad 3-kind het. Hulle kan weer Graad 2 se inhoud hersien. Die Wolkskool is ʼn fantastiese platform wat die hele jaar benut kan word.
- Nuwe graad 1-maats moet nie nou al wegspring en Graad 1-werk aanpak nie. Dit is ʼn gespesialiseerde graad en die juffrouens sal vir seker nie iets belangriks uitlaat nie. Daar is nog 187 van die 200 skooldae oor. Dit is genoeg tyd om álles te leer.
- Lees boeke vir jou kind. Laat hulle die storie terugvertel. Let op na die volgorde van gebeure.
- Vra watter letter hy eerste, laaste en in die middel hoor as jy ʼn drieletterwoord vra, bv. mat.
- Laat hy buite speel, bal skop, tou spring en bollemakiesie slaan.
- Maats wat Graad RR en R toe gaan, kan ook net speel en alles ontdek.
- Gesels baie met jou kind. Verryk sy woordeskat en luister met aandag as hy met jou praat.
Reël ʼn Zoom-kuier met sy maats, sodat hulle kan sosialiseer. Leer hom of haar om gereeld hande te was. Maak hulle weer opgewonde om terug skool toe te gaan. Stel ʼn nuwe kalender op en tel die slapies weer af. Wees rustig in die wete dat daar ʼn Hoër Hand is wat alles vashou en alles ten goede laat meewerk.
Haal drie keer diep asem … asem in … asem uit … asem in … asem uit … asem in … asem uit…