President Ramaphosa se aankondiging dat skole vanaf 18 Maart tot 14 April sluit, skep die ideale geleentheid vir onderwysers om iets nuuts in hulle opleidingsproses te probeer.
‘n Goeie beginpunt is om tydens die vakansie jou eie video’s te maak. Leerders wat nou by die huis sit, kan op datum bly met hulle werk deur na die video’s te kyk (keer so jou klaskamer op sy kop). Mammas en pappas by die huis kan ook makliker touwys raak met konsepte as hulle help met huiswerk.
So waar begin jy? Wat gaan dit kos?
Hier is drie maklike maniere wat jou kan help om sommer môre al jou eie video’s te begin maak. Hopelik gaan dit net ‘n bietjie van jou tyd kos.
Twee van die drie planne benodig toerusting wat ek vir onder R300 op Takelot gekoop het. (Jy gaan dus ietsie lekker vir jouself ook moet bysit, sodat jy vir gratis aflewering kan kwalifiseer.).
Plan 1: Stem en hande
Toerusting:
- Mikrofoonstaander: R200
- Selfie-stok: R 65
- Jou onderwyservaring
Stap 1: Maak die selfie-stok aan die mikrofoonstaander vas sodat jou foon op die selfie-stok kan rus. Die foon moet omtrent 40cm bo jou tafel wees. Maak seker die mikrofoonstaander raak nie aan die tafel nie, want die vibrasies, sou jy op die tafel skryf, kan die foon laat skud. Maak seker jy het genoeg natuurlike lig, sodat daar nie aardige skaduwees is nie.
Stap 2: Sit die werk wat jy wil behandel op die tafel onder jou foon.
Stap 3: Maak die kamera-funksie van jou foon oop en stel dit om video op te neem.
Stap 4: Probeer om jou foon se fokus-funksie van die kamera te sluit, sodat dit nie gedurende die video verander nie.
Stap 5: Begin die video opneem. Praat rustig terwyl die foon afneem wat jy die les neerskryf.
Stap 6: Kyk gereeld of jou geskryf nog binne die perke is van wat die foon kan opneem.
Stap 7: Sodra jy klaar is, stop die opneemfunksie.
Stap 8: Deel die video met jou klas op jou gekose platform (Facebook/Whatsapp).
Plan 2: PowerPoint-opname
Jy kan jou Powerpoint-voorlegging opneem met of sonder kommentaar. Jy kan jouself ook in die vertoning insit met jou webkamera.
Toerusting:
- Skootrekenaar
- Powerpoint-program
Stap 1: Maak Powerpoint oop
Stap 2: Klik op Slide show
Stap 3: Klik op Record slide show
Stap 4: Klik op Record; aktiveer of deaktiveer die klank op jou rekenaar se kamera deur onder op die skerm te klik.
Stap 5: Sodra jou opname klaar is, klik die stop-knoppie.
Stap 6: Maak die bladsy toe.
Stap 7: Klik op:
- File
- Export
- Create video
- Export
Stap 8: Kies die kwaliteit wat die video moet wees en waar dit gestoor moet word.
Stap 9: Deel die video met jou leerders.
Plan 3: Voor-in-die-klas-video
Hierdie is die maklikse van al die video’s. Jy begin deur jou kamera of foon agter in die klaskamer op te stel. Maak seker dit is op jou gerig sodat jy jouself kan afneem terwyl jy die werk verduidelik.
Toerusting:
- Mikrofoonstaander: R200
- Selfie-stok: R 65
Stap 1: Plaas die selfie-stok op die mikrofoonstaander sodat dit regop staan.
Stap 2: Kry ‘n leerder om die video te begin en as jy klaar verduidelik het, die video te stop.
Stap 3: Laai die video van jou foon af en deel dit met die leerders.
Ek hoop die paar eenvoudige planne inspireer jou om jou eie video’s te begin maak en so leerders te help om hulle volle potensiaal te bereik.
In die volgende blog wys ek jou ‘n paar maniere hoe jy jou video’s met jou leerders kan deel.