deur Paul Maritz, Bestuurder: Solidariteit Jeug
Toe ‘n jong William Shakespeare aan die einde van die 16de-eeu aan die mense van Stratford-upon-Avon bekend gemaak het dat hy op pad na Londen is om ‘n kans te waag en ‘n loopbaan as skrywer na te jaag, het baie van die dorpenaars dit vreemd gevind. Dit was vreemd juis omdat dit amper by uitstek so was dat ‘n seun presies die beroep sou volg wat sy pa nagejaag het. Shakespeare se pa was ‘n suksesvolle handskoenmaker, vir wat wil hierdie jong man dan so ‘n geleentheid deur sy vingers laat glip?
Dinge het wel intussen effens verander, en in 2021 sal niemand jou meer vreemd aankyk as jy ‘n ander beroep as jou ouers najaag nie. Dit is ongelukkig egter nog steeds so dat baie jongmense hul loopbaankeuses op grond van slegte of onvolledige inligting maak. Kinders neem dalk vakke waarin hulle nie belangstel nie, of waarvoor hulle geen aanleg het nie, omdat al hulle vriende daardie vakke neem, of omdat hulle ouers dit voorstel of voorskryf. Matrikulante skryf dalk in vir ‘n bepaalde graad, omdat hulle van ‘n spesifieke universiteit hou, of omdat hulle dink dat ‘n spesifieke beroep lekker is, sonder om werklik navorsing daaroor te doen.
Juis omdat vakkeuses of loopbaanbesluite dikwels op swak inligting berus, het Solidariteit Jeug dit goedgedink om ‘n Loopbaankompas te ontwikkel – ‘n instrument wat, soos die naam sê, vir jongmense rigting gee in die stormwaters van hul loopbaanreis.
Die volgende deel van die Loopbaankompas gee ‘n netwerk van bedryfsielkundiges waarmee Solidariteit ‘n spesiale tarief beding het. Die gebruiker van die Loopbaankompas kan die area in Suid-Afrika kies waar hulle graag getoets wil word, of aandui dat hulle eerder ʼn aanlyn toets wil aflê. ʼn Lys van die kundiges in hul omgewing, of die kundiges wat hul praktyke aanlyn bestuur, word dan gegee. So kan die gebruiker van die Loopbaankompas goeie en betroubare loopbaaninligting bekom, sonder moeite en sonder om lank te moet soek na bedryfsielkundiges of hul praktyke.
Ons hoop dat hierdie instrument jongmense met kennis kan bemagtig. Daar is min gekwalifiseerde mense in Suid-Afrika, en binne die Afrikaner-kultuurgemeenskap is daar maar ‘n handvol werkende mense. Elke jongmens moet so produktief as moontlik wees as ons die veranderende wêreld, en die uitdagings en geleenthede van die vierde nywerheidsrewolusie gaan oorleef, of wil aangryp.
Voltooi die Loopbaankompas vandag nog. Klik hieronder, skep ‘n gratis profiel, en spring weg!
0 comments